Op die duin

  • 4

Sy kruip met ’n sliert hare wat al tussen haar oop lippe inwaai op die duin rond. Voor God kruip sy soos ’n hond, en uit haar mond kom droë tjankgeluidjies, fyn soos ’n baie siek baba wat byna nie meer asem het nie.

My naam is Hanna dink sy, deurmekaar van die sand wat tot in haar onderklere inkrioel. Die harde maande alleen met haar haaslipman dwing haar elke dag teen skemer die duine uit. Sy word een met die lug en die sandkorrels wat onder haar toonnaels vassit en as  mens ver staan en kyk, lyk sy soos ’n mond wat aan die hemel vassuig daar teen die hoë duin.

Geleidelik word die droë tjankgeluide duideliker, neem vorm aan teen die aand se silhoeët: "Here, Almagtige wat op my neerkyk hier waar ek teen die duin en wind voor U kruip, sien my vernedering aan. Vergeet U van my biltonglyf noudat ek so pyn voor U? As U my kan aansien en aan my ’n kind gee, sal ek hom of selfs as dit ’n meisiekind is aan U afgee. Teruggee aan U. Maar hierdie barheid in my, om my. Hierdie droë kameeldoring wat die enigste getuienis is van my droë lyf.”

Vir drie jaar lank aanmekaar die droogte. Die droë wind wat elke voutjie deurgeskifte gordyn vol sand waai. Sand tot in haar hare, haar skoon wasgoed, haar Bybel volgesyg met korreltjies van die duine af.

Die huis daar op die kaal oopte. Geen boom. Geen gras. Gras? Dis om van te lag. Daar is dan nie eers ’n kolletjie koelte vir die hoenders wat gapend teen die hitte onder kokende sinkstukke probeer skuiling soek nie.

Geen druppel reën nie as straf van Bo op haar begeertes. Haar warm droë lyf. Die sweet in die nag terwyl die sink krakend afkoel van die dag se son. Haar teësin vir haar haaslipman met sy drankasem en min woorde. Die duine golf om haar uit soos geplooide stukke mensbrein wat gestol het. Die haaslip lispel geen fluisterwoorde meer in haar oor om te probeer troos of om haar tot bedaring te bring nie. Hy kyk net oor die gestolde wêreld uit en begin al hoe meer drink.

’n Kind. Of reën. Daar is weer ’n hoender vrek. Die enigste sinvolle taak waarmee sy haar leë hande kan besig hou, is om die hoenders te versorg. Soos kinders roep sy hulle. Haal die eiers teer uit of los dit in die nes om kuikens te word.

Teen die vibrerende lug en die klein-klein wolkie wat dromerig verbydryf oor die verlate landskap, voel sy die eerste naarheid. Voel sy maande later die eerste roerseltjie beweging teen haar maag soos ’n kuikenpootjie wat roer. ’n Klein webpootjie wat huiwerig beur.

Haar rosyntjielyf krimp deinserig teen die duin. Hittegolwe vou die verwronge landskap soos ’n konsertina oop en toe op maat van haar dankgesang, maar die klank wat daarvandaan op die hitte aangesweef kom is soos dié van ’n honger hiëna wat lankuit tjank. Of soos ’n weemoedige konsertina stol die klank vibrerend in die lug. Verbaas oor die rammeling van onweer wat terselfdertyd die skemerhorison vul.

Dan kom die weerligstraal soos ’n skerp valk met ’n blitsige snawel en swiep haar teen die duin vas. Slaan haar in die duin in: Dis asof haar verkrimpte rosyntjieborsies verdwaas vasgroei in die sand. Asof sy besig is om die duin te bevrug terwyl haar naels soos swart kloutjies wortels word. Oerboom teen die groot ruimtes in.

“’n Rosyntjiebos teen die dorre sandduin?” wonder die haaslipman met sy hand bak oor sy oë teen die skerp skemerlig in. Groot druppels begin val uit ’n byna wolkelose lug. Dit is ’n spel van God: die heerlike uitkoms wat die duine mals sal oortrek met heuphoë gras en geel botterblomme in die wind.

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Elizabeth Venter

    Baie besonders, Saloom! Moenie ophou skryf nie. Mens begrawe nie jou talente so nie!!

  • Avatar
    Estelle Kruger

    Sjoe - hierdie verhaal tref tot diep binne-in my as leser. Die woordgebruik maak dat ek saam met Hanna deur die duine en droogtes worstel.
    Dankie vir hierdie diepte!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top