Oorsig ‒ Jakes Gerwel-gesprek (Suidoosterfees 2026): Afrikaanse radio: Op pad na uitsterwing of ’n nuwe bloeityd?

  • 0

Jean Oosthuizen gee ’n oorsig van die Jakes Gerwel-gesprek, “Hoe gaan dit met Afrikaanse radio?”, wat as deel van die jaarlikse Suidoosterfees plaasgevind het. Hierdie gesprek, met Frazer Barry, Martelize Brink, Lynden Jafta en Crystal Orderson, is in samewerking met Vriende van Afrikaans op 2 Mei aangebied. 


Afrikaanse radio: Op pad na uitsterwing of ’n nuwe bloeityd?

Is Afrikaanse radio besig om stadig dood te bloei of staan dit op die drumpel van ’n nuwe bloeityd?

Dis ’n vraag wat nie net nostalgie ontlok nie, maar ook ongemak. Want in ’n era van Spotify, TikTok en kunsmatige intelligensie is dit nie meer vanselfsprekend dat jongmense nog soggens hul radio aanskakel nie.

Tog was die boodskap van kenners by vanjaar se Jakes Gerwel-gesprekke tydens die Suidoosterfees in Kaapstad verrassend eensgesind: Afrikaanse radio leef – maar dit móét verander om te oorleef.

Onder leiding van Frazer Barry het Martelize Brink, Lynden Jafta en Crystal Orderson eerlik besin oor die stand van Afrikaanse radio, die aard van sy luisteraars en die uitdagings én geleenthede wat voorlê.

Van links: Frazer Barry, Crystal Orderson, Lynden Jafta en Martelize Brink (Foto: Jean Oosthuizen)

Die groot vraag is of mense nog radio luister; die kort antwoord is ja, maar nie noodwendig op dieselfde manier as voorheen nie.

Radio se grootste uitdaging is nie dat mense nie meer luister nie maar dat hulle anders luister.

“Die inhoud moet reg wees,” was een van die belangrikste punte wat uit die gesprek na vore gekom het.

In ’n wêreld waar musiek met een klik beskikbaar is, kan radio nie meer staatmaak op liedjies alleen om luisteraars te hou nie, sê Lynden Jafta, ’n radio-aanbieder en stasiebestuurder van Paarl FM (96.7 FM) in die Wes-Kaap.

“As dit net oor musiek gaan, sal luisteraars eerder na stromingsdienste beweeg.”

Wat radio volgens die paneel uniek maak, is inhoud: gesprekke, stories, perspektiewe en persoonlikheid.

“Solank die inhoud interessant genoeg is, sal mense bly luister,” is die konsensus.

Maar daar is ’n vangplek: moderne luisteraars se aandagspan is kort. Volgens die paneel is die kritieke venster tussen vyf en sewe minute. Daarna verloor jy hulle tensy jy hulle werklik kan boei.

Dit plaas enorme druk op aanbieders en vervaardigers om inhoud skerper, vinniger en relevanter te maak.

As daar een tema was wat deurgaans opgeduik het, is dit die rol van jongmense.

Hulle word dikwels gesien as die rede vir radio se verval maar volgens die paneel is hulle juis die sleutel tot sy voortbestaan.

Crystal Orderson, wat hoofsaaklik in die digitale ruimte werk, het dit duidelik gestel: jongmense is nie weg nie, hulle is net op ander platforms.

“Ons moet hulle kry om te lees, om te luister, om betrokke te raak maar ons moet dit doen in húlle taal en op húlle platforms.”

Dit beteken nie net tegnologiese aanpassing nie, maar ook kulturele en linguistiese aanpassing.

Die Afrikaans van jongmense lyk anders. Dit klink anders. Dit meng vryer met Engels en ander invloede. En dit maak sommige tradisionaliste ongemaklik.

Maar, soos Martelize Brink van RSG dit stel: dit is presies hoe ’n taal oorleef. “As ’n taal staties bly, het dit ’n probleem.”

Een van die mees emosionele temas van die gesprek was die idee van sogenaamde “suiwer” Afrikaans.

Brink het ’n insident vertel wat die spanning blootlê: ná ’n onderhoud met ’n man wat lewens red in myne wat ’n buitengewone storie was, het ’n luisteraar gekla oor sy “onvolmaakte” Afrikaans.

Die reaksie was vir haar ontstellend.

“Hoe kan jy iemand aanval wat oor die red van lewens praat, net omdat sy Afrikaans nie perfek is nie?”

Hierdie ingesteldheid, meen die paneel, is een van die grootste gevare vir Afrikaans en vir Afrikaanse radio.

Dit sluit mense uit. Dit skep skaamte. En dit beperk die taal se groei.

Lynden Jafta het dit prontuit gestel: daar is nie iets soos “een regte Afrikaans” nie.

“Daar is nie ’n ‘Suid-Afrikaanse Afrikaans’ wat almal moet praat nie. Mense praat soos hulle praat.”

Die opkoms van Kaaps en ander variëteite, onder meer deur projekte soos die eerste drietalige Kaaps-woordeboek, wys juis hoe Afrikaans besig is om te verbreed.

En dit is volgens die paneel iets om te vier en nie te vrees nie.

In die era van TikTok en KI is die digitale revolusie egter onontkombaar. Kunsmatige intelligensie, sosiale media en stromingsplatforms verander nie net hoe inhoud versprei word nie, maar ook hoe dit geskep word.

Tog is die paneel dit eens dat tegnologie nie die vyand van radio is nie maar ’n hulpmiddel.

Die uitdaging is om dit reg te gebruik.

Radiostasies kan nie meer geïsoleerd funksioneer nie. Hulle moet deel wees van ’n groter ekosisteem van inhoud – aanlyn, op sosiale media en via digitale platforms.

Orderson beklemtoon dat storievertelling sentraal bly tot goeie radio. “Dit gaan oor hoe jy stories vertel en hoe jy dit relevant maak vir jongmense.”

Selfs ou inhoud kan nuwe lewe kry. Musiek, programme en temas kan herverpak word vir nuwe gehore mits dit kreatief en eg gedoen word.

Die vraag is wie is vandag die Afrikaanse luisteraar? Die idee van ’n enkel, homogene Afrikaanse luisteraar is lankal verouderd.

Afrikaanse radio bedien vandag ’n diverse gehoor van jonk tot oud, stedelik en landelik, bruin, swart en wit en van konserwatief tot progressief. Een van die verrassende insigte uit die gesprek was die omvang van hierdie diversiteit.

Daar is byvoorbeeld groot Moslem-gemeenskappe wat lojaal na Afrikaanse radiostasies luister. Daar is jong stedelike luisteraars wat gemaklik tussen tale beweeg. Daar is egter ook ouer luisteraars wat steeds waarde heg aan meer formele Afrikaans. Die uitdaging is om hierdie uiteenlopende gehore te bedien sonder om een groep te vervreem.

Dit vra nie net slim programmering nie, maar ook sensitiwiteit en inklusiwiteit.

Lynden Jafta het beklemtoon dat suksesvolle radio nie toevallig gebeur nie maar dat  dit strategies benader moet word.

Verskillende tydgleuwe trek verskillende gehore. Jongmense luister nie noodwendig soggens na ontbytprogramme nie. Hulle skakel later in. Dit beteken programmering moet doelbewus aangepas word.

“Jy moet weet wanneer jou gehoor luister en wat hulle wil hê wanneer hulle luister.”

As jy dit verkeerd kry, verloor jy hulle maklik met net ’n druk van ’n knoppie as hulle na iets anders oorskakel.

Ten spyte van al die tegnologiese veranderinge bly een ding konstant, en dit is die krag van stories.

Mense luister na stories, of dit nou gaan oor ’n mynwerker wat lewens red, ’n historiese potgooi oor Shaka Zulu, of ’n plaaslike gemeenskapskwessie, stories skep verbinding tussen mense.

Dit is waar radio steeds ’n unieke rol speel. Dit bring mense bymekaar. Dit gee stem ’n aan gemeenskappe. Dit skep ’n gedeelde ervaring.

En dit is iets wat algoritmes nie maklik kan vervang nie.

Die toekoms van Afrikaanse radio hang nie net af van oorlewing nie, maar van groei. Volgens die paneel lê die antwoord in drie kernareas:

  • Aanpassing: Radio moet aanpas by nuwe tegnologieë en luistergewoontes.
  • Inklusiwiteit: Die taal en inhoud moet alle Afrikaanssprekendes insluit en nie net ’n sogenaamde elite nie.
  • Relevansie: Programme moet praat oor wat vir mense saak maak en hul werklikhede, hul uitdagings en hul drome.

Daarby kom nog ’n belangrike element, naamlik samewerking. Radio kan nie meer in isolasie funksioneer nie. Dit moet saamwerk met digitale platforms, podsendings, sosiale media en selfs ander tale en kulture.

Afrikaanse radio is nie besig om te verdwyn nie, maar dit is ook nie onaantasbaar nie.

As dit vasklou aan ou modelle, rigiede taalopvattings en beperkte gehore, sal dit stadig irrelevant raak.

Maar as dit bereid is om te verander, te groei en nuwe stemme toe te laat, lê daar ’n lewendige toekoms voor.

Miskien is die grootste les uit die gesprek dat Afrikaanse radio se toekoms nie gaan bepaal word deur tegnologie nie, maar deur mense. Deur wie ingesluit word. Deur wie gehoor word. En deur wie bereid is om te luister.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top