
...
Hierdie spesiale soldate, wat operateurs genoem word, was van wêreldklasgehalte. Hulle was uitsonderlike mense wat nie geskroom het om hul lewens op te offer vir Afrika nie. Met ’n menigte televisiereeks oor spesmagte mag iemand dalk dink dat hierdie boeke net nog ’n draaiboek kan wees vir een van een van hierdie reekse. Maar wat ’n verrassing!
...

Titel: 1 Recce, volume 3, onsigbaarheid is ons krag
Skrywer: Alexander Strachan
ISBN: 9780624088851
Uitgewer: Tafelberg
Ja, daar het ek dit nou! Om jou eie menings te hê is goed, gesond en demokraties. Maar om dit sonder die nodige kennis te lug, is dom.
Die moeilikheid met wysheid is dat ’n mens nie weet dat jy nie weet nie. Ek het my mond vol gehad oor die bosoorlog, net om nou met ’n bloedbek te bieg dat ek honderd en een persent boggherol daarvan geweet het nie. Ek was net nog een van die visse wat in die stroom van onkunde oor hierdie onderwerp geswem het. My opinie van die soldate wat deel was van hierdie operasies, was ongegrond en onwetend stupid.
Dank Vader vir boeke! Alexander Strachan het nie net my oë laat oopgaan nie, maar my mond is seker steeds gapend oop.
In sy derde en finale boek van die trilogie 1 Recce het hy my by wyse van spreke “basiese opleiding” gegee. Ek het nou ’n amperse seer hart oor die twak wat ek al kwytgeraak het. Sonder om polities te werk te gaan, het hy my meesterlik in army boots laat klim. Ek kon hierdie boek eenvoudig nie neersit nie. Vryheid van spraak is nie iets wat jou toelaat om los en vas te sê wat jy wil nie. Daar rus ’n yslike verantwoordelikheid in enige vorm van vry wees. Om te wees waar ons is, het daar baie in die agtergrond plaasgevind waarvan ek minder as niks geweet het nie.
Zander, wat self ook ’n recce was, het “opdrag gekry” om die recces se storie te vertel, goed wat as geskiedenis geleer behoort te word.
Hierdie spesiale soldate, wat operateurs genoem word, was van wêreldklasgehalte. Hulle was uitsonderlike mense wat nie geskroom het om hul lewens op te offer vir Afrika nie. Met ’n menigte televisiereeks oor spesmagte mag iemand dalk dink dat hierdie boeke net nog ’n draaiboek kan wees vir een van een van hierdie reekse. Maar wat ’n verrassing! Ek kan net van die laaste boek praat, omdat ek nog nie die eerste twee boeke gelees het nie. Ek beveel dit sterk aan dat jy al drie hierdie boeke lees.
In 1969 het hierdie operateurs gedoen wat ons nou sien, met die tegnologie wat tóé tot hulle beskikking was. Nagvisie is seker die naaste aan vandag se tegnologie wat hulle gehad het. Geen selfone of GPS was beskikbaar nie. Net kaarte en kompasse en toewyding tot ’n klomp harde werk. Verkenning, sabotasie en oorlog was hierdie manne se werk.
Saam met Unita het hulle ’n volskaalse oorlog in Afrika afgeweer. Jy hoor my reg: saam met Unita.
Die recces was fisiek, emosioneel en sielkundig opgelei om teen baie sterk magte weerstand te bied. Hulle het operasies ingeoefen, en is eers, net voordat hulle ontplooi is, ingelig wat van hulle verwag word.
Daar is aan alles gedink – beserings, beperkings, omgewing en moontlike gebeurlikhede wat kon maak dat die operasies nie uitgevoer kon word nie.
Daar was deurentyd bystand, maar dit was nie naby nie. Hulle moes alles in gedagte hou, ook die spoed waarteen hulle beweeg, en watter afstand en in watter rigting hulle moes gaan in die mees onbegaanbare plekke denkbaar. Dit moes alles onopsigtelik plaasvind, sodat die uitkoms van die operasie nie gekompromitteer word nie.
Indien daar vermoed is dat daar enige moontlike blootstelling was, moes hulle onttrek, en alles weer bespreek.
Plofstof, ammunisie en oorlog was deel van die recce se DNS.
Jy sal vergewe word indien jy dink hierdie manne was die kluts kwyt. Hulle het geweet dat alles op die spel was, en dat môre geen waarborg is nie. Hier en nou is wat hulle gehad het, en natuurlik ure, dae en maande se oefening. Dit was ’n baie klein groepie mense wat gedoen het wat ’n massa soldate nie gedoen kon kry nie.
1 Recce lees soos ’n krimmie, soos fiksie.
Dit was ook ontnugterend, elke keer wat ek die boek moes neersit, om te besef dit is wat gedoen is. Regtig-egtig. En om alles te kroon, in die tyd waarin dit gebeur het.
Ons het eers in 1975 televisie gekry, toe hierdie manne al ondenkbare take uitgevoer het met dit wat tot hulle beskikking was. Die toewyding, presisie, dissipline en respek is ongeëwenaar. Hulle is voorberei om beserings en tekorte te bowe te kom.
En hier kla ek oor beurtkrag …
Alles is egter ook nie net bloed, sweet en derms nie. Daar is baie humor in hierdie verhale. Maar meer as dit, daar is baie waarhede waarvan ek niks sou geweet of verstaan het nie. Daar is propaganda wat maak dat mens baie sterk negatiewe menings het oor die bosoorlog.
Ek sal jou selfs uitdaag om hierdie trilogie te lees. Jy sal nie kan sonder om ’n stukkie menswees en verstaan te kry van hierdie era in ons Suid Afrikaanse geskiedenis nie.
Jy mag dalk net die kind saam met die badwater wil uitgooi sonder mense soos Alexander Strachan se uitnemende skryftalent en kennis. Hy het ses jaar lank aan hierdie reeks gewerk. Vir die derde boek het hy tagtig onderhoude gevoer om dit feitelik korrek te kan oorvertel.
Buiten dat dit heerlik was om die boek te lees, was dit vir my ’n openbaring.
Met dit wat tans aan die gang is tussen Rusland en Oekraïne, is daar nie ’n beter tyd om meer van ons eie oorloë te leer nie.
Ons het baie helde wat onsigbaar tussen ons leef sonder enige erkenning. Ek salueer elkeen van julle met meer as een traan in my oë. Dankie.
Onderhoud met Alexander Strachan.

