Op pad

  • 0

XARAB
Jy moet die Boesmanboek kan lees,
daardie wêreld net vir die Boesmans oop
opdat jy op ranklose spoor
na ondergrondse patatas loop

Uit: Weeskinders van die Hemelgod -  Abraham Fouché.

Ons was iewers op pad tussen Ngquncgqu en Mqanduli. 

Ek lees hardop voor uit die boek op my skoot. Oor die turkoois rondawels, die kleibruines wat teen die hange in ravyne vasklou en oor kralewerkbriefies waarvan niemand meer die betekenis werklik ken nie. En oor inisiasie.

By 'n handwerksentrum hou ons eers stil. Die vrou hier vertel dat hulle gekant is teen beoogde ontwikkeling. Ons vra haar uit oor die turkoois rondawels. Sy sê die binnekant word eers geverf en met dit wat oorbly, verf hulle buite om, behalwe die buitenste rand waar dit in elk geval gou vuilsmeer. Die voorkant van die huise kry voorkeur en as die verf opraak, word die agterkant van die huis oorgeslaan. Die motorbande bo-op die rondawels is om voëls te keer wat die dekriet uittrek.

Rooipeerhout kom hier voor. Die Xhosas hou van stokgevegte. ’n Man doen eintlik nooit afstand van sy kierie nie.

Hier is ons nooit heeltemal alleen nie. So ver as die oog kon sien, is daar rondawels en boerderytjies, en almal wat ons teëkom, groet ons in die verbyry.

Diere loop hier vryelik oor die pad – boerbokke, donkies, muile, perde, skape en soms 'n sprokiesbont bees. 'n Vark met 'n mikstok oor die nek vroetel langs 'n heining terwyl ganse wegwaggel in die langerige gras wat al verbruin. Sagmoedige honde loop langs die huise.

"Kyk!" sê ek. 'n Skitterend gekleurde haan klap sy vlerke in die son.

'n Seun jaag 'n paar skape oor die pad en ons moet vir die soveelste keer stadiger ry, selfs stilhou. Van die teenoorgestelde kant af kom 'n mikrobus stadig aangery. 'n Lam raak verbouereerd, breek weg en hardloop terug oor die pad. Die seun kom agterna en jaag hom na die res van die trop toe.

Die taxibestuurder van die mikrobus trek skielik weg.  Alles gebeur vinnig. Die regtervoorwiel ry bo-oor die lam. Die lyf ruk met geweld op teen die onderstel van die mikrobus en val weer terug. Die agterwiel ry bo-oor. In die verbyry kyk die bestuurder na ons en hou sy hande verskonend in die lug op. Hy trek weg.

Bloed loop uit die lam se neus op die teer. Die seun bly 'n oomblik uitdrukkingloos staan voor hy die lam aan die bene gryp en uit die pad in die gras in sleep. 

Gister het ek in my dagboek geskryf:

Daar lê ’n seeplant op die strand vanoggend, asof vol groen blink kraletjies. Ons klouter oor die rotse seelangs. Beeste staan by die see, ’n rare gesig vir ons. Ons klim op teen ’n hoë, groen kop by die see – ons dink dit is wat die Queen Rock genoem word. Bo sien ons ’n mooi skoenlapper met ’n blou kol op elke vlerk. ’n "Gewone" geel skoenlapper jaag hom weg! Uit droë beesmis groei ’n fraai wit paddastoeljie met vratte. Dit is loodreg af tot onder by die see. ’n Groot skool dolfyne swem verby. Elke nou en dan kan ons hulle hoor kweel. Ons loop deur ’n woudjie met kromvertakte bome waar die vrouens hout soek om vuur te maak.

Nou is ons vakansie verby. By Viedgesville draai ons regs. Hier staan die vervalle ou huis wat so onvanpas vreemd lyk in die omgewing.

Die boek oor die Transkei lê nog oop op my skoot. Sou hulle die verminkte, gekneusde vleis van die lam kon eet?

In die boek lees ek dat die seuns wat pas geïnisieer is vir hulself moet sorg. Hulle kan selfs kos steel as hulle moet, solank hulle in gedagte hou dat as hulle uitgevang word, hulle die gevolge daarvan sal moet dra.

Later op 'n stil stuk pad ry 'n koraalbessierooi Tazz by ons verby. Daar is 'n vrou agter die stuur. Ná 'n ruk draai sy af tussen die uitlopers met Elliot- en Molteno-formasies in. 'n Ent hou ons agter haar aan. Dit lyk asof sy die pad ken en presies weet hoe om tussen die slaggate deur en om die onverwagse skerp klippe by die draaie te ry. Nou en dan is daar 'n paar bokke en 'n lappie mielies, beeste, 'n diep verspoeling in die bergwand, 'n skooltjie. 

Die een oomblik styg die klein, blink koraalbessie teen die helling van die landskap op, dan draai dit weer af in 'n vallei in. Ons besef ons sal moet omdraai en tussen die slaggate en klippe deur terugry. Orals rondom ons is die stil hange en die son wat daarin begin skaduwees soek.

Ons stop langs die pad en kyk al met die slingerende pad langs af. Ondertoe loop die pad nader aan die rivier en swenk weer daarvandaan weg.

Die rooi bessie draai af en hou by 'n ry bome stil. Dit lyk asof daar 'n tweespoorpad is wat in die berg ingaan. Ons sien die vrou uitklim en toe nog iemand by die deur aan die passasierskant –  langer en leniger as sy – 'n jongman. Stadig kom die twee met 'n tas na die hutte toe aangestap.

Mense en honde kom hulle tegemoet. Daar is vrouens wat lang stokke in bondels na 'n plek toe waar 'n hut in aanbou is aandra. Hulle staan stil.

'n Ou vrou staan swaar van haar plek by die deur van die hut op waarheen hulle nader kom. Dit is nog 'n entjie om te loop na die hut toe. Vuurtjies brand reeds in die laatmiddaglig.

Die ou vrou begin stadig dans. Ons kan die mense van blydskap hoor sing.

 

 

Lees nog van hierdie fiksie-kompetisie.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top