Oor Therion, Glen Hansard, Diana Krall, AC Newman en Donald Fagen

  • 0

Therion – Les Fleurs du Mal

Met die reinste van toevalle het ek op Therion afgekom. As dit nie vir daardie toeval was nie, sou ek nooit die moeite gedoen het nie. Ek was op soek na nog weergawes van die ou Franse pop-treffer “Pupee de Cire, Poupee de Son”, en toe ek my kry, koop ek die hele album Les Fleurs du Mal.

Therion is ’n Sweedse groep wat spesialiseer in pompeuse sinfoniese metal-musiek. Hulle het as ’n death metal-band begin, maar kon uiteindelik nie die versoeking weerstaan om ou musikale elemente in te bring nie: klassieke musici, kore, die lot.

Die musiek self, versprei oor hul vyftien albums, is uniek. Dit is nie soos die Bee Gees se eerste inkarnasie, waar ’n simfonie-orkes en koor die pop-liedjie versier het nie. By Therion is alles geïntegreer. Overdaad, en op die oomblik is ek mal oor overdaad.

Les Fleurs du Mal is gemaak om die groep se 25ste bestaansjaar te gedenk, en bevat weergawes in kenmerkende Therion-styl van ou Franse pop-treffers. Mens sou vrywel kon dink dat Serge Gainsborough, France Gall, Léonie, Claire Dixon, Isabelle en Marie Laforêt in hul grafte omdraai teen hoë revolusies as hulle hoor wat met hul musiek gebeur het – maar ek gee nie om nie. Therion se sangeresse (Sarah Deva, Martina Hombacher en Katarina Lilja) gaan tekere, van pop-koer tot sopraan-hoogvlug.

Hierna gaan ek ’n bietjie meer in diepte na die groep se ander albums luister. Hierdie was ’n baie aangename kennismaking. Ek skat mens kan verveeld raak daarvan ook, maar dit laat die bloed borrel. En dis uiteindelik al wat tel.

Glen Hansard – Rhythm and Repose

Klik hier om Rhythm and Repose te koop by Kalahari.com.

Hansard is die boegbeeld van twee groepe, The Frames en Swell Season. As solokunstenaar is hy ook vele figure. Die een is ’n soort John Martyn-sanger (“Love don’t keep me waiting”) met ’n sinnigheid in onrustige ritmes, ’n ander is ’n klassieke sanger-liriekskrywer met net ’n akoestiese kitaar om al die angstigheid aan die prut te hou (“You will become”). Dan is daar ook die minnaar wat worstel met twyfel en die besef dat liefde ook redding is (“What are we gonna do”). En net wanneer jy dink jy het die man se kop begin verstaan, spring hy uit met “Philander”, ’n liedjie waarin daar bronstigheid in die musiek lê en lis in die lirieke. Nadat mens deur al die gemoedswisselinge van die album is, bring Hansard alles tot ruste met “Song of good hope”, waarvan die titel die strekking netjies verklap. In sy geheel ’n album wat introversie weer modieus maak, en waarvan die rustige klanke jou uiteindelik aan die hakskeen gaan hap.

Diana Krall – Glad Rag Doll

Klik hier om Glad Rag Doll te koop by Kalahari.com.

In ’n onderhoud met Elvis Costello (haar man) noem Diana Krall hierdie album haar “song and dance album”. Die liedjies kom almal uit die jare ‘20 en ‘30, en kan beskryf word as synde iewers tussen torch en smartryke  liedjies oor liefdesverlies in gedempte jazz-toon. T-Bone Burnett, wat National Ransom, Spike  en King of America as produksieleier vir Elvis Costello opgeneem het, is haar produksieleier, en dit wys. Glad Rag Doll is vir my een van die mees toeganklike Krall-albums nog – musiek waarvan mens onmiddellik begin hou wanneer jy dit hoor. Dis nie altyd met jazz die geval nie. Wat ook gou duidelik is, is dat Burnett nie ’n jazz-album wou maak nie. Mens kan soms selfs elemente van country-musiek hoor, al is dit net in die groepering van instrumente (“Wide River to Cross”).  Ek is nie seker waar Krall wil hê mens moet dans nie, maar mens kan ’n baie stadige slow dance doen op die meeste van die liedjies, met die regte geselskap.

AC Newman – Shoot down the streets

AC Newman is die groot nek in The New Pornographers. Hierdie is sy derde solo-album, en ongelukkig die eerste keer dat ek hom op sy eie doenig hoor. Dis ’n befokte album, ’n massiewe dosis outyde pop met ’n folk-inslag. Pragtige melodieë, welluidende refreine, sang wat alles heroïes en goed laat klink. En altyd deur een of ander musikale element wat jou opnuut laat glo in die restouratiewe magte van ’n mooi deuntjie. So 40 jaar gelede sou die meeste van hierdie snitte treffersparades gehaal het. En daar is humor in oorvloed. Gaan luister na “Encyclopedia of Classic Takedowns” of “There’s Money in New Wave”.

Donald Fagen – Sunken Condos

Klik hier om Sunken Condos te koop by Kalahari.com.

Dit is asof mens skielik in die hemel is. Donald Fagen het nou al vier solo-plate gemaak sedert die ontbinding van Steely Dan. Die eerste daarvan, The Nightfly, was eenvoudig skitterend. Die volgende twee, Kamakiriad en Morph the Cat, was so-so grensend aan vervelig. Sunken Condos is weer absoluut prima. Die mengsel van jazz en funk is dramaties reg. Die musiek het die hegtheid wat laas op Gaucho hoorbaar was, met die hupsheid wat Nightfly so vars gemaak het. Daar’s koperblasers die hele wêreld vol en hulle looi die goed. Fagen se klavier is die ruggraat, en dan het hy ’n klomp kitaarspelers as handlangers wat bereid is om die krummels van plesier onder almal se voete te strooi. En wat my totaal verbaas het, is dat die snit wat my naas die magistrale “Slinky Thing” die meeste aangestaan het, ’n weergawe is van Isaac Hayes se se bekende “Out of the Ghetto”. Ek dink die ou wat op hierdie snit die tromme slaat, moes spesiaal bell-bottom-broeke dra om die regte ambience te kry. Wie het gesê Fagen kan nie tong-in-die-kies musiek maak nie? Laaste gedagte: hy sing dat dinge in sy lewe verander het. As so iets op ouderdom 64 nog kan gebeur, kan ons seker nie kla nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top