Geen rook of drank word toegelaat nie. Die vertoning begin stiptelik om 20:30. Kaartjienommers word noukeurig nagegaan en sitplekaanduidings gehoorsaam, want elkeen gaan gevul word. Vanaand is vol bespreek.
![]() |
|
Foto verskaf deur Warren Talmarkes
|
’n Ysige windjie het in die namiddag die Kaapse strate leeggewaai en die rooi kussings van die sitplekke is knus, die boonste ouditorium van die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum is gesellig aan die gons.
Dis ’n ongewone stel vir die jong “wie’s wie” van Kaapstad se modernilia: jong tydskrifredakteurs, filmregisseurs en al wat ’n bekende rockgroep is, van Bellville asook verder suid, word verteenwoordig, verloofdes aan die hand. Helder beligting in die portaal glans op gekamde hare en netjiese skoene en blink oë. Hier het hulle byeengekom om tjoepstil met gevoude, leë hande wat gewoonlik om sