Open Book 2015: Rudie van Rensburg oor Judaskus en oor spanningslektuur

  • 1
rudievanrensburg_openbook650

Rudie van Rensburg (foto: Naomi Bruwer)

Open Book 2015: Beyers de Vos vra Rudie van Rensburg oor Judaskus en oor spanningslektuur.

  1. Watter verantwoordelikheid het misdaadskrywers as hulle geweldstonele skryf? Waar trek mens die streep?

Baie lede van die polisie het al aan my genoem dat enige geweldstoneel wat ’n misdaadskrywer kan fabriseer, reeds in die werklike lewe gebeur het. Daagliks lees mens in koerante van grumoorde (’n bylmoordenaar wat amper ’n hele gesin uitwis; ’n seun wat sy ouers en suster koelbloedig doodskiet; wrede plaasmoorde; onskuldige kinders wat slagoffers van bendegeweld is, ens). Daar word geen strepe in die werklike lewe getrek nie. Ook word die media nie gemuilband om die fyner besonderhede van sulke gebeure weer te gee nie. Daarom dink ek nie skrywers het ’n spesifieke verantwoordelikheid in dié verband nie. Daarmee sê ek egter nie dat die misdaadskrywer nie soms selfsensuur moet toepas wanneer sy fiktiewe geweldstoneel alle perke van menslikheid oorskry nie. Die skrywer moet hom afvra of hierdie toneel werklik waarde toevoeg tot die verhaal en of hy dit insluit net om oormatige sensasie te skep.

  1. Wat is dit oor die misdaad- en speurgenres wat vir jou as skrywer aanloklik is?

Alles wat die genre vir lesers aanloklik maak: spanning, intrige, onheil, konflik, raaisels en kinkels. En natuurlik ook die feit dat die goeie altyd oor die bose seëvier.

  1. Dit lyk asof die lyne tussen sogenoemde “genre”-fiksie en “literêre” fiksie besig is om te verdwyn. Stem jy saam met dié stelling en watter gevolge dink jy het dit vir die misdaadgenre?

Ek stem volmondig saam dat die lyne besig is om te verdwyn. Veral Deon Meyer, Chris Karsten en Karin Brynard het al gewys dat van hulle werke ewe gemaklik ook in die geselskap van literêre skryfwerk tuishoort. Daarmee saam verdwyn lyne tussen genre- en literêre lesers ook, wat meebring dat die poel van lesers in die misdaadgenre groter word – ’n welkome aanwins in ’n relatief klein lesersmark.

  1. Dink jy die misdaadgenre is veral relevant in Suid-Afrika, meer as in ander lande?

Die Suid-Afrikaanse misdaadskrywer (al is dit baie tragies om dit te sê) het ’n groot voorsprong bo sy internasionale eweknie, omdat hy so ’n “goeie” verwysingsraamwerk het om van te put. Suid-Afrikaanse misdaadfiksie weerspieël die werklikheid in hul omgewing baie beter as byvoorbeeld Skandinawiese misdaadfiksie. Dit maak die genre wel meer relevant hier – en vervul ’n rol waar die leser die gerusstelling kry dat die bose wel oorwin kan word, al is dit dan ook net binne die bestek van ’n boek.

  1. Aangesien misdaad so ’n populêre genre is en daar soveel keuses beskikbaar is, hoe maak jy seker jou werk is oorspronklik/vars?

Ek skryf spesifiek misdaadfiksie (en nie speurromans nie) omdat ek daarvan hou om die misdadiger ’n meer aktiewe rol in die narratief te laat speel. In tradisionele speurromans is dit net die speurder wat eksplisiet gekarakteriseer word en dien die ander karakters as oppervlakkige aanvulling tot die intrige. Ek hou daarvan om in die psige van die misdadiger rond te grawe en om “na redes te soek” vir sy misdadige optrede. Dit laat my ook toe om verskillende verhaallyne in my storie in te weef waar die speurder nie heeltyd die sentrale karakter is nie. Ook waar die klem meestal verskuif van “wiewassit?” na “waaromwassit?”, maar sonder om die belangrike element van naderende onheil te  ondermyn. Ek glo hierdie benadering stel my in staat om ten minste elke keer vars oor die genre te dink.

  1. Die karakter van die speurder is ’n belangrike figuur in die misdaadgenre, maar ook ’n karakter wat maklik in ’n cliché kan verander. Hoe skryf jy só ’n karakter wat kan uitstaan tussen ander soortgelyke karakters?

Om ’n unieke speurder te skep is so moeilik as om ’n naam vir jou nuwe sakeonderneming te registreer – alles is al gevat! Daarom moes ek diep delf om met Kassie Kasselman vorendag te kom: ’n fanatiese filatelis wat floreer op boeremusiek en creme soda, maar ’n alleenloper-bleeksiel wat nie op sy verslonste voorkoms takseer moet word nie. Kassie se groot voordeel is dat misdadigers hom hopeloos onderskat, wat weer aan my ander moontlikhede bied as wat ’n skrywer sou hê met ’n konvensionele macho-held.

  1. Hoe belangrik is navorsing, veral in verband met byvoorbeeld polisieprosedures?

Navorsing is baie belangrik as mens geloofwaardig wil skryf. Maar hier moet ook ’n fyn balans gehandhaaf word. ’n Skrywer mag nooit so oorbehep met sy navorsing raak dat dit die storie doodsmoor nie. Die storie bly koning. Ek vergelyk dit graag met ’n skildery, waar die skilder eers sy rou doek toeverf met agtergrondkleure (navorsing) en dan sy prent (storie) daarop verf. Die agtergrondkleure verskaf diepte aan die skildery, maar dit verloor trefkrag wanneer te veel daarvan deurslaan. Dieselfde reël geld vir polisieprosedures en forensiese bewyse. Dit moet so hanteer word dat dit geloofwaardig oorkom, maar mens moet daarteen waak dat die tegniese besonderhede en polisiekliektaal nie die leser verwar, oorweldig of verveel nie. Jy skryf immers nie om die polisiediens se goedkeuring weg te dra nie, maar om die breë publiek ’n genotvolle leeservaring te gee. 

openbook2015banier

Rudie van Rensburg is in September by die Open Book-fees in Kaapstad te sien. Besoek Open Book se webwerf vir nog besonderhede en vir die fees se volledige program.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Denise McLoughlin

    Ek sien uit na die lees van my eerste Rudie van Rensburg boek ... 'n genre wat my tot dusver nie getrek het nie. Het die gesprek op De Kat geniet!
    Groete
    Denise

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top