Op die maat van Maya, ’n lesersindruk met hulp aan taalonderwysers

  • 0

Titel: Op die maat van Maya
Skrywers: Nerine Ahlers en Alet Steenkamp
ISBN: 9780639604206
Uitgewer: LAPA

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Liefde op die maat van die musiek ... Toe Maya en Joe mekaar een aand by ’n kuierplek raakloop waar hulle dieselfde Eduan de Bosch-liedjie sing, begin Maya se netjies-beplande lewe verander. Te danke aan Joe vergeet sy van haar eks, Mark, en die rampspoedige einde van hulle verhouding. Sy kry die geleentheid om in Joe se band te sing, en nou is sy nie meer so seker dat sy medies wil gaan studeer nie ... Maar toe sy danksy Joe se band die kans kry om haar musiekheld, Eduan de Bosch, te ontmoet, vind sy iets uit wat haar hele lewe in twyfel roep. Boonop is Mark se ma dodelik siek en sy begin al hoe meer tyd saam met haar eks, wat nog steeds vir haar lief is, spandeer. Wanneer alles waarin Maya geglo het, skielik uitmekaarval, moet sy leer om haar eie wysie te skryf.

Op die maat van Maya is ’n pragtige liefdesverhaal, maar vertel ook ’n dieper storie oor die band tussen ’n meisie en haar ouers. Die verhaal sal beslis aanklank vind by musiekliefhebbers, asook almal wat van ’n bietjie liefde hou.[1]

Inleiding en fokus

Uit die staanspoor wil ek meld dat ek in hierdie dokument my persoonlike en professionele indrukke as lesergerigte en kritiese leser bied. Gesien in die lig daarvan dat ek vir baie jare onderwysstudente wat gekies het om Afrikaans as vak te onderrig opgelei het om voorbeelde van jeugletterkunde krities te kies en kreatief te onderrig, het ek toenemend die behoefte gehad het om kriteria vir die onderrig van jeugletterkunde saam te stel. Mettertyd het ek ook ’n aanlyn leesjoernaal ontwerp waaraan hierdie onderwysstudente interaktief kon deelneem in terme van die responsbenadering (resepsie-estetika)[2] tot die onderrig van letterkunde. Genoemde kriteria het in die proses ontwikkel om elemente wat die bedoelde leser, die teks en die skrywer as deel van die letterkundige kommunikasieproses behels, aan te spreek – dit is die kernfokus van hierdie skrywe.

Op die maat van Maya het my ’n kritiese lees- en boekbesprekingsproses gebied wat vir my ’n groot voorreg en uitdaging was. ’n Voorreg omdat dit uitstekend is en ek baie min kritiek het. Ek is seker dat die adolessente leser deur die lees van hierdie jeugroman ’n liefde vir die boek en lees kan aankweek en dat die skrywers ’n (aktiewe) aandeel daaraan het. Dit was ook ’n uitdaging, omdat die verhaal definitiewe literêre waarde het en selfs voorgeskryf sou kon word. Hierdie skrywe het die potensiaal om onderwysers te bemagtig – uiteraard het ek genoop gevoel om hieroor meer te kommunikeer en eindnotas te verskaf met inligting aangaande verwysingsbronne wat my fokus verhelder.

As ingeligte leser[3] bied ek hier my indrukke as ’n narratiewe interpretasie[4] wat jeugdige leerders, ouers en onderwysers kan begelei om narratiewe in jeugletterkundige tekste te verstaan. My fokus is spesifieke intrinsieke teks- en literêre stylmiddele wat die betrokke jeugverhaal se genetwerkte fiktiewe wêreld ondersteun, terwyl ek voortdurend ekstrinsieke kriteria (wat te make het met die algemene waarde van jeugletterkunde as subgenre van literêre tekste) integreer. Omdat die verhaal baie slim geskryf is, wil ek die skrywers komplimenteer deur dit so deeglik as moontlik te bespreek.

Die skrywers, Nerine Ahlers en Alet Steenkamp, is as skrywerspan die skeppers van die gewilde SSS-omnibus, asook die tienerboeke Weg en Ek+Jy. In 2007 is hulle Selfone, skelms en sjokolade met ’n ATKV-Kinderboektoekenning bekroon, en in 2011 palm dié gedugte duo nog ’n ATKV-Kinderboektoekenning in met Liefde is … Hulle boeke is as e-boeke sowel as in gedrukte vorm beskikbaar. Dit sal veral by meisies aanklank vind, want dit handel grootliks oor die emosies, vreugdes en vrese van ’n tienermeisie aan die vooraand van die grootmenswêreld.[5]

Nerine Ahlers (links) en Alet Steenkamp (Foto's deur LAPA)

Nerine Ahlers het aan die Hoërskool Menlopark gematrikuleer en aan die Universiteit van Pretoria gestudeer, waar sy in 1985 ’n MA-graad verwerf het. As gekwalifiseerde taalonderwyseres, hoofsaaklik in Frans, gee sy ook klas in Afrikaans en Duits op hoërskool, onder andere by St Mary’s DSG in Kloof naby Durban en die Hoërskool Menlopark in Pretoria. Sy is getroud met Johann Ahlers en het twee dogters, Joekie en Rianné.

