![]() |
|
Bron: penpusherpen.wordpress
|
In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
'n Sekere mnr en mev Bruce van Oos-Londen het op 'n aand in Maart 1967 teen omtrent kwart voor twaalf bed gaan slaap in hul woonstel in Matthewsweg. Dit was die goeie ou dae van hoë ekonomiese groei, lae inflasie en, natuurlik, min misdaad. Onbesorg het hulle, soos dit hulle gewoonte was, die stoepdeur van hulle woonstel effens oopgehou sodat daar 'n luggie kon deurtrek.
Die volgende oggend het hulle 'n aantal kaalvoetspore op die blinkgevryfde stoep raakgesien. Die spore het na die deur gelei en daar was jou waarlik selfs binne-in die vertrek 'n kaalvoetspoor op die vloer. Die speurdiens is in kennis gestel en 'n speurder kon met sukses 'n afdruk van een van die kaalvoetspore maak.
Ongeveer twee maande later het 'n sekere mnr Modderman en sy vrou, ook van Oos-Londen, so om en by tienuur gaan slaap. Hulle het al die deure en vensters van hulle woonstel, behalwe een, dig gesluit. Die venster wat hulle oopgelaat het, het weer eens uitgekyk op 'n klein stoepie en dit is oopgelaat sodat daar ook in hulle geval darem 'n luggie in die woonstel kon intrek. Die volgende oggend het hulle agtergekom dat daar in die nag iemand in hulle woonstel was. Klaarblyklik het die persoon toegang deur die oop venster verkry en 'n aantal kledingstukke gesteel. Weer was daar op die stoep minstens een duidelike kaalvoetspoor en die polisie kon ook daarvan 'n afdruk maak.
Op daardie stadium was daar 'n baie knap vingerafdrukspeurder met die naam Wicks in Oos-Londen werksaam. Hy het die linkervoetafdrukke wat by die twee woonstelle gemaak is, vergelyk met 'n voetafdruk wat geneem is van iemand wat van die inbrake verdink is - 'n kêrel met die naam Limekayo. Speurder Wicks het 47 punte van ooreenstemming gevind tussen Limekayo se linkervoetafdruk en die linkervoetafdruk wat by mnr Bruce se woonstel gemaak is. Daarbenewens het hy 15 punte van ooreenstemming gevind tussen Limekayo se linkervoetafdruk en die linkervoetafdruk wat by mnr Modderman se woonstel gemaak is.
Dit was egter die enigste getuienis wat Limekayo met die twee inbrake verbind het en regter Bennett van die Oos-Kaapse hooggeregshof1 moes besluit of hy op hierdie getuienis alleen skuldig bevind kon word. Baasspeurder Wicks het ook getuig. Wat hierdie saak ongewoon gemaak het, is dat dit nie die vingerafdrukke van Limekayo was wat hom met die misdaad verbind het nie, maar sy voetafdrukke. Wicks het getuig dat daar in beginsel geen verskil is tussen 'n voetafdruk en 'n afdruk van 'n mens se handpalm nie. Ook is daar nie in beginsel enige verskil tussen 'n vingerafdruk en die afdruk van 'n toon nie.
Om te wys hoe betroubaar sy waarnemings was, het hy verwys na 'n voorval in 1950 toe hy op 'n misdaadtoneel slegs 'n enkele regtertoonafdruk van die vermeende misdadiger kon vind. Hy het daarna vir elke aanklagkantoor in die omgewing gevra om daagliks afdrukke te maak van elke verdagte wat in die aanklagkantoor ingebring is. Op dié manier het Wicks daagliks ongeveer 20 voetafdrukke ontvang wat hy met die regtertoonafdruk in sy besit vergelyk het. Nadat hy vyf weke lank ongeveer 500 tot 600 afdrukke op dié manier vergelyk het, het hy een oggend 'n toonafdruk gekry wat ooreengestem het met die een wat hy op die misdaadtoneel gevind het. Die beskuldigde is gearresteer en hy het skuldig gepleit.
In 'n ander saak is Wicks se deskundigheid deur die beskuldigde se regsverteenwoordiger aangeval. Gevolglik het die polisie na 'n gevangenis gegaan en op skoon stukke papier die voetafdrukke van 999 mense gemaak. Van een van die kêrels, nommer 13, is twéé afdrukke gemaak en dit is ingesluit as nommer 33. Op dié manier was daar dan 'n duisend afdrukke. Al hierdie afdrukke is verseël en in 'n koevert geplaas en toe na Wicks se bevelvoerder gestuur. Die bevelvoerder is meegedeel dat uit die duisend voetafdrukke daar twee was wat dieselfde was en Wicks het die taak gekry om hierdie klomp afdrukke met mekaar te vergelyk en uit te vind wie se voetafdruk gedupliseer is. Die resultate van die eksperiment is in die hof bekend gemaak en weer was Wicks in die kol toe hy bevind het dat nommer 13 se voetafdruk gedupliseer is en tussen die duisend ingesluit is as nommer 33.
Regter Bennett was dus tevrede dat Wicks 'n knap vinger-, toon- en voetafdrukdeskundige was, en in sy uitspraak van 23 Oktober 1968 het hy tot die gevolgtrekking gekom dat die kanse dat Wicks gefouteer het deur Limekayo met die inbrake by mnre Bruce en Modderman se woonstelle in Oos-Londen te verbind, een in 'n miljoen was. Die regter was ook tevrede dat 'n toonafdruk net so dodelik kan wees om 'n misdadiger met 'n misdaad te verbind as 'n vingerafdruk. Limekayo is skuldig bevind en in daardie goeie ou dae was daar nog plek in die tronk vir hom vir 'n hele paar jaar.
Hoe omsigtig ‘n hof egter met getuienis oor voet- en skoenafdrukke moet omgaan, is nie te lank gelede nie op ‘n skokkende wyse geïllustreer in die verhoor van ‘n volkome onskuldige Fred van der Vyver weens die grusame moord op sy Stellenbosse vriendin, Inge Lotz. Die polisie se bedrog (ten opsigte van Fred se beweerde skoenafdruk in Inge se badkamer) en hul growwe nalatigheid (om dit sag te stel) ten opsigte van Fred se beweerde vingerafdruk op ‘n DVD-houer word in besonderhede bespreek in Antony Altbeker se boek Fruit of a poisoned tree: a true story of murder and the miscarriage of justice (Jonathan Ball, 2010). Ook die bekende forensiese deskundige David Klatzow waarsku – onder meer met verwysing na die Van der Vyver-skandaal - teen die misbruik van vinger- en voetafdrukgetuienis in sy onlangs verskene boek Justice denied: the role of forensic science in the miscarriage of justice (Zebra Press, 2014).
En as jy régtig belang stel: lees die volle verhaal van die Van der Vyver-verhoor in my LitNet-vonnisbespreking hier.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


