Op reis sonder ’n goodbye

  • 3

Foto: Canva

Op reis, sonder ’n goodbye

Drie jaar later steeds dink ek aan daardie dag. Dit was ’n trietsige, reënerige dag, sewentien dae voor Kersfees.

Terwyl ek die warm aroma van ’n varse brousel koffie geniet, maak ek my sosiale media oop. Jou foto kom op op die skerm met ’n teks daarby wat sê: “Vlieg hoog, Pappa, ons gaan jou baie mis.”

Vir ’n oomblik in tyd is my longe asemloos. Ek kan en wil nie glo wat ek sien nie. Ja, jy het ’n moeilike pad gestap met die swart kanker, genaamd depressie. Die siekte wat jy nie kan sien nie, tog vreet hy jou stuk-stuk van binne af.

Die ongeloof is oorweldigend. Hoe het dit gebeur dat na vele jare se stryd teen hierdie booswig, jy finaal oorgegee het? Wat het gelei tot die keuse om finaal ’n einde aan alles te maak?

’n Erediens word gehou vyf dae voor Kersfees. Weens die omset en agtergrond van hierdie donker situasie, kon die diens nie vroeër wees nie. Tot en met ’n paar dae gelede het die mediese personeel steeds geworstel om vas te stel watter mediese middel die finale einde volbring het.

Dis drie jaar later. Jou plek is leeg. Eindelose vrae is steeds so vars. Wat was die laaste spyker in die doodskis? Gereeld kom die vraag na vore: “Hoe het ons jou noodkreet gemis?”

Die wond is rou. Jy het op reis gegaan sonder ’n goodbye. Jy vlieg nou hoog en is veilig.

  • 3

Kommentaar

  • Helene Pretorius

    Aangrypend, jy praat namens baie wat die stryd teen die swart hond van depressie verloor het!

  • Cornelia Van Dyk

    Om iemand vir wie jy lief is te verloor, is soos om alles in 'n vuur te sien brand – die plek wat warmte en veiligheid gekoester het, word skielik net as. Die bekende mure, die lag wat eens deur hulle weergalm het, word alles in 'n oomblik verteer. En soos die vlamme doodgaan, is al wat oorbly die stilte, die gewig van wat was, en die stof van wat nooit weer presies dieselfde herbou kan word nie.
    Jy sif deur die puin, op soek na enigiets wat oorleef het. 'n Herinnering, 'n fluistering, 'n fragment van hul teenwoordigheid. Sommige dinge is vir altyd weg, maar ander – verkool maar ongeskonde – word skatte. Mettertyd begin jy herbou, nie deur uit te wis wat verlore was nie, maar deur te leer hoe om in die afwesigheid daarvan te leef. Rou hervorm die landskap van jou hart, maar selfs in die nasleep van verwoesting is daar ruimte om te groei.
    Die vuur het dalk baie geneem, maar dit het nie liefde geneem nie. Dit bly, onverbrand.
    Rou en verlies mag voel soos 'n vuur wat alles verteer, maar vure maak ook die weg oop vir nuwe groei. Mettertyd word die pyn deel van jou storie, dit vorm jou maar definieer jou nie.
    Ek noem dit wat ek verloor het, “Wat ek verloor het in die brand”. Sterkte Christiaan

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top