Hier is jou naaste tak van Bargain Books
As jy nie die boek sien nie, vra gerus die personeel om dit te bestel.


Kommentaar
Dankie Anne-Marie. Jy skryf nogal baie oor jou eie idees oor die Bosoorlog, wat soos ek verstaan, ietwat verander het oor die jare. Ongelukkig is ek nie vertroud met wat jou idees presies eens was nie, net dat dit skynbaar 'negatief' was. Die vraag wat nou by my opkom, is: is jou indrukke van die oorlog nou deesdae 'positief'? Of miskien moet ek vra, moet mens 'positief' voel oor ’n saak om ’n belangstelling daarin te hê? Jy stel ook voor dat die geskiedenis van die recces op skool onderrig word (dit sal nooit gebeur nie; die regering van die dag wil net soos die Nasionale Party desjare geskiedenis op skool aanwend om hulle eie agendas te bevorder).
Ek weet ook maar min van die oorlog maar lees so nou en dan iets. Het al so klompie boeke oor die jare gelees en die gevoel wat ek van verskeie mense gekry het, veral van my oorlede vader, wat ook dienspligtig was, is dat die Grensoorlog maar grootliks pure verniet was. Niemand wen ’n oorlog nie, hoor ek hom vandag nog in my geestesoor.
Had ek maar tyd vir al die WONDERLIKE boeke op aarde!!!
Hi Barend, ek dink ons het nog 'n leeftyd nodig om al die boeke te kan lees. Ek glo steeds oorlog is onsinnig. Wat ek nie geweet het nie, was dat ons reeds van 1969 saam met Unita gestaan het. Rusland het op daardie stadium wapens verskaf om Unita aan te val. Ek voel soos jy dat ons met hope halwe waarhede gebombardeer is. Dit is na my mening intellektuele oorlog. As die hele waarheid bekend gemaak is, sou ons waarskynlik nie met hierdie bitter stroom van haat, as mede-landsburgers gewroeg het nie. Oftewel minder daarvan. Zander het versoek dat daar geensins na politiek verwys moet word nie. Daarom het ek nie my persoonlike siening rondom dit gegee nie. Hy wou die feite weergee in die 1 RECCE-trilogie. In my perfekte droom-wêreld is daar nie oorlog, ongeskoolde mense en hongersnood nie. Ook geen korrupte regering nie.
Aan almal wat wonder of hierdie oorlog verniet was: eerstens is enige oorlog verwoestend en onmenslik en iets wat vermy moet word. Ongelukkig gebeur dit egter steeds, soos nou, ver noordoos van ons. Waarom gebeur dit? Hoofsaaklik omdat politici OF nie daarin slaag om konflik te voorkom nie, OF dit doelbewus veroorsaak. En dan word mense teen hulle wil daarin gedompel. So was dit ook met ons wat diensplig moes doen. In my boek daaroor "Omega, oor en uit" (2016, Tafelberg), het ek daaroor uitgewei. Hier sal ek volstaan met: ons oorlog was bedoel om gewapende oorname te stuit, en sou dit gebeur, was SA lankal in 'n veel erger posisie as nou. Die geskiedenis wys ons dat wanneer 'n onvoorwaardelike oorname plaasvind, die verloorders baie sleg daarvan afkom. Ons kan vandag oor baie dinge kla, maar ons kan nog kla. As die kommuniste oorgeeem het, sou ons dit nie eens mag doen het nie. Lees oor hoe hulle in Oos-Europa, China, Kambodja, Rusland, ens., opgetree het, dan sal jy wel verstaan waarvoor ons geveg het. Dit was nie verniet nie.
Dankie Anne-Marie en Francois. Ek ken en verstaan die koue-oorlog-konteks van die oorlog. Hopelik kan ek eendag jou boek ook lees, Francois.