Op die front line: ’n gesprek met Eavesdrop oor die rol van kunste

  • 0

Olivia M Coetzee en Eavesdrop (foto's: verskaf)

COVID-19 vra ôs om stil te raak en te dink oo waa ôs as mensdom is, maa dit is oek ʼn tyd vol frustrasies en alles wat dom is. Vi my was kunste altyd die plek waa mense kon ontspan en lat gaan van alle frustrasies en domgeide. Maa gedurende dié tyd wôd kunste nou agtertoe geskyf, want sosiale distansiëring moet handhaaf wôd. En dis net reg oek om veilig te bly, maa wat ek as skrywer nie kan vestaan nie, is hoekô wôd boeke nie vekoep nie? Hoekô dink artists nie buite die boks om kuns na die virtuele spasie te vattie? Maa dis maa vrae wat ek mien sit. Ek praat met ’n hip-hop emcee oo anne vrae wat my kop kwel oo hoe die huidige lyk vi anner artists in die land.

Kan djy my meer van jou vetel, wie djy is,  uit watter gemeenskap kô djy, en wat is jou “kuns”?

Hi Olivia. My naam is Monishia Schoeman ("Eavesdrop"). Ek kô uit Parkwood uit. Ek was daar gebore innie ‘80’s en ek het nog daar gebly met my familie tot 2019. Ek is ’n emcee (rapper), hip-hop activist en ’n budding playwright. 

Is jou kuns deel van jou identiteit en hoe gebruik djy dit in jou gemeenskap, of in die groter Suid-Afrikaanse samelewing?

My kuns is definitely ’n groot part van my identity; al rap ek in Engels, gebruik ek my stem om te praat oor die issues in my community, in Suid-Afrika en in die wêreld. Ôs as mense vannie ghetto’s gaan baie deur, en ôse stemme word nie gehoor nie. Die media paint ôs almal mettieselfde kwas, so ek gebruik my kuns om ’n meer accurate, alternatiewe reality te wys.

Ôs liewe in ʼn snaakse tyd, maa tog ʼn “wille en wonnerlike” tyd vi artists. Wat is jou  gedagtes oo hoe die arts en artists ʼn rol kan speel gedurende die tyd van COVID-19?

Die arts is vir my die enigste ding wat sin maak deur sulke confusing tye soos dié. Die artist is soos ’n spieël, ôs reflect wat onder die surface aangaan. As artists het ôs ’n responsibility om die “system” te challenge; ôs provide kos virrie siel. Ôs moet mobilise, but dis swaar wanneer ôs social distancing moet practise. Kuns is communal en gaan oor menslikheid, so nou moet ôs die tyd gebruik om nuwe werke te conceptualise, want die long-term effects van die lockdown gaan nog lank hier wees. Die gawemint is bymekaar met nuwe regulations en baie van daai regulations is om ôse regte te verminder innie naam van ôse “safety”.

Dis nie iets nuuts dat mens hoor van baie artists in Suid-Afrika wat swaarkry in terme van wêk en gigs en opvoerings en sulke dinge nie. Wat is jou mening oor hoe die gawement huidig agter artists kyk. Hoe wôd djy en die wêk wat djy doen beïnvloed deu COVID-19?

Die gawemint traak nie oor artists nie. Hulle sien ôs nie eers raak nie. Die funds wat hulle available gemaak het, het so baie terms en conditions dat baie freelance artists nie eers qualify nie. Die meerderheid van dié wat geapply het, wag nou nog om te hoor of hulle help kan kry of nie. Ek smous met vintage klere en jewellery deur markets om myself te support terwyl ek wag vir my project funding applications, but die lockdown beteken dat ek nou nie met my klere en jewellery kan smous nie en dat my projects stilstaan. Ek depend oppie oomblik op familie om my uit te help. Dis ’n sware tyd vir almal.

Vertel my meer van jou gemeenskap, en hoe mense in die gemeenskap COVID-19 en die lockdown hanteer.

Soos ek gesê het, ek het in 2019 uit Parkwood uit getrek, but ek is nog gereeld in contact met baie mense daar, en voor die lockdown het ek gereeld gekuier vir som van my projects wat daar plaas gevind het. Die mense word erg ge-illtreat deur die polisie. Hulle slaan die kinders en terrorise die diere. SANDF het ’n hond in close range morsdood geskiet naby waar ek gewoon het en die mense was baie omgekrap daaroor. As ek die stories compare met wat ek nou experience waar ek woon in Kenilworth, dan breek dit my hart, want om arm te wees in Suid-Afrika is die grootste crime! Mense kan nie die social distancing practise nie, want in ’n average huisie is daar omtrent sewe of agt mense en baie werk nie, so mense skarrel maar innie ronde en hulle loop die strate so gou soos die poliese weg is.