Alet Steenkamp woon in Pretoria saam met haar man Nic, haar seun, Adriaan, en dogter, Christine. Sy is ’n Afrikaansonderwyseres in die hoërskool, maar hou nie nou skool nie. Sy is mal oor donker sjokolade, tienerboeke lees, skryf, rock- en alternatiewe Afrikaanse musiek. Sy hou baie van diere en tuinmaak, en kyk graag goeie flieks.

Die teks

Op die maat van Maya is een van die boeke wat op die kortlys van LAPA se jeugromankompetisie van einde 2019 was. Alhoewel hierdie verhaal tipies is van romantiese fiksie – waaronder chicklit[6] en Romanza-stories ressorteer – waar romantiese liefde een van die hooftemas is met ’n manlike en vroulike karakter wat mekaar heel vroeg in die verhaal leer ken en saam probleme teëkom en oorwin, is hierdie skrywers se fokus veral op die jeugroman as genre. Op die maat van Maya kan saam met ’n menigte novelles in die chicklit-genre (deur vroueskrywers soos Chanette Paul, Wilna Adriaanse, Kristel Loots en die Romanza-boeke in die laaste paar dekades in Afrikaanse ligte liefdesverhale) in dieselfde asem genoem word.

Nog ’n hooftema in Op die maat van Maya is musiek, en dit word reeds in die titel geïmpliseer. Die titel is meerduidig – dit kan handel oor musiekritme (maat), en ook oor Maya se vriende (maats). Aan die begin van elke hoofstuk is ’n musiekteken, wat bevestig dat musiek ’n belangrike rol in die verhaal speel.

Die verhaal handel hoofsaaklik oor Maya se belangstellings en ervarings, haar verhoudings met haar beste vriendin Olivia en die jong volwasse mans Mark en Joe, haar ouers en haar grootouers op die plaas, asook Maya se kennismaking met die sanger Eduan de Bosch.

In die boek word universele temas uitgebeeld in die ontwikkeling van eie identiteit en volwassenheid, onverwagte hulpbronne en steunstelsels in moeilike tye, liefde teenoor haat en verwyt, versoening en oplos van konflikte, vertroue, aanvaarding en vergifnis wanneer almal die waarheid in hul eie lewens erken en aanvaar.

Novelles handel tipies oor kontensieuse sake en/of ’n opspraakwekkende gebeurtenis.[7] In hierdie jeugnovelle word dit gemanifesteer in die konflik tussen Maya en haar ma en hulle uiteindelike versoening, waar hulle ten spyte van verskille bydra tot die begrip en verwerking van ’n skande (nl dié van ’n buite-egtelike verhouding en swangerskap), waar liefde seëvier oor pyn van die verlede.

Lesergerigtheid

Op die maat van Maya is beslis toepaslik vir die teikengroep van jeugdiges aan die einde van hulle skoolloopbaan. Die hoofkarakter (Maya) skryf haar graad 12-eksamen, en haar vriende Olivia, Joe (Josef) en Tristan is waarskynlik dieselfde ouderdom. Mark is effens ouer en was reeds ’n eerstejaarstudent. Almal woon in Pretoria. Maya en Olivia doen vakansiewerk by ’n modewinkel aldaar, en hiermee sal menige adolessent kan identifiseer omdat hulle ook dikwels tydens vakansies moet werk om ekstra geld te verdien. So ook is Maya se woonstelletjie waarin sy redelike vryheid het om haar eie musiek te speel (en nie hoef te luister na haar ma se klassieke musiek nie) en om vryelik te kom en gaan, waarskynlik iets wat die adolessente leser sal begeer en mee sal kan identifiseer.

Nog iets waarmee die bedoelde leser (vgl Rossouw 2013) hom of haar sal kan vereenselwig, is die karakters se belangstellings. Maya het aansoek gedoen vir keuring om medies te studeer, want die menslike liggaam fassineer haar. Hierdie aspek word verder in die verhaal meer uitgespel en dit kan lesers bekendstel aan die vereistes vir hierdie beroep en watter belangrike rol Maya se eindeksamenpunte daarin speel – so word lesers se verwagtingshorison uitgebrei.

