
Naledi
Op pad na Grysberg
Saamgestel deur: Stefaans Coetzee
ISBN 978-1-77617-288-7
Uitgewer: Naledi
...........
’n Roman waar 22 van die land se voorste Afrikaanse skywers deelneem aan ’n lekkerlees-fantasieverhaal, Op pad na Grysberg, het onlangs by Naledi verskyn.
............
’n Roman waar 22 van die land se voorste Afrikaanse skywers deelneem aan ’n lekkerlees-fantasieverhaal, Op pad na Grysberg, het onlangs by Naledi verskyn. Die amptelike bekendstellingsnota lees: “Twee-en-twintig van die land se grootste name soos Kerneels Breytenbach, Madelein Rust, Irna van Zyl, Duane Aslett en Brian Fredericks het deelgeneem aan die unieke projek wat die diversiteit van Afrikaanse letterkunde vier en die krag van samewerking demonstreer. Verwerking deur Erla-Mari Diedericks. Die skrywer en vryskut-resensent Stefaans Coetzee het die projek gekoördineer.”
Ander name wat op die voorblad lok, is Elsa Winckler, Didi Potgieter, Dibi Breytenbach, Louise van der Merwe, Christelle van Rooyen-Wessels, Hannes Barnard, Sidney Gilroy, Henk Breytenbach, Annerle Barnard, Jan Vermeulen, Erla-Mari Diedericks, Ferdie Swanepoel, Stefan Enslin, René van Zyl en Constant van Graan.
Agter in die boek is ’n kort beskrywing van elke skrywer. Die diversiteit, spesialisveld en geografiese verspreiding maak dat elke bydraer waarlik ’n ander oorsprong van gedagte het.
Daar is twee redes hoekom my aandag soos ’n ywerige vis ingekatrol is na dié boek op my plaaslike boekwinkelrak. (Boonop is die boekwinkel pas opgeknap en wil ek sommer net daar by die reusetafel met individuele leeslampies vasval. Maar wag, ek dwaal af.)
.............
Eerstens is van die skrywers my gunstelingwoordmeesters, en dié wat onbekend was aan my, sou ’n goeie kans staan om ook gunstelinge te word, omdat hulle in sulke goeie geselskap is. Tweedens is die idee aan ’n distopiese verhaal, in Afrikaans, deur verskeie bydraers, sekerlik te lekker om waar te wees.
..............
Eerstens is van die skrywers my gunstelingwoordmeesters, en dié wat onbekend was aan my, sou ’n goeie kans staan om ook gunstelinge te word, omdat hulle in sulke goeie geselskap is. Tweedens is die idee aan ’n distopiese verhaal, in Afrikaans, deur verskeie bydraers, sekerlik te lekker om waar te wees.
Op pad na Grysberg vertel die storie van M, ’n vrou wie se menswees deur die ongenaakbare elemente van ’n postapokaliptiese wêreld afgetakel word. Sy leef in ’n wêreld van stof en watertekort, afguns, geestelike aftakeling deur ’n mishandelaar vir ’n eggenoot, en die grootste seer van haar lewe: Haar seun het weggeloop om hom naby Grysberg, die mistieke baken wat bo die landskap uittroon, te gaan vestig. En hy het nie eers gegroet nie.
Eendag kook haar emosies oor en sy sluip daardie aand weg om hom daar te gaan soek. Sy droom ook van die groen woude, oorvloed water en vrede waarvan sy so dikwels as kind by die Wyses gehoor het.
Die tog soontoe is gevaarlik: Die stofstrate van die onheilige, immorele grensdorp, Henza, die gevreesde ravyn en die Vloek van Xanavu wag op haar. Boonop het sy min kos en water en geen skuiling teen die songod Ra se moordende hittestrale nie. Maar daar is fabels van Xanavu en die godin van helende magte, Isis, wat haar oor elke vrou en kind ontferm, en dit dryf haar vorentoe.
“Dit is ʼn unieke fantasie-groeproman deur Suid-Afrikase se knapste skrywers wat temas van identiteit, verbondenheid en die aard van komplekse, gedeelde menslikheid ondersoek,” lees Naledi se verklaring verder.
Dis toe inderdaad soos ek gehoop het. Die skrywers wat ek voorheen in my gedagtes voorgetrek het, het hul rangorde behou. Ek was amper hartseer wanneer ek sien daardie skrywer se hoofstuk loop vinnig ten einde. En – ook soos ek voorspel het – dié wie se werk minder bekend was, het opgeskuif op die rangleer van gewildheid. Ek sal beslis in die toekoms op die uitkyk wees vir hul skrywes en my lesershorisonne verbreed.
Elsa Winckler lei die roman in. In haar vyfde paragraaf bring sy die beklemming na my bors; die vinnige hartklop wat distopia vir my versinnebeeld: “Haar voete is swaar, so asof dit vasgegroei het aan die grond. ... Eers kan sy nie uitmaak wat sy sien nie. Haar asem steek agter in haar keel vas. Wat op aarde?
“Lang, swart lot het om haar voete gerank en terwyl sy kyk, glip ’n loot om haar enkels. Nog lote kruip teen haar op, rank om en om haar kuite, oor haar knieë op na haar bobeen.”
Natuurlik voel jy ook dié paniek! Voor ek omblaai, is die atmosfeer geskep; ek sien die donker wêreld na alles verwoes is in my geestesoog.
