Op die swartbord

  • 3

Na Anne Sexton

’n Meisie wat skryf voel te veel,
vol voorgevoelens, so ’n gesukkel.
Asof siklusse en elandbiltong en hekel
haar nie kan volmaak nie; asof baarmoeders, brooddeeg
en doeke nooit genoeg was nie.
Sy dink mos sy ken resepte vir sterre.
’n Skrywer is eintlik ’n celebrity sjef en
Boklam, ek is daardie vrou.

’n Man wat skryf weet te veel,
te veel toorkuns en toertjies.
Asof ereksies en koagulante en polonie
hom nie versadig nie; asof masjiene en galjoene
en oorpluisies nooit genoeg was nie.
Hy maak boomgom van tweedehandse meubelolie.
’n Skrywer is eintlik ’n skelm en
Skaapnek, jy is daardie ou.

Geen ooghare vir onsself nie,
ons haat selfs ons hoede en skoene,
maar ons is vasgekoek in mekaar, hoe kosbaar.
Ons hande is ligblou en dierbaar.
Ons vier oë is vol verskriklike gebare.
Asof een van ons nooit genoeg was nie ...
Ons sal trou en alle kinders sal voor ons vlug.
Daar is nog te min monde om te kou aan die vreemde
oorvloed van ons gebak-en-brou.

                                      Bibi Slippers

  • Hierdie gedig is uit Bibi Slippers se debuutbundel wat in November 2016 by Tafelberg verskyn, en word met vergunning van die uitgewer geplaas.
  • 3

Kommentaar

  • Tannie (Dr ) Lizzie Conradie

    Sjoe Bibi, ek is in ekstase oor hierdie gedig van jou. Dit is soooo goed!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top