Verder luister Maya – soos die ander tienerkarakters – graag eietydse musiek en kan haar nie haar lewe sonder musiek indink nie (112). Sy speel self saksofoon (soos haar oupa) en sing mettertyd in Joe se band, waarvan hy die hoofkitaarspeler is. Haar gunstelingsanger is Eduan de Bosch, vir wie sy ontmoet wanneer sy saam met Joe en sy band deelneem aan ’n bandkompetisie vir hoërskole waar hy die beoordelaar is (136). Later, by sy eie show, nooi hy vir Maya om saam met hom sing.

Maya se boesemvriendin Olivia se belangstelling is in diere, sampioene, renosters en bewaring, wat sy met haar nuwe vriend Emil deel. Mark en Maya het mekaar ontmoet by ’n kursus oor die skryf van gedigte en sy gedigte is vir Maya en Olivia uitsonderlik goed. Joe self is ’n diepseeduiker, dra kennis van kruiesoorte en leer saam met sy ma vir Maya om pasta te maak.

Die leser word voorgestel aan verskeie volwassenes en beroepe – die ouers van Maya wie se pa ’n ingenieur is en haar ma ’n finansiële adviseur, so ook Joe se pa en ma (onderskeidelik ’n bouer en advokaat), Mark se ma wat aan leukemie ly en sterf, en Maya se ouma en oupa op die plaas.

Daar word dikwels in die novelle verwys na godsdienstigheid, waar gemeentelede help om kos te voorsien tydens Mark se ma se siekte; by Joe se huis vra sy pa dat hulle bid voor ete; en Maya se ma sê die feit dat Maya gekeur is om medies te studeer, die antwoord op jare se gebede is. Hiermee sal baie tienerlesers kan identifiseer.

Literêreteksgehalte

Styl, genre en register

Op die maat van Maya is ’n tipiese jeugletterkundige werk (wat ’n subgenre van literêre fiksie is). Rita Ghesquiere (1993)[8] definieer spesifiek die funksies van jeugletterkunde wat dit onderskei van die gewone roman en wat by hierdie bespreking geïntegreer word. ’n Vroeë kenner van Afrikaanse jeugletterkunde (Elsabe Steenberg 2013)[9] noem dat jeugverhale novelles is en oorgangsliteratuur genoem word omdat die jeugdige steeds vooruit reik na volwassenheid in die proses van haar[10] groei uit selfgenoegsaamheid en dat dit in hierdie subgenre gereflekteer word.

Soos reeds genoem, kan hierdie teks netjies saam met ’n menigte Afrikaanse ligte liefdesverhale, oftewel chicklit, op dieselfde boekrak staan. Vroue- of romantiese fiksie is fiksie wat spesifiek vir vroulike lesers geskryf, gepubliseer en bemark word. Dit het definitiewe romantiese temas met ’n manlike en vroulike karakter wat mekaar heel vroeg in die verhaal leer ken, soos wat hier met Maya en Joe gebeur.

Meestal het hierdie boeke heelwat humor, en dit help die leser om die konflikte in verhoudings en spannende situasies te relativeer. ’n Goeie voorbeeld is Joe se humoristiese vertelling van die Bybelname van almal in sy gesin (pa Adam, ma Ester, broers Simon en Daniël). Ook spot (en flirteer) Joe en Maya dikwels goedig met mekaar en skerts dat hy Absalom of Noag genoem kon gewees het, ook dat selfs Jona nie sou kon byhou by Joe as diepseeduiker nie. Humor dra in hierdie verhaal ook by tot kulturele oordrag en verbreed dus die leser se kulturele geletterdheid.

Verder word chicklit soms daardeur gekenmerk dat die verhaal in die eerste persoon vertel word, wat gewoonlik probleme soos liefde, huisvesting, geld, studie en/of werk en die aanwesigheid van ’n ondersteunende vriendegroep belig. Op die maat van Maya voldoen aan al bogenoemde kenmerke, waar die verhaal handel oor Maya se innerlike monoloog, haar verhoudings, ervarings, konflikte en probleme. Die register in die teks is kenmerkend van tienerverhale, waar die dialoog van verskillende karakters uitbeeld wat die sosiolek van hulle spesifieke maatskaplike agtergrond is – hier spesifiek tienersleng.[11]

As opvoedkundige was ek verras om te sien in watter mate hierdie verhaal, wat binne die genre van jeugliteratuur val, ook bydra tot die intellektuele ontwikkeling van tienerlesers. Die leser is bewus van verskillende soorte taalgebruik, en kognitiewe ontwikkeling gebeur in die algemeen. Die adolessente leser van hierdie verhaal se analitiese denke word geoefen omdat die lees van so ’n ongewone teks haar stimuleer om te soek na die samehang of logiese opeenvolging en gevolge van gebeurtenisse – lewe, siekte en dood, buite-egtelike verhoudings – in die optrede van verskillende karakters. Haar verbeelding word aangewakker deur die proses waarin sy haar inleef in die lewens van ander, asook die erkenning van motiewe en simbole, die bekende en die onbekende omgewing en gebeure. Maya se agtergrond, en dat haar pa nie haar biologiese vader is nie, kan lesers se ervaringswerklikheid en verbeelding beslis laat ontwikkel. Ook kan tienerlesers identifiseer met Maya se verhouding met Mark wat oënskynlik herstel, haar nuwe liefde vir Joe met die spanning wat daarrondom ontstaan, en dat sy dalk ’n keuse moet maak tussen mediese studie en haar ontluikende musiektalent.

