Eenheid in die Oos-Kaapse ANC oor pres Jacob Zuma se leierskap bestaan klaarblyklik nie meer nie. Veral omdat sekere ANC-lede voorgestel het dat net een van Msholozi se vier vrouens staatsgeld moet ontvang.
Alhoewel die provinsiale leierskap ontken het dat die Oos-Kaap nie so ’n resolusie aanvaar het nie, dui dit tog op onenigheid in die aanloop tot sy nasionale konferensie.
Dié onenigheid in dié tradisionele bakermat van die ANC het egter ’n lang aanloop. Histories het die ANC altyd sy vastrapplek in die Oos-Kaap gehad, waar die Xhosas die meerderheid en dominante etniese groep is. Daarom is dit geen verrassing dat die Oos-Kaap prominente ANC-leiers soos die Calatas, Mbeki’s, Mhlabas, Tambo’s, Sisulu’s en onse Madiba opgelewer het nie.
Die Xhosas het nie net omdat Zuma etnies buite dié “historiese bloedlyn” val, hul beheer oor die ANC verloor nie. Dit is ook omdat die Oos-Kaap naas KwaZulu-Natal (KZN) – die tuisprovinsie van Zuma – nou net die tweede grootste ANC provinsie is. Dit is nadat oudpres Thabo Mbeki die munisipale afbakeningsraad se voorstel aanvaar het dat Umzimkhulu met sy baie ANC-takke by KZN ingelyf word. Getalsgewys was dit ’n groot slag vir die Oos-Kaapse ANC.
Tradisioneel was ANC-presidente (uit die Oos-Kaap) nog altyd deel van die intelligentsia wat ’n baie hoë aansien op verskillende vlakke van die samelewing geniet het. Zuma val ook buite hiérdie “historiese bloedlyn”. Sy intelligensie was al talle kere ’n onderwerp van bespotlike bespreking. Ook die feit dat hy altyd sy toesprake vervelig en onsamehangend voorlees.
Nou soek die Oos-Kaapse ANC hul “historiese reg” as die grootste, invloedrykste en toonaangewendste provinsie van die organisasie terug.
In die soeke na hul “historiese reg”, en om van Zuma ontslae te raak, het die Oos-Kaapse ANC egter ongelukkig ook versplinter geraak. So verdeeld dat die ANC verlede maand sy provinsiale beleidskonferensie sonder enige resolusies afgesluit het. Afgevaardigdes was glo so verdeeld oor verskeie beleidskwessies dat die provinsiale leiers besluit het kommissies gaan nie terugvoering gee oor hul besprekings aan die konferensie nie. Dit was glo gedoen om verdeeldheid in die kiem te smoor.
Die “geld-vir-net-een-vrou”-voorstel het ook daar sy verskyning gemaak, maar Zuma-gesindes het dit glo verwerp.
Vanuit ’n ekonomiese hoek maak dié voorstel sin. Veral te midde van onbestendige finansiële markte, hoë rentekoerse, hoë brandstof-pryse en skokkende inflasiesyfers. Al Zuma se vrouens moet daarom nie geldelik ondersteun word nie.
Strategies was dit egter nie ’n goeie politieke voorstel nie. Dit word veral uit KZN gesien as ’n aanval op Zuma en die Zoeloes se kultuur en het die potensiaal om etniese polarisasie tussen dié groep en Xhosas te veroorsaak.
Op die ANC se nasionale beleidskonferensie het Zuma sy posisie as ’n populis binne die ANC egter gekonsolideer deur te propageer vir radikale ekonomiese transformasie. Hy het reg in die kraal van die ANC-jeugliga, die SAKP en die “tweede-oorgang-gesindes” – waaroor die Oos-Kaapse ANC erg verdeeld is – gepraat.
Met vernuftige politieke voetwerk het Zuma dus die reeds verdeelde Oos-Kaapse ANC nog erger verbrokkel en sy pad na Mangaung heelwat makliker gemaak.


Kommentaar
Msholozi se aanhoudende ge-'Mshini wam' klink miskien goed op die oor vir oud-vryheidsvegters, maar die regters in die Konstitusionele Hof weet al watter uitspraak hulle sal moet lewer indien iemand hulle van die ongrondwetlikheid van sy geweldsaanhitsing oortuig.