Oproep om referate: Ontlaering 2020

  • 2
Eerste oproep om referate

Transnasionale pedagogiek: Afrikaans & X

Teorieë rondom literêre transnasionalisme bied kritiese terminologie vir die bespreking van die veranderende verhoudinge tussen beide nasionale letterkundes (Jay, 2010), en tussen nasionale letterkunde(s) en globaliseringstrominge (Morgan, 2017).

Beide hierdie sienswyses word onderlê deur ’n bewuswording dat literêre sisteme nie meer knus binne die grense van die nasie-staat ondersoek kan/moet word nie. Hierteenoor word sulke sisteme eerder gesien as organies en veelvuldig, en as ’n netwerk wat voortdurend reageer op sosio-politiese en kulturele strominge en bewegings.

’n Bruikbare definisie van transnasionalisme is: die punt waar “two or more geo-cultural imaginaries intersect, connect, engage with, disrupt or conflict with each other in literary form” (Morgan, 2017:14).

In opvolg van die eerste reeks Ontlaeringaangeleenthede by die Universiteit van Pretoria en Noordwes-Universiteit, wat produktiewe gesprekke oor die wisselwerking tussen Afrikaanse letterkunde, pedagogiek, en burgerskap(pe) ten doel gehad het, nooi ons graag medewerkers uit om voorleggings vir referate en paneelbesprekings in te stuur vir ’n kollokwium in Januarie 2020 met die transnasionale pedagogiek van Afrikaanse letterkunde as tema.

Vrae en onderwerpe wat moontlik onder bespreking kan kom, sluit in:

  • Watter uitgangswaarde en beperkinge onderlê huidige konseptualiserings van transnasionalisme?
  • Hoe (en waarom) manifesteer die transnasionale in die onderrig van Afrikaanse letterkunde?
  • Wat word gewin, en verloor, in die vergelykende studie of onderrig van Afrikaans en X?
  • In watter mate het Afrikaans in produktiewe spanning verkeer met Suid-Afrikaanse letterkundes in Engels, Xhosa, Zulu, en ander?
  • Wat is die voortdurende rol van literêr-kulturele organisasies soos die SAVN, NKN, Nederlandse Taalunie, en Kaapse Forum? 
  • Wat is die gebruikswaarde van die terme nasionale letterkunde, globale letterkunde, en wêreldliteratuur? 
  • Hoe skakel die dekoloniseringsdiskoers met die soeke na Afrikaans se wortels in Afrika, Asië, én Europa? 
  • Wat is die simboliese, maar ook realistiese en politiese, implikasies daarvan om Afrikaans as liminale, transnasionale sisteem te bedink?

..............

Voorleggings van tot 300 woorde word ingewag teen die einde van September 2019, by unlaagering@gmail.com 

Ons nooi veral opkomende akademici, en navorsers en dosente wat in België, Nederland, Pole, Aruba, VSA, en Namibië met/oor die Afrikaanse letterkunde werk om deel te neem.

..............

Oor die Ontlaeringprojek:

Transnasionale pedagogiek: Afrikaans & X is deel van ’n groter, meerjarige projek wat geleenthede bied om die pedagogiek van Afrikaanse letterkunde te herverbeel. Die 2020 kollokwium word gehou op die Qwaqwa-kampus van die Universiteit van die Vrystaat, geleë in die Phuthaditjhaba bergreeks.

Die keuse om die kollokwium juis hier te hou, versinnebeeld iets van die beweegrede agter die Ontlaeringprojek: om die historiese (en huidige) magsongelykhede en ongeregtighede inherent tot taalkontaksituasie (en in die kontak tussen literêre sisteme) te erken, maar tegelyk toekomsgerigte en positief-produktiewe moontlikhede en saamwerkgeleenthede uit te wys.

..............

Verwysings

  • Morgan, P. 2017. Literary transnationalism: A Europeanist’s perspective. Journal of European Studies, 47(1), 3-20.
  • Jay, P. 2010. Global Matters: The transnational turn in literary studies. New York: Cornell UP

 

Lees ook 

Ontlaering: ’n Herverbeel van die pedagogiek van Afrikaanse letterkunde

  • 2

Kommentaar

  • Dis die oninteressantste, verveligste en oninspirerende onderwerp wat ek nog aanskou het. Het julle nie beter onderwerpe om in die oop domein te gooi nie? Daar is regtig meer relevante besprekings om uit te lok!

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Die Voortrekkers het laers getrek om hulle lewens en eiendom te beskerm. Ontlaering impliseer letterlik dat die Afrikanerdom en Afrikaans tans maar aan die gevaar van vernietiging blootgestel kan word. Waarom? Omdat Afrikaners en Afrikaans polities byderwets as verwerplik voorgestel word. Ontlaering kan in selfs groter mate as wat reeds die geval is mense ontmoedig om vir die belange van Afrikaners en Afrikaans te stry. Wat in die geledere van Afrikaansdosente baie nodig is, is dat hulle die moed van hulle oortuiging behoort te he om op elke moontlike manier te stry vir die behoud en uitbouing van Afrikaans in 'n vorm wat so suiwer moontlik is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top