Letterkunde se estetiese funksie kan die ander aspekte van jeugletterkunde transformeer deur ’n ewewig te skep en moralisering te vermy. Dit gebeur in hierdie boek wanneer die leser se aandag op die teks self gevestig word – die genre, narratiewe lyn, fokaliseerder, milieu, intrige en spanning wat geskep word. Op hierdie manier raak die leser bewus van die kreatiewe krag van taal. Voorbeelde hiervan is die volgende vergelykings:

  • “Sy ore was beetrooi en sy gesig ’n deurskynende wit. En sy oë het so half gerol asof hy wonder wanneer hy in hierdie alternative universe beland het …” (41)
  • ’n Blom gaan in my oop … (56)
  • “Onthou jy jou kosmaakpoging in graad agt toe jy die wors moes gaarmaak en dit in ’n oondpan met water gesit het? Ongelukkig, as ek reg onthou, in ’n pan hálfvol water waarin die bleek gekookte wors soos ’n lang, prehistoriese slang rond geswem het …” (65)
  • En die takke roer soos maer, donker arms teen die ruit. (90)
  • “Om so deel van die musiek te raak. Dis soos om in ’n sterk stroom te duik en saam te vloei met die water, die momentum, die lewe.” (79)
  • Die foto glip tussen my vingers deur, fladder soos ’n droë blaar tot op die tafelblad. (149)
  • Die afgelope twee dae het soos water in droë sand verdwyn. (169)

Intrige en spanning

In chicklit is die intrige meestal die begeerte en soeke van die vroulike hoofkarakter na ’n bevredigende romantiese verhouding, waar dit eintlik gaan oor die angs wat sy in ’n huidige (of vorige) verhouding ervaar (het).

Op die maat van Maya bevat verskeie intriges soos wat dit deur verhouding tussen karakters van verskillende ouderdomme en geslagte gemanifesteer word. Die hoofintrige is Maya se verhouding met haar mansvriende (Mark en Joe), waar sy keuses moet maak tussen hierdie twee mans en besluite moet neem oor haar toekoms – of dit medies of musiek is. Verder word die intrige verdiep deur haar verhouding met haar ouers (biologies en niebiologies).

Die gewone Griekse dramatiese struktuur word gevolg, waar die eksposisie of kennismaking gebeur soos wat ons Maya in haar gesin en tussen haar vriende leer ken. Ons kom agter dat haar hoofkonflik die ontdekking is dat sy ’n ander biologiese pa het as die man met wie haar ma getroud is en dat sy tydens ’n buite-egtelike verhouding verwek is. Saam met Maya ervaar die leser Maya se spanning, wat geïntensiveer word deur die feit dat sy mettertyd agterkom wie haar biologiese pa is. Hierdie ontdekking veroorsaak dat sy nie meer haar ma se oordeel oor haar toekoms kan vertrou nie. Tog kry sy toenemend begrip daarvoor – dalk omdat sy haar wil verbind tot Joe, maar tog nog met Mark deernis het, en ook dat Mark die enigste een is wat na haar luister ná haar skokkende ontdekking wanneer dit lyk asof Joe hom onttrek.

Daarna is daar aanhoudend stygende handeling/gebeure, waar sekondêre konflikte bekend gemaak word, sowel as al die struikelblokke wat in die pad staan van Maya, naamlik Mark en haar ma, en telkens nuwe plekke en uitdagings. Ook is die swangerskap van Maya se ma ’n duidelike konflik wat baie van die gebeure beïnvloed.

Uiteindelik is daar beide ’n fisiese en ’n emosionele klimaks. Die fisiese klimaks vind plaas wanneer Maya agterkom dat Eduan haar ma (Tharnia de Waal) lank gelede (so oud as wat Maya is) geken het wanneer sy die foto van Eduan se ma sien en besef wat die implikasie hiervan is. Hierdie voorval veroorsaak nogal baie spanning. Die emosionele klimaks is eerstens wanneer Maya in Mark se arms kan vertel wat gebeur het, waarna sy wegloop na haar ouma en oupa, waar sy haar kan uithuil. Hierna vind die hewigste konflik tussen Maya en veral haar ma plaas. Hierdie verhaalmoment is terselfdertyd ook die krisis, waar daar ’n keerpunt kom, haar ma beken wat gebeur het en om vergifnis vra, en ook belowe dat sy Maya met haar eie lewensbesluite sal vertrou.

