"Oranjegekte" en sakevernuf

  • 0

’n Groot deel van die Nederlandse stede is besig om baie vinnig in oranje te verkleur. Dit gebeur in ooreenstemming met die koms van die “WK”-voetbal. Byna alle volkskroeë is volledig in oranje ingepak met die Nederlandse vlag daarby en slagspreuke soos “Hup Holland Hup!” Dit geld ook vir strate oorspan met oranje vlaggies, boomlanings met die boomstamme in oranje ingepak en vensters aan die straatkant vol teddies, ballonne, balle, baniere, hoedjies, glasies, poppe ... Alles waaraan jy maar kan dink. Dit laat mens verstom. Die Nederlandse sakevernuf tussen al hierdie malligheid tref my. Waar daar geld is om te verdien, daar sal jy waarskynlik ’n Nederlander aantref.

Daarom is dit nie vreemd om verskeie kere per dag die vuvuzela te hoor nie. Dit word hier versprei deur die TNT-posdiens. Dat die onaardige, monotone geluid wat uit ’n vuvuzela voortkom die aanleiding was vir klagtes van geraasbesoedeling in Suid-Afrika, doen geen afbreuk aan die gewildheid daarvan nie. As getroue ondersteuner van die Nederlandse elftal moet jy minstens twee dinge in jou kas hê: ’n vuvuzela en ’n oranjekleurige T-hemp.

Ook hieruit maak ’n jong ontwerperspan saam met Total goed geld. Jy kan by Total in Nederland een van vyf oranje T-hemde vir jouself bestel, elke hemp met ’n Afrikaanstalige slagspreuk daarop gedruk. Die slagspreuke is: “Holland is die beste!”; “Tyd vir sokker makietie”; “Yô! Eksie-Perfeksie” en dan twee T-hemde met taalfoute daarop: “Baie goed afrigter” in plaas van “goeie” en “Ons gaan vanaand klop” sonder ’n voorwerp “julle” of “hulle”. Telkens is die Nederlandse vertaling daarby in kleiner lettertjies gedruk. Hierdie Afrikaanstalige T-hemde word op groot baniere en in brosjures geadverteer. Dis jammer dat hulle nie seker gemaak het van hulle Afrikaans nie. Tog is dit duidelik dat Nederlanders gefassineerd is deur Afrikaans, veral as hulle dit ook nog kan koppel aan sakevernuf.  Ek het vir myself een daarvan bestel.

Tot my stomme verbasing steek nog ’n Suid-Afrikaanse voorwerp sy kop onverwags uit hier in Nederland: die beskilderde en uitgesnyde makarapa, of mynwerkershelm. Ek onthou baie duidelik my verontwaardiging oor ’n onderhoud enkele maande gelede op televisie. Daar’s ’n onderhoud gevoer met die ontwerper van die eerste makarapas êrens op die Kaapse Vlakte. Die makarapa was dadelik so gewild dat hierdie man voortgegaan het met sy produksie ongeag ’n verbod daarop deur FIFA. Nou maak en versprei Heineken dit. Het hulle die verspreidingsregte by FIFA gekoop? Een “multinational” voed ’n ander “multinational”. Geld maak geld. Wat het geword van die oorspronklike bedenker van die makarapa? Het hy darem ’n deel van die verspreidingsreg gekry? Ek betwyfel dit ten sterkste! My nekhare staan orent. Op die stasie in Tilburg stap talle ondersteuners van die trein af met so ’n Heineken-makarapa op die kop. Hulle is terug van Amsterdam. Dit was die laaste wedstryd van die Nederlandse elftal voor hulle vertrek na Suid-Afrika.

En wie het die Soccer City-stadion in Soweto gebou? ’n Nederlandse besigheid! Die BAM Groep was onder leiding van die tegniese bestuurder Stan Aarts. Ek hoef nie te noem wat die kleur is van byna al 90 000 stoele in die stadion is nie, al sê Aarts dis die kleur van die ondergaande son!

Ek hoop vurig dat Suid-Afrikaners baie vinnig sakevernuf, geduld, deursettingsvermoë en onderhandelingsvaardighede sal aanleer. Dit is om al die kreatiewe energie waaroor hulle reeds beskik, self te bemark. Om dit nie te laat afneem deur wie ook al nie. Daarna het ek ook verwys in ’n geluidsfragment op www.scoop.elementweb.nl

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top