Oprah, Dr Phil en Deepak Chopra glo in spiritualiteit, Wouter

  • 0

Hello Wouter

Ek vind die spirituele konsep onsamehangend en nikseggend, ’n struikelblok vir rasionele denke in veel meer as net die veld van geloof. Oprah, Dr Oz, Dr Phil, Deepak Chopra en stringe bewegings en idees rus almal in ’n grotere en mindere mate op die idee van spiritualiteit, ’n geloof in dinge waarvoor daar eenvoudig geen rasionele regverdiging is nie. Spiritualiteit staan as die ’champion’ van onkunde, onkritiese en lui denke. My weiering om erkenning te gee aan die spirituele aspekte van geloof sluit aan by dit en my ateïsme is ’n newe-effek daarvan.

Dit kan, soos jy uitwys, gesien word as lyne wat ateïsme trek teenoor die meer sober benaderings tot geloof wat die gelowiges op voetsoolvlak ignoreer en ek dink jy is heeltemal korrek. Ateïste sanik soms onophoudend oor wat ’n poephol God is, ietwat op die trant van ’n tiener wat een van sy ouers haat. Die wetenskap en rasionele, kritiese denke word dan gebruik om God pakslae te gee. Ek is self skuldig aan sulke gedrag. Wanneer ek wegbeweeg van hierdie houding vind ek heelwat in gemeen met die agnostici, meer liberale gelowiges, voetsoolvlak gelowiges en selfs fundamentele Christene, sonder om my opinie van spiritualiteit weg te steek.

Dis nie ’n oplossing nie en dalk nie eers ’n goeie begin nie, maar dit maak die lewe effens meer aangenaam ... dis nou tot ek weer my moer strip vir Kobus!

Mooibly

Gilgamesh

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top