Daarna is daar die dalende handeling/gebeure, die fase waarin die konflik tussen Maya en haar ouers opgelos word – dit is vir haar baie moeilik om te aanvaar dat die pa met wie sy grootgeword het, nie haar eie pa kan wees nie. Verder kry sy dit reg om Joe se verskoning (dat hy hom onttrek het en verdwyn het) ook te aanvaar. Die verhaal eindig relatief oop, waar Maya en haar biologiese pa (versigtig) ’n nuwe pad van vriendskap ontwikkel.

Karakterbeelding

Op die maat van Maya bevat ’n oorvloed van uiteenlopende karakters, van verskillende temperamente, agtergronde en geslagte (mbt ouderdom en seksualiteit). Elkeen van die karakters is goed uitgebeeld en alhoewel daar duidelike hoofkarakters en newekarakters is, is daar nie oorheersende stereotipes nie.

Soos wat die gebruik by chicklit is, is die hoofkarakter ’n moderne, stedelike matriekmeisie wat vasgevang is in haar omstandighede – sy was in ’n onbevredigende verhouding met Mark, en ontmoet nou reeds heel aan die begin van die verhaal die manlike hoofkarakter (Joe) by Dates&Dance in Pretoria. Sy neurie saggies saam met Eduan de Bosch se lied, dan hoor sy vir Joe ook verder saamsing en leer hom ken.

Die ander karakters is byspelers wat nie fokaliseer nie. ’n Mens kry tog heelwat insig in Mark (wat elektroniese ingenieurswese studeer) se gevoelens. Hy skryf ook gedigte, en dít was wat vir Maya na hom gelok het toe hulle albei na ’n skryfkursus in Bloemfontein is. Al probeer sy wegkyk, kan sy haar oë steeds nie afhou van sy broeiende blik nie. Die leser raak egter nie té betrokke by die randkarakters nie sodat die leser nie weggetrek word van die verhouding tussen Maya en Joe as hoofkarakters nie.

Gesien in die lig daarvan dat die hoofkarakter en haar vriende (en dus die bedoelde lesers) in die adolessente fase van ontwikkeling is, is dit gepas om te let op die kenmerke van hierdie lewensfase en in watter mate die karakters hierdie beskrywings pas.

Adolessente is gewoonlik in ’n aktiewe introversiefase, wat lei tot die ontdekking van die ek, met haar wêreld van gedagtes, gevoelens, stemminge, drange, strewes en begeertes. Dit word hier deur Maya se perspektief uitgebeeld en lei tot die ontdekking van haar en die leser se unieke individualiteit.

Omdat die jeugdige gedurig met haarself gemoeid is, neig sy tot selfkritiek, veral bewustheid van haar uiterlike voorkoms. Dit word hier gemanifesteer in Maya se uiteindelike twyfel wie haar biologiese pa is en ongeërgde houding teenoor haar bos swart krulhare wat later (saam met ’n foto) aandui wie se gene sy dra. Die ontwikkeling tot volwassenheid en aanvaarding van haarself bring egter begrip vir haar afkoms en aanvaarding van haar ma se geheimhouding van háár verlede.

Die jongmens is baie bewus van tyd, naamlik verlede en toekoms, die verganklikheid van die lewe en die betekenis van die dood. Dit hang saam met die ontwikkeling van haar waardesisteem. Daar is in hierdie lewensfase dikwels van jeugdige optimisme sprake, wat gebalanseer word deur Maya se konfrontasie met die dood van Mark se ma. Hierdie proses van vergeesteliking word sterk beïnvloed deur die waardes van mense in haar omgewing, naamlik haar ouers, grootouers en vriende – in hierdie teks dan veral wanneer die hoofkarakter in die krisis verkeer aangaande haar afkoms. Hierdie kenmerk word verder uitgebeeld deur Maya se droom om ’n dokter te word, die konflik in haar toe sy besef sy wil steeds musiek in haar lewe hê, en ook haar deernisvolle besorgdheid oor Mark en sy ma.

In hierdie lewensfase worstel die jeugdige met ’n strewe na selfuiting, wat gestalte vind in haar skoolwerk, tegnologie, stokperdjies en belangstellings. Dit kan ook uitgebeeld word in die vorm van kunsuitings, waar die karakter se selfvorming en geestelike of kulturele ontwikkeling plaasvind – ’n aspek van laasgenoemde is dat die jeugnovelle uitbeeld hoe die uiting van verskillende vorme van kreatiwiteit, kunswaardering en die ontwikkeling van verskeie kunsvorme (kosmaak, ontwerp van klere met fatsoen en kleur, sang, instrumentele musiek, lees en skryf van gedigte) bydra tot die karakters se persoonlikhede en uitlewing van hulleself.

