Jean Oosthuizen gee ’n oorsig van die Jakes Gerwel-gesprek, “The good, the bad and the ugly – who will govern?”, wat as deel van die jaarlikse Suidoosterfees plaasgevind het. Hierdie gesprek, met Adriaan Basson, Qaanitah Hunter en Mia Spies, is in samewerking met Flyleaf en Pan Macmillan op 26 April aangebied.
Wie gaan Suid-Afrika ná 29 Mei regeer?
Oudpresident Jacob Zuma se herverskyning op die politieke toneel as leier van ’n ander party het die ANC totaal onkant gevang. Dit gaan ’n groot invloed hê op 29 Mei se waterskeidingsverkiesing.
Daar is geen kans dat die ANC 50% of meer van die stemme gaan kry nie, wat beteken die tyd toe een party, naamlik die ANC, die politieke landskap in Suid-Afrika oorheers het, is verby.
Só het die politieke joernaliste Adriaan Basson en Qaanitah Hunter verlede Vrydag by die Suidoosterfees in Kaapstad gesê tydens ’n bespreking van hulle nuwe boek Who will rule South Africa? The demise of the ANC and the rise of a new democracy.
Die gesprekleier was Mia Spies van Netwerk24.
Daar bestaan konsensus onder Suid-Afrikaners dat 2024 se verkiesing bykans soos 1994 as ’n keerpunt beskou word. Die vraag op almal se lippe is egter wie gaan in die Uniegebou sit nadat die kruisies getel is?
Anders as in 1994 toe almal voor die tyd geweet het dit gaan die ANC wees, is dit vanjaar geen uitgemaakte saak wie die land ná 29 Mei sal regeer nie. Alles dui daarop dat die ANC nie langer alleen gaan regeer nie.
Volgens Basson is daar geen kans dat die ANC in vanjaar se verkiesing meer as 50% van die stemme sal kry nie. Hy voorspel dat hulle steun selfs tot so laag as 40% gaan daal. Dit beteken dat hulle met een of meer van die groter partye sal moet onderhandel om deel te wees van ’n nuwe regering.
In so ’n situasie is daar ’n beter scenario en ’n slegter scenario, sê Basson. Die beter scenario is dat partye soos die DA en IVP saam met die ANC ’n regering vorm ter wille van stabiliteit. Die slegste scenario is dat die ANC saam met partye soos die EFF ’n regering vorm wat as ’n nagmerrie bestempel word en die land se ekonomie kan ruïneer.
Dit is belangrik om in gedagte te hou dat daar binne 14 dae ná die verkiesing ’n president gekies moet word, sê Basson. Indien die ANC se steun soos wat hy voorspel tot 40% daal, is die kans dat Cyril Ramaphosa weer president word vir alle praktiese doeleindes daarmee heen.
Basson bespiegel dat die leier van die IVP, Velenkosini Fiki Hlabisa, dan deur sy party genomineer sal word en met die steun van die DA, EFF en ander partye Suid-Afrika se volgende president gaan word en dan ’n kabinet sal moet saamstel.
Die president word met ’n gewone meerderheid binne 14 dae ná die verkiesing deur die Nasionale Vergadering van die parlement verkies. Tot dusver was dit sedert 1994 elke keer die leier van die grootste party, naamlik die ANC, wat president geword het. Vanjaar se verkiesing kan egter die kaarte heeltemal deurmekaar krap as die ANC se steun so skerp daal soos wat Basson voorspel die geval gaan wees.
Basson en Hunter se boek eindig met een van drie moontlike toekomsscenario's: die goeie, die slegte of die lelike. Die scenario's, saamgestel deur The Brenthurst Foundation en In Transformation Initiative tydens ’n werksessie met vooraanstaande leiers in die sakewêreld en politiek, het intense openbare belangstelling geprikkel terwyl die land met sy toenemende probleme worstel.
Volgens Hunter het die draaipunt in die Suid-Afrikaanse politiek begin toe Zuma tydens die ANC se 52ste nasionale konferensie in 2007 as ANC-president verkies is in Polokwane. Dit was die begin van die kaping van die ANC deur ’n groep kaders in die party vir eiebelang.
Hunter sê Suid-Afrikaners behoort baie bekommerd te wees oor die steun wat die MK-party geniet en dit waarvoor hulle staan.
Volgens Basson kan die MK-party in die komende verkiesing soveel as 10% van die stemme op nasionale vlak kry as hulle gelukkig is en in KwaZulu-Natal (KZN) tot 25% van die stemme, wat ’n uitstekende prestasie is vir so ’n jong party.
Hy sê die MK-party het ’n formidabele organisatoriese struktuur in KZN. Zuma het die vermoë om op grondvlak kiesers te oortuig om vir hom te stem. Hy gebruik die ANC se mislukkings, waaraan hy ironies genoeg self aandadig was, tot sy en sy nuwe party se voordeel om te wys hoe swak die ANC regeer. Daarteenoor het die ANC geen goeie boodskap om aan die kiesers te verkoop nie.
Behalwe Zuma, is die res van sy party se leiers egter totaal onbekend aan die land. Niemand weet regtig wie befonds hulle nie. Daar is selfs gerugte dat hulle geld van Rusland of Belarus af kry en dat Zuma ’n kantoor in Belarus het. Die party is sterk sosialisties, anti-Grondwet en anti-demokrasie, sê Hunter.
Basson sê hy het nog nooit ’n flouer verkiesingsveldtog van die ANC gesien as vanjaar nie. Hulle het geen goeie storie om vir die land te vertel nie en gewone Suid-Afrikaners is deur die bank slegter af as wat hulle sedert die vorige verkiesing was.
Die verhaal van Tintswalo wat vanjaar ’n sleuteltema van Ramaphosa se staatsrede was, het heeltemal in sy gesig ontplof, sê Basson. Ramaphosa het die storie gebruik om die ANC se prestasies oor die afgelope drie dekades uit te lig, maar opposisiepartye het dit suksesvol gebruik om die ANC se mislukkings uit te wys.
“Die anomalie van die situasie is dat die regerende party in ’n vryval is wat sy steun betref. In enige normale demokrasie sou mens verwag dat die amptelike opposisie daardie stemme wat die ANC verloor, sou opraap, maar die DA kry dit nie reg nie. Dit maak nie sin nie,” sê Basson.
Hy het Ramaphosa se presidentskap as ’n yslike teleurstelling bestempel. “Feitlik sy enigste prestasie is dat hy die gloeilampe vervang het terwyl die huis afbrand.”
Dit gaan nie goed met Suid-Afrika nie, maar ten spyte van die ANC se dramatiese agteruitgang, kry die amptelike opposisie, naamlik die DA, dit nie reg om munt te slaan uit die ANC se agteruitgang nie. Daar is volgens Basson geen kans dat die Veelpartyhandves se partye saam meer as 50% van die stemme sal kry nie. Hy glo dat hulle op die heel beste 40% van die stemme sal kry.
Hy sien egter ook nie enige noemenswaardige groei in die EFF se steun nie, veral nie nadat die MK-party hulle kaarte so deurmekaar gekrap het nie. Organisatories sukkel die EFF ook om op dreef te kom.
Hoewel daar nie dubbelsyfersteun vir Rise Mzansi voorspel word nie, meen Hunter dit is ’n party wat dopgehou moet word in die toekoms en ’n goeie kans het om te groei.
Ten spyte van al die onweerswolke op die horison, is die goeie nuus volgens hierdie twee politieke skrywers dat daar wel ’n duidelike pad na ’n positiewe toekoms is. Dit sal moedige leierskap en slim denke verg om daar te kom, maar die “goeie”-scenario is aanloklik binne bereik.
“Die keuse is streng: Ons bou óf op die positiewe en neem die land vorentoe óf ons sal oorweldig word deur die negatiewe en eindig as nog ’n Zimbabwe of Venezuela. Ons het die mense, die beleid en die hulpbronne. Wat ontbreek, is die politieke wil om die moeilike keuses te maak wat Suid-Afrika van ’n ramp sal red.”
Tydens verlede Vrydag se gesprek het Basson daarop gewys dat hulle al drie as politieke joernaliste vir ’n uur lank op ’n openbare verhoog kon sit en die president en die regering kritiseer en sê net wat hulle wou sonder vrees dat hulle ná die tyd toegesluit of vervolg sal word. Dit is in baie lande van die wêreld nie moontlik nie en op sigself iets om voor dankbaar te wees.
Daarom moet Suid-Afrikaners jaloers waak ook die Grondwet, mediavryheid en die burgerlike samelewing, want politici alleen kan nie die land red nie.
Kommentaar
Dankie Djaan.