Wat is jou mening oo hoe ôs “heel” as ʼn nasie annekant gat uitkô?

Ek dink ôs gat stukkie vir stukkie annekant uitkô. Die meerderheid van ôs lewe van hand tot mond en mense sukkel om te survive onne die lockdown wat so lank aangaan. Om te survive makeer ons gemeenskap en samewerking, but die gawemint wil he ôs moet weg van mekaar af bly deur die tyd. Ek dink ôs sal die tyd survive, but nie sonder ’n helse klomp skuld nie; en dié is nou ’n tyd waar onwettige activities oorvat. Die bendes en crime rule die strate – van illegal entjies tot poliese wat drank smokkel. Dit gaan interessant wees om te sien hoe dinge verander na die lockdown. Dis adapt or die, en my mense sukkel nog once. Dit voel asof Jan nou net geland het, en hy het ’n nuwe, meer skelme plan.

Nina Simone sê: “You can’t help it. An artist’s duty, as far as I’m concerned, is to reflect the times.” Wat is jou gedagtes oo dit wat Miss Simone te sê het oo die verantwoordelikheid van ôs as artists?

Daar kom daai woord weer eens in: verantwoordelikheid of responsibility. Enige artist wat serious is en wat die nature vannie game verstaan, sal daai sense of urgency voel. Dis asof die sand al vinnigere deur die hour glass val en ôs het nog baie om te doen!

Artists are the servants of the people. Ôs is hier om te help. Ôs het ’n duty om issues te highlight, al is dit hóé swaar om dit te aanskou. Daar wat dit nie mag gesê of gedoen word nie, breek ôs die reëls om te wys dat daar eintlik geen boundaries is nie; solank jy niemand seermaak nie, moet jy doen wat reg is, en dit is om die status quo te challenge. Ôs breek die mental chains met gedigte, musiek, dans, stories, prente. Ôs help mense om iets anders te imagine, totdat hulle hul eie krag begin soek. Ôs is ook frontline werkers, but hulle sien ôs nie terwyl hulle unwind met daai relaxing musiek wat innie agtergrond speel nie.

Is daa miskien ienige projekte wat djy miskien biesag mien is, en wil djy ʼn bietjie vi ôs daavan vetel?

Ek is besig met my eerste hip-hop theatre produksie. Dit deal met drie karakters wat vannie Cape Flats af kom. Hulle is artists en in die storie sien ôs hoe hulle personal en community struggles hanteer terwyl hulle baklei om hulle creative paaie te support. Een van die topics is physical barriers en hoe ôse movement gerestrict word deur die way hulle ôse plekke gebou het deur apartheid – ôs is afgesny van sekere areas. Dan is daar ook die issue van turf wars waar jy nie vry voel om net te loop nie want die bendes skiet op mekaar en jy kan jou lewe verloor innie crossfire deur innie verkere plek te wees oppie verkere tyd.

As mens dink aan hoe die gawemint nou lockdown, curfews, permits (dompasse) en alle tipes restrictions in plek het, dan verstaan ons ’n bietjie hoe dit moet voel vir ’n mens wat innie Flets woon. Die poliese skud jong mans om elke hoek en draai, hulle kom “collect” by die gangsters, die smokkeljaate verkoop “blackmarket” entjies en drank after hours, die winkeltjies verkoop expired kos annie gemeenskap vir veel meer as wat dit kos – om ’n extra rand te maak op arme mense. Jy lewe as of jy ʼn inmate is, want vir jou wat innie Flets woon, is dit nog steeds apartheid. Jy lewe in gevaar want jy wietie wat gat nex gebeur nie. So gou’s die son sak, beter jy in jou huis wees, want dit is die uur waar die criminals oorvat.

Daa is soe baie inequalities in ôs se samelewing – hoe kan gawement ʼn bietere rol speel laat daa minner van daai inequalities in Suid-Afrika kan wies?

Oor die afgelope paar weke sien ek hoe gawemint skielik so baie geld het om basic services te deliver. Dit het my laat wonder hoeko ôs so lank moet gewag het vir die services wat nou so vinnig uitstiek? Vir my bewys dit dat hulle die capacity het, maar hule traak nie.

As die honderde NGO’s wat bestaan, maa net regte funding en support kan kry, sal baie van ôs mense beter af wees. Ôs moet ook ophou wag vir ’n Jesus om vir ôs te kô save en begin saamstaan om ôse mense op te bou. Totdat ôs begin verstaan dat ôs krag het once ôs saamstaan, gaan ôs aanhou mekaar af breek. Die inequalities kan verminder, but gawemint wil ons nie help nie; ôs moet organise. Hoe, weet ek nie presies nie, want dis swaar om ’n honger mens te convince dat hulle krag het. But ek glo in die mense van die land, en as ’n artist wil ek hê my werk moet mense lat dink, lat lag, lat huil, lat opstaan. As ek dit kan doen, kan enige iemand.

Wat is jou denke en mening oo die volgene:

  • Skool vs nieskool in 2020
  • “Entjies en drank is essential” vs “Verbied entjies en drank”
  • “Genoeg free data vi amal wat dit nie kan bekostig” vs “Almal hettie die internet nodigie”

Ôse kinders makeer skool in 2020. Skool is nie net ’n plek waar hulle leer en speel nie, dis ’n plek waar baie kinders kos kry vir hulle magies wat niks anders kry by die huis nie en dis ’n plek waar hulle miskien ’n bietjie meer veilig voel, want baie van ôse kinders word erg ge-abuse by die huis. Daar’s options om social distancing te incorporate, al maak hulle die klasse kleiner en minder, maar solank soos daar ’n system is vir kinnes wat nie by die huis kan leer nie, nie almal het data/wifi, laptops, tablets, safe huise, supportive families nie. Vir som is skool ’n rescue. Dis dit of bende, skarrel, miskien nie teruggaan skool toe in 2021 nie, etc.

Ek dink mense moet die reg het om te kies, but wanneer dit kom by drank, dink ek daar moet sekere tye innie jaar wees (public en religious holidays) waar die gawemint meer streng moet wees oor die verkoepery van drank vir dié wat irresponsible is. But entjies  moet nie gerestrict word nie. Dis ’n different saak.

Genoeg free data vir almal wat dit nie kan bekostig nie. Die wêreld raak al meer digital en die internet is ’n resource wat almal makeer. Dis goed ommie option te het.

Is daa nog ienige iets annes wat djy nog wil sê oo COVID-19 en waa ôs nou is as Suid-Afrikaners?

Ek vat miskien ’n kans hier, but ek glo die virus word teen ôs as ’n weapon gebruik vir veel meer agendas as wat die wêreld se gawemint wil he ôs moet wiet. Tot nou toe kan hulle nie explain waarvandaan kô die virus nie. Die gawemint praat net oor economics; dis net nommers en besigheid en groot beloftes wat ôs nie sien nie. Die censorship vir enige iemand wat ’n different opinion het, is erg, en die media gebruik net fear om ôs hopeless te laat voel. Dis ʼn heavy propaganda wat hulle mien besag is en hulle maak dat ôs begin bang raak vir mekaar. Die energy voel draconian en die details is missing. Dit voel asof osse president net orders vat en asof die bottom line financial is, nie safety nie. Ôs betaal nog altyd skulde elke maand en die banke leen geld an ôs in plaas van vir ôs uithelp, al is mens unemployed. Ek dink daar gaan nog baie nuwe regulations inkom en ek dink nie dit gaan goeie regulations wees nie, veral vir die arme mens wat innie ghetto’s woon nie.

So dis nou die tyd om jou kop clear te hou. Fear is ʼn dangerous energy, want dit maak jou confused en dit vat jou krag weg, jou inspirasie disappear. Die beste ding wat ôs kan doen is om die TV af te skakel. Mense begin mekaar treat soos enemies, te bang om te groet of te smile in public. Almal is nou skielik ’n virus suspect sonne symptoms. Dié is nie ’n gesonne energy nie. Protect jou gees en soek vir dit wat jou goed laat voel.

Soes Moneshia sê, “om bang te wies is ʼn gevaa’like ding”, maak nou nie saak of mens dit op TV of in realiteit ervaar nie. En dis waa kunste moet inkom, is om daai “gevare” se maskers te kô afpluk, dat mens kan sien wat is regtig spoke, en wat is net kussingslope met gate in. Op soe ʼn manier wiet mens hoe om met dinge te deal.

Ek hoep julle bly veilig daa buite en dankie dat julle gloe en kunste onnersteun soes julle kan.

Lees ook:

On the front line: An interview with Abdul Karrim Matthews

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top