Ek kan haar walglike man, Ari, se vrot liggaam ruik en weerbarstige afjakke hoor. Haar begeerte vir water, om haar hele kop daarin te dompel.
Sy gee die aflosstokkie soomloos oor na Didi Potgieter, wat net so mooi voortborduur op die haglike lewe van M: “As hulle maar net weet. Om die dogter van ’n Wyse te wees is eerder ’n straf as ’n seën. Nie dat hulle sal verstaan nie. Vir hulle is die feit dat sy al op dertien aan Ari belowe is, ’n eer wat hulle begeer het. Veertig jaar terug was hy immers ’n aantreklike soldaat ... Nie een van hulle moet langs sy stink lyf wakkerword en na sy gesnork luister nie.”
Didi Symington neem dié stokkie verder. Sy bring die gal van M se afsku vir Ari verder tuis.
Louise van der Merwe bring die deurbraak van wegloop, ontsnap. Sy bring ’n kalmte, belofte van kleur, ’n melankolie na groen, water, voëls en koel lug. Henk Breytenbach bring die eerste maal ’n gawe man in die verhaal in. Een wat M red en wie se storie deur ’n anonieme skrywer in die sewende hoofstuk verder gevoer word.
Dis egter Madelein Rust wat die songod en Grysberg teenoor mekaar afspeel: “‘Dis wys om te rus,’ maan Ra in ’n stem van vloeiende lawa. Ek maak dood, ongeag die mens.’”
“‘Nie hierdie mens nie,’ suis Grysberg. ‘Haar tog hou belofte in. Laat haar kom, wees vir eens genadig. Die tyd is min.’”
Ferdie Swanepoel stel die tweede gawe man, die grysaard Hakim, een van die Wyses, voor. Sy rustigheid laat die vorige hoofstukke se paniek effe bedaar en die ritme loop lekker.
Dis Kerneels Breytenbach se epiloog wat my verstom laat. Dis glad nie die einde waarop ek gehoop het nie. Ek hou nie van distopiese romans nie, maar as dit moet, dan moet dit goed wees.
Die onverwagse kinkel is eers verfrissend, toe later verlammend.
Ek sit die boek terug op my bedkassie; beloer dit vir twee dae. Ek begin weer van voor af lees, kyk of ek enigsins die einde kon voorspel het, of ek dalk iets misgelees het.
Nee, ek het nie. Die einde val die tweede maal sagter op my oor. Dis goed so, dis goed, ja.
Al die draadjies kom mooi bymekaar.
............
Daar is ’n paar dinge in die roman wat pla, al is dit heeltemal te verstane met soveel bydraers en dinge waarmee daar kopgehou moet word ....
.............
Daar is ’n paar dinge in die roman wat pla, al is dit heeltemal te verstane met soveel bydraers en dinge waarmee daar kopgehou moet word: Soms is dit “wyses” met ‘n kleinletter, soms met ‘n hoofletter. Soms is die skrywer Dibi Breytenbach, soms Dibi Symington. Daar is 19 skrywers op die voorblad en een samesteller; 20 in die indeks en 21 in die agterkant van die boek. Die 22ste skrywer wat oral adverteer word, bly ontwyk en word net een maal as “anoniem” beskryf.
Soms is die songod Ra, soms die stem van rede (ble 20, 21 en 91 byvoorbeeld). Die geheime kissie se kode is drie maal in ’n ry dieselfde eenvoudige volgorde, maar spring tog oop met die derde probeerslag. Op bl 124 sukkel iemand om die regte kombinasie te onthou?
Op bl 95 bevry ‘n karakter die Arendsvrou en hoor later almal het op haar koms gewag want sy is die enigste een wat die Arendsvrou kon bevry. “Ra het haar in ’n woedebui in ’n kruik vasgevang en die monster Anubis beveel om haar te bewaak. Net die een met die droom in haar hart en die son in haar hare kon haar bevry.” Op bl 115 hoor sy weer sy is die een wat die wêreld gaan red van Ra se sonvloek, wat die Arendsvrou gaan bevry en die sluise van die hemel gaan oopbreek.
..........
Maar op bl 128 is sy skielik nie meer die uitverkorene wat die Arendsvrou bevry nie, sy ís die Arendsvrou.
Lomp redigering, of doelbewus? Die storie lees lekker.
En maak dit regtig saak in distopie?
............
Maar op bl 128 is sy skielik nie meer die uitverkorene wat die Arendsvrou bevry nie, sy ís die Arendsvrou.
Lomp redigering, of doelbewus? Die storie lees lekker.
En maak dit regtig saak in distopie?


Kommentaar
Maryke, jy som die hart van die saamskryfprojek perfek op met hierdie een sin: "En – ook soos ek voorspel het – dié wie se werk minder bekend was, het opgeskuif op die rangleer van gewildheid. Ek sal beslis in die toekoms op die uitkyk wees vir hul skrywes en my lesershorisonne verbreed." Dankie. Dit was 'n mooi (lekker) resensie!
Ek het die boek werklikwaar geniet, ten spyte van die stadige begin. 'n Paar skrywers het my heerlik verras en daar is van pragtige beelde (metafore, vergelykings en dies meer) gebruik maak. Die laaste hoofstuk is natuurlik iets wat niemand verwag het nie en juis daarom is die slot so treffend! Welgedaan en welverdiend aan Stefaans, die res van die skrywers en medewerkers. Ek moet sê hier is beslis 'n paar skrywers wat gerus meer op poësie kan fokus. Oom Ferdie, jy is een van hulle. Puik!