’n Gedagte |
By LitNet is ons verheug dat LitNet Akademies, ons aanlynjoernaal vir portuurbeoordeelde akademiese opstelle, pas akkreditasie by die Departement van Onderwys gekry het.
Dit beteken dat navorsers in die geesteswetenskappe wat opstelle op LitNet Akademies publiseer, in aanmerking kom vir die amptelike subsidiestelsel van akademiese joernale.
Is dit die eerste elektroniese aanlynjoernaal in Afrikaans wat akkreditasie geniet? Ons meen so!
Boonop betaal LitNet ingevolge ’n samewerkingsooreenkoms met die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans R8 000 per gepubliseerde artikel direk aan die navorser.
Alhoewel LitNet navorsing deur ’n nuwe geslag navorsers wil stimuleer, hoop ons dat ook ons gevestigde akademici in vakgebiede soos die sielkunde, geskiedenis, sosiologie, Afrikaans en Neerlandistiek, en so meer hul kant sal bring sodat ons ’n gerekende joernaal tot stand kan bring. Lees hier vir nog oor LitNet Akademies, en stuur daardie artikels!
LitNet hoop dat navorsers wat, om verstaanbare redes, hul eie navorsing dikwels deur middel van Engels die wêreld indra, ook die Afrikaanse taal sal laat gedy in die speelveld van akademiese diskoers. Want taal is ’n viool …
Daar is geen sin daarin om maar net lekker volksliedjies op die viool uit te saag nie. Dit het dus geen sin om te sê dat Afrikaans sal oorleef op straat, in die volksmond nie. Natuurlik sal dit. Maar ’n viool is ’n gevorderde instrument wat uiting kan gee aan ’n wye register – van die eenvoudige volksdeuntjie tot ’n komplekse vioolkonsert.
Só moet dit ook met ’n taal die geval wees. Die mees komplekse melodieë moet daarop gespeel kan word. Daarom moet Afrikaans, sy taal, die taal van die kernfisika, die filosofie, die plantkunde en die interne geneeskunde, die aandelebeurs en die regspleging bly. (Asbesmiddag, Tafelberg, 2007)
LitNet-nuus |
Na verlede week se Op my duimnael het ek ’n paar skrywers wat ek gemeen het van my sou verskil, gevra om te reageer op die eeue oue vraag na skrywers en hul betrokkenheid by landsake. Izak de Vries, Jaco Botha en Naomi Meyer het nie op hulle laat wag nie.