Oorle Ougert se opstanding

  • 0

Hierdie storie word in Namibië vir die waarheid vertel en ek vertel dit oor vir wat dit werd is. Name is vanselfsprekend denkbeeldig:

Günter Steinbach boer so ongeveer 55 km van ’n dorpie in die suide van Namibië af. Op ? dag was hy en sy ou Nama regterhand, Ougert, besig om ’n hek te vervang toe Ougert soort van inmekaar sak. Günther vermoed lae bloeddruk maar moes toevallig dié dag dorp toe om ’n paar tekorte aan te vul en gaan laai vir Ougert by die kliniek af. Toe hy hom later die namiddag gaan soek word hy deur die suster meegedeel dat Ougert vir behandeling opgeneem is. Hulle sal hom in kennis stel wanneer hy gehaal kan word. Twee dae later kom die oproep met die treurige nuus dat Ougert dit nie gemaak het nie en na groener weivelde verhuis het. Daar word gereël dat Ougert gekis word en Vrydagoggend gaan haal Günther, Ougert se gekiste oorskot. Nou – oompie Ougert was ? bekende en gerekende man in dié omgewing. Alle familie en naby-familie en bekendes en minder bekendes en selfs onbekendes van heinde en verre was daar, en die hele naweek is begrafnis gehou en feesgevier soos min dit dié ou nasie kan nadoen.

Twee weke later lui die telefoon weer en die suster deel Günther mee dat Ougert nou gesond is en gehaal wil word. Günther was stomgeslaan en spring dadelik in die pad dorp toe. By die kliniek kry hy vir Ougert op die bank onder die peperboom waar hy springlewendig en blakend gesond vir hom sit en wag. Toe hulle skemeraand op die plaas aankom was die werkers al in hul huise besig om die aand se maaltyd voor te berei. Günther sê hy sal nooit die histeriese tonele wat daardie aand op sy werf afgespeel het vergeet nie. Toe Ougert die deur van sy huisie oopgooi en afgeëts teen die lig van binne staan, was dit vir ’n oomblik doodstil. Toe gil en skreeu almal gelyk. Die ou huisie het net een venster aan elke sykant gehad en Ougert het die deur versper. Ougert se vier kinders wou te midde van die allerverskriklikste krete gelyk by die een venster uit – terwyl die ma-goed tevergeefs probeer het om met haar stewige agterstewe by die ander venstertjie uit te beur. Oumatjie se krete deur die toiletvenster het die huisie langsaan se bewoners laat uitpeul soos ? miernes wat oopgekrap word. Toe hulle egter vir Ougert in die deur sien staan was daar geen keer aan hulle nie. Sommige het die bosse gekies net om weer om te spring toe die vrees vir nog meer geeste hulle oorweldig. Kleingert het hom disnis teen die kameelhout-hoekpaal gehardloop en was genadiglik so uit soos ? kers. Ou Sera was al halfpad teen die enigste bloekomboom uit toe sy onseremonieel deur ou Evelien afgepluk is om plek te maak. Die twee honde van Ougert het so vir al die lawaai en gille geskrik dat hulle sommer aanmekaar gevlieg het en uiting gegee het aan jare se opgehoopte frustrasies en onderdrukte griewe. Kleingert moes gelawe word en het van vooraf histeries geraak toe daar van kliniek toe vat gepraat is.

Daar moes seker talle soortgelyke stories die rondte gedoen het na die opwekking en opstanding van die baie verlostes waarvan Matteus vertel en wat volgens hom daarna aan baie in die heilige stad verskyn het. Dit is half jammer dat hy nie ’n paar van die gevalle ook geboekstaaf het nie. Ek kan my die konsternasie na dié groot opstanding so half en half voorstel want daai ou huisies het mos ook maar klein venstertjies gehad.

Groete

Panda

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top