In Op die maat van Maya ondervind Maya ’n sterk skeppingsdrang, veral ten opsigte van haar ontluikende musiek en sang, sowel as haar wil om die probleme waarmee sy gekonfronteer word, self op te los, waardeur sy gestalte gee aan die waardes wat sy ontwikkel. Sy is erg ontstoke deur haar ma se dubbele waardes ten opsigte van seksualiteit toe sy ontdek dat haar ma al vir 19 jaar ’n seksuele geheim in haarself ronddra.

’n Ander kenmerk van die jeugfase is die tiener se rebelsheid. Sy word nie meer opgevoed deur woorde alleen nie, maar sy is veral in opstand teen die mense in haar omgewing se voorbeeld. Maniere waarop Maya haar verset toon, is deur haar eie wil en optrede met haar geld en besoeke aan die plekke waar sy saam met Joe optree in die band. Die gebruik van tienersleng is dalk ’n subtiele aanduiding van die hoofkarakter en haar vriende se rebelsheid.

In die adolessente fase ontwaak daar ’n verlange en behoefte na geesgenote, veral na iemand wat jy kan liefhê. Verhoudings met dieselfde en die teenoorgestelde geslag in Op die maat van Maya word uitgebeeld in terme van sulke vriendskappe, wat nie noodwendig seksueel is nie. Omdat hierdie verlange dikwels idealisties is, word jongmense soms ontnugter (teleurgestel) in hulle vriendskappe. Dit gebeur met Maya wanneer sy nie kan verstaan dat Joe nie wil hóór wat die rede vir haar besorgdheid oor Mark is nie.

Ruimtebeelding

Tolkien[12] onderskei tussen die sekondêre wêreld van die verbeelding en die gegewe realiteit, wat hy die primêre wêreld noem. Alhoewel die sekondêre wêreld van die skrywer en die leser se primêre wêreld in Op die maat van Maya dieselfde aard het, is hulle nie noodwendig identies nie – hier kan verwys word na die uitbeelding van Pretoria. Die uitbeelding van ’n eensydige wit, welgestelde samelewing kan dalk afbreuk doen aan die werklikheid van hoe Pretoria deesdae daar uitsien, en dit kan dalk vir party bedoelde lesers die geloofwaardigheid van die verhaal aantas.

Dit gaan in ’n jeugverhaal om die "vertel" van die lewenstorie, die transformasie van die data van ’n lewe in die vorm van ’n narratief: die skep van ’n narratiewe identiteit, ’n fiktiewe wêreld, al sou dit op die werklikheid gegrond wees. Die ruimte van die novelle is dan per definisie ’n fiktiewe ruimte, al sou dit direk verwys na ’n lokaliteit wat in die werklikheid net so bestaan. Deel van die ruimte in Op die maat van Maya is verwysings na selfone, SMS- en WhatsApp-tekste, die Boeremark, eet- en drinkplekke, die dameswinkel Feathers and Phantoms, Pretoria se botaniese tuin, bekende liedjies en internasionale televisiesterre en sangers – alles tipies van die hedendaagse samelewing.

Epiese ruimte is ’n gepersonaliseerde ruimte. Plekke en objekte bestaan nie ter wille van hulleself nie, maar ter wille van die betekenis wat dit vir die karakters het. Plekke van handeling en die ruimtelike kenmerke daarvan vorm daarom epiese speelruimtes of belangeruimtes eerder as blote lokaliteit. Onder “epiese ruimte” kan ons, ter wille van die bespreking, praat van die fiktiewe plek in hierdie boek waarbinne die handelinge van die karakters op ’n bepaalde tyd gebeur. Dit moet onderskei word van die werklike ruimte (Pretoria in die boek; die hoërskole Randvallei en Olimpus) waarop die fiktiewe ruimte gebaseer is en wat beteken dat daar ’n epiese ruimte in hierdie novelle is.

Die leser raak hier bewus van ’n narratiewe ruimte[13] wat fisiese ruimte, denkruimte en sosiale ruimte letterkundig uitbeeld. Intieme ruimtes dra by tot betekenis waarmee die leser kan identifiseer – dit word verbeeld deur plekke soos huise (Maya, Joe, Mark s’n) as konkrete ruimtes, terwyl sosiale ruimte die spanning tussen individue en die gemeenskap belig. Laasgenoemde verwys spesifiek na die spanning tussen Maya en haar ma in verband met Maya se deelname as saksofoonspeler en later sangeres van Joe-hulle se band.

