Titel: Oorvloed – Stadskos van die Kaap
Skrywer: Marlene van der Westhuizen (met fotografie deur Johan Wilke)
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN:9780798155410
Price: R325
Klik hier om Oorvloed – Stadskos van die Kaap van Kalarhari.com te bestel.
Marlene van der Westhuizen se sesde kosboek – die vierde een wat ook in Afrikaans verskyn – is een van daardie geil tiengang-bankette waarvoor ’n mens beslis meer as een servet, en verkieslik sommer ’n knewel van ’n borslap nodig het.
Want kwyl sal hierdie net meer as 200 bladsye jou voorwaar laat kwyl – of dit nou die 89 ek-wil-dit-nóú-maak-resepte is (meestal met ’n klassieke Franse aanslag), Johan Wilke se atmosfeerryke en aptytwekkende foto’s wat mooi tot hulle reg kom danksy die panorama-formaat en skoon ontwerp, of die skrywer se herinneringe aan die Kaapse plekke en mense wat vir haar gesin en vriende spesiale betekenis het. Tussendeur vleg sy ook pikante uitsprake oor kos, spesiaal vir die Afrikaanse uitgawe uitgesoek deur van Audrey Blignault, Boerneef en Louis Janse van Vuuren tot Joan Hambidge, Abraham H de Vries en Kerneels Breytenbach.
Oorvloed slaag met vlieënde vaandels as luukse resepteboek, maar is in wese ’n kos-ode aan die Moederstad se weldadigste buurte, strate en stegies en die lekkerste restaurante, bistro’s, bakkerye, deliwinkels en watergate wat jy daar sal aantref. (Die adres en kontakbesonderhede van iedereen verskyn agter in die boek.)
Die gasvrou/skrywer/samesteller/toerbegeleier nooi die leser om aan te sit by haar tafel en te “deel in die oorvloed van leef in die Kaap”. In die tien hoofstukke wat volg – interessant genoeg elkeen met ’n voorstel vir musiek wat die atmosfeer weerspieël – skiet jy dus met dapper en stapper vanaf die Seepuntpromenade tot De Waterkant en Groenpunt, die Bo-Kaap, Langstraat, Strandstraat, Observatory, Woodstock en ’n kosmark of twee, sonder om ooit van Die Berg en Die See en Die Sedoos te vergeet.
Dis ’n nostalgiese, gemoedelike, gulhartige gedoente, ’n “bokaal” of “kraffie” wyn altyd byderhand, met die Stormkaap wat onder meer as wulps, gulsig, mildelik, vrolik, salig en genoeglik besing word.
Kapenaars sal sekerlik in die wolke wees oor iedere strofe van dié loflied, en so ook smulpape wat terstond die kombuis wil invaar om die resepte te probeer, maar vir die uwe het die keurige Afrikaanse vertaling plek-plek net so ’n aks te geilsoet geraak. Op die flapteks is Kaapstad byvoorbeeld ’n “juweel van ’n stad wat teen Tafelberg aanbeur”, in die voorwoord “’n stad van oorvloed wat so gulsig aan die kant van Tafelberg klou”, ’n plek waar bekers vuurwarm, varsgemaalde koffie “gekoester” word en “die mis nesmaak teen die kus”.
In die groter prentjie is dit egter sommer ’n beuselagtigheid, soos ook die verkeerde spelling van Nanette van Rooyen se naam op bladsy 123, die besluit om dill in die Afrikaanse vertaling dil pleks van dille te maak, of om Brie met ’n hoofletter te skryf, maar chèvre, crottin, cheddar, mozzarella en gruyère meestal daarsonder (soos die meeste Afrikaanse publikasies dit spel).
Van der Westhuizen erken ook reeds op bladsy 13 by ’n begeerlike resep vir blomkoolsop met okkerneut-en-stiltonbroodjies dat sy verlief geraak het op okkerneute en okkerneutolie in die Franse dorpie Charroux, waar die gesin ’n huis het en sy kookklasse aanbied. Dié olie, wat beslis nie algemeen in Suid-Afrika beskikbaar is nie, word dan in verskeie resepte gebruik, en dit sou Kaapse en ander lesers baie gehelp het om te sê dis beskikbaar by die bekende deli Giovanni’s, of aanlyn by Main Ingredient.
Desnieteenstaande is die resepte werklik onintimiderend, gebalanseerd en verruklik in hulle eenvoud – van fantastiese slaaie en die heerlikste sop tot vars interpretasies van klassieke gunstelinge soos pissaladière, broodpoeding en lamspastei, selfs fudge. Nie ’n enkele een het ’n ellelange lys bestanddele of ’n kookmetode vol fieterjasies nie, en behalwe die feit dat sommige vanselfsprekend meer geskik is vir ’n ysige winterdag, is die grootste penarie waarmee Oorvloed jou laat, om te besluit watter jy eerste gaan probeer. Ek vermoed die aweregse heuningkoek op bladsy 67 wat stoomwarm uit die oond afgerond word met ’n laag gerasperde cheddarkaas (ja, sowaar!) en ’n geil sous van botter en heuning, gaan as Mej Oorvloed 2012 uit die stryd tree.
Met ’n rak wat ál harder kreun onder die kookboeke neem ek my elke maand of drie voor daar kom nooit weer een oor my drumpel nie. Maar as ek geweet het wat Marlene van der Westhuizen se Oorvloed – Stadskos van die Kaap vir my inhou, het ek wragtie die rooi tapyt uitgerol.
• Besoek www.goodfoodco.co.za vir meer inligting oor Marlene, haar ander kookboeke en die koskursusse wat sy in die Kaap en in Frankryk aanbied.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


