Op drie-en-dertig

  • 0

Na Hans Magnus Enzensberger

hoe anders het hul lewe nie uitgedraai nie
op 33 luister sy nog soms na Beethoven
sondae na kerk oor die radio
sy skil en water af op die maat van die 9de
van watter nut
die 365 bladsye wat sy geskryf het
oor die naklank van bekende deuntjies in die werk
van breyten breytenbach
die landskappe wat sy bemin
is haar kombuis die kinderkamer die skoolhek
die sportveld die uitgeholde dubbelbed
sy soek die semiotiek op die waspoeierboks
en besin oor die syn van bevrore brokkoli
hy wat die beker frisco met melk by haar neem
presies 5 minute teen 100% gemikrogolf
wat wou gaan kyk hoe lyk die maan
die swaartekrag wou meet
‘n ruimtetuig wou lanseer in die agtertuin
vul die ontbrekende x’e en y’e
in op verfrommelde antwoordstelle
saam lê en kyk hulle na die dakwaaier
dink hy aan die rente gedebiteer
op die huisverband
die prima uitleenkoers
assuransie vir die gesin begrafnisdekking
sy hoe hulle in hul eenderse slaapklere
opgekerf word deur die lemme
soos groenbone

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top