Verder is daar in hierdie verhaal oop en geslote ruimtes wat naas mekaar gestel word. Inkluistering (“entrapment”) dui op fisiese of morele gevangenskap – soos wat Mark se ma aan haar hospitaalbed gekluister is tot haar dood. Dit beperk fisiese, psigiese, politieke of sosiale beweegruimte. Hierdie soort ruimte is egter nie van toepassing op Maya nie, omdat sy vrye toegang het om te kom en gaan van en na haar woonstelletjie, al is dit wel by haar ouerhuis.

Narratief en intertekstualiteit (teks, subteks en metateks)

Onderskeid kan getref word tussen die narratief in die novelle as letterkundige teks en die jeugnovelle. Soos voorheen genoem, meen ek dat Op maat van Maya eerder as ’n jeugnovelle gesien kan word omdat die trant, intrige en karakterbeelding ligter is as dié van die volwassene-novelle (soos wat bespreek word aangaande chicklit).

Die narratief in hierdie jeugnovelle het ’n streng epiese vloei van begin tot einde: Die verhaal begin met die begin en loop na die einde, terwyl daar wel terugflitse is in Maya se biologiese pa se herkenning van sy ma in Maya en die foto wat hy vir Maya wys, en ook haar ma se naam en van (Tharnia de Waal), en wanneer hy die storie vertel van 19 jaar gelede. Die sintaksis en dialoog (sowel as die interne monoloog van Maya) beklemtoon die konflik. Ten slotte is die epiese doelstelling van die narratief van hierdie jeugnovelle dié van versoening, waarin die konflik opgelos word. Die beweging tussen die begin, die einde en sentrale gebeure veroorsaak nie net spanning nie; hiermee word die hoofhandeling in die rigting van die moment van rus en vrede gestuur.

Daar is wel deeglik in die boek metatekste wat dus ook as intertekste dien. Deur die verwysing na kultuuraktiwiteite en media (populêre liedjies, TV-reekse, sangers, bekende boeke wat Maya lees, sosiale media soos Instagram, en modes van Europa) word bestaande strukture en samelewingsverbande gesuggereer, en die fiksionele wêreld word deur die gepaardgaande intertekstuele verwysings vergroot en gekonkretiseer. Die interteks wat die sterkste na vore tree, is die immerpopulêre liedjie van Chris de Burgh, “Lady in red”, wat in Afrikaans as “Die meisie met die rooi rok” as temalied dwarsdeur die novelle gesing word. Verder is daar die SMS-tekste wat die karakters vir mekaar stuur, die liedjies en bekende sangers, saksofoonspelers na wie verwys word, en Maya se stukkie in haar dagboek. Daar is ook ’n verwysing na die bekende TV-sepie 7de Laan wat in die primêre werklikheid steeds gewild is onder oud en jonk.

Verteller en fokalisering

In Op die maat van Maya is daar ’n interne ek-verteller – dus interne karaktergebonde fokalisasie. Die fokalisering wissel van Maya na die ander karakters en hulle dialoog om te wys wat hulle dink en voel en ervaar – dit gee die leser ’n goeie beeld van die oorsake (en oplossing) van die konflik tussen die verskillende karakters. Die leser ervaar dus saam met Maya en sien deur haar perspektief almal en alles wat in die verhaal gebeur.

Wanneer die fasette van ek-verteller se fokalisering in ag geneem word, is dit duidelik dat die perseptuele (sintuiglike) faset veral aan die orde kom wanneer die ruimte of atmosfeer uitgebeeld word. Ruimtelike fokalisering versterk dikwels die fokalisering van die gemoedstoestand of situasie van Maya, terwyl die ruimte dien as beklemtoning van haar verwarring en konflik oor watter waardes sy in haarself kan integreer om sodoende haar identiteit te bevestig. Die beskrywing van die verskillende warm drankies wat die vriende drink, die etes wat Joe se gesin maak – veral die pasta-sessie – sowel as Joe en Maya se besoeke aan die Boeremark en die geure wat hulle daar aantref, is tipies van die ruimtelike fokalisering. Opmerklik is Maya se sintuiglike waarneming van kleure en teksture in mevrou Dos Santos se modewinkel, die smaak van pizza en van kaneel in melkkos, die kamelia wat Joe vir haar gee, die suurlemoen se skil wat haar oupa breek, hoe die spelers van Joe se band en Mark se ma se kamer lyk, die kleure en teksture in Joe-hulle (en ook Mark-hulle) se tuin, Mark wat ruik na suurlemoen en koffie. Verder is dit gepas as Maya in haar dagboek skryf Joe is “soos ’n stuk spesiale sjokolade wat ek agter in my kas wil bêre en staaaadig eet. Happie vir klein happie. Blokkie vir blokkie. Want ek is so bang dit raak op ...” (64)

Wat die psigologiese faset van fokalisering betref, word die karakters se gedagtes en emosies deur Maya gefokaliseer. Dit sluit in kennis (bewussyn/wete/besef), vermoede (gissing en veronderstelling), mening (geloof/oortuiging), en Eduan en Tharnia se herinneringe aan 19 jaar gelede toe hulle saam op ’n Kontiki-toer was. Meestal is die ek-verteller in die emosionele en ideologiese komponente van die teks nie neutraal, objektief en onbetrokke nie – die waardes word hoofsaaklik ideologies gefokaliseer vanuit die perspektief van Maya (wat sy dink reg en verkeerd is) en haar belewing van die karakters. Dit is interessant om te sien dat veral die momente van spanning en konflik in die verhaal intense emosionele en waardeladings dra (laasgenoemde veral in terme van buite-egtelikheid en die gepaardgaande skande).

Die ideologiese fokalisering van norme en waardes waarvolgens die gebeure en karakters uitgebeeld word, is in die boek sowel implisiet (wat betref die fokalisering van karakters deur Maya se perspektief) as eksplisiet (soos gefokaliseer en uitgebeeld deur Maya se vertelling van die karakters se sienings en ervarings). Die leser kry nooit die gevoel dat daar gepreek word nie. Dit is veral Maya deur wie se oë en ervarings die leser ’n groter gevoeligheid vir verskille tussen mense (verskillende geslagte, ouderdomme) ontwikkel. Maya leer om haar eie gedrag en die gevolge daarvan te interpreteer, en dít lei daartoe dat sy minder veroordelend teenoor ander kan staan.

Deur Maya se lewe word die leser bygestaan in die proses van aanpassing en sy leer watter rolle sy moet en kan speel in die samelewing – spesifiek dat Maya haarself moet leer ken en aanvaar as buite-egtelike kind. Só vind waarde-ontwikkeling plaas en sy leer ken haar vryheid, regte en verpligtings. Die individu word begelei om haarself te sien as deel van ’n geheel, aldus Carlsen (aangehaal in Ghesquiere 1993:120):

Literature by its very nature is selective and suggests integrations, connections, insights into experience, and values which the individual [reader] might not otherwise find for [herself]. At the best literature confronts the reader with the basic eternal problems of human beings, thus helping the individual to see [herself] as a part of an ongoing history.

Slotopmerking

Gesien in die lig van die bespreking hier bo met betrekking tot die verskillende aspekte van die literêre gehalte van hierdie jeugnovelle en die mate waarin die verskillende funksies van jeugletterkunde daarin verweef en geïntegreer is, is dit vir my duidelik dat die skrywers in Op die maat van Maya ’n ryk sekondêre (literêre) werklikheid geskep het wat deur geloofwaardige karakters en gebeure bevolk word. Hierdie novelle is lesergerig en dra veral by tot vernuwing in jeugletterkunde binne chicklit as romantiese genre in Afrikaans. Gelukwense aan die skrywers en voorspoed vir julle verdere toekoms as fiksieskrywers.

Eindnotas as verwysingsbronne

[1] https://lapa.co.za/op-die-maat-van-maya-eboek.

[2] Rosenblatt, L. 1995. Literature as exploration. 5de uitgawe. New York: Modern Language Association.

[3] MA Rossouw (2013) verwys na die “geïnformeerde leser” en haar verduideliking daarvan stem ooreen met wat ek die “ingeligte leser” noem (https://literaryterminology.com/index.php/l/108-lesertipes).

[4] Burger, W. 2018. Die wêreld van die storie. Pretoria: Van Schaik.

[5] https://penpunt.wordpress.com/2021/04/19/op-die-maat-van-maya.

[6] Kapp, Sophia. 2010. Chic lit. In Riana Scheepers en Leti Kleyn (2010). Die Afrikaans skryfgids.  Johannesburg: Penguin Books.

[7] Drennen, IG. 2013. Novelle. In TT Cloete (red) 2013. Literêre terme en teorieë. Beskikbaar by http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/21-n/150-novelle.

[8] Ghesquiere, Rita. 1993. Het verschijnsel jeugdliteratuur. Amersfoort: Acco Leuven.

[9] Steenberg, E. 2013. Jeugliteratuur. In TT Cloete (red) 2013.

[10] Ek gebruik vroulike voorname wanneer ek na die bedoelde leser verwys omdat die hoofkarakter vroulik is.

[11] Marais, S. 2005. Afrikaanse tienertaal. MA-verhandeling, Universiteit van Johannesburg.

[12] Combrink, L. 1990. Die rol van die leser in die literêre kommunikasiesituasie. Die Unie, 86(7, 8, 9).

[13] Du Plessis, H. 2013. Die skep van ruimte in ’n roman, met verwysing na die drie koepelromans van Hans du Plessis. LitNet Akademies, 10(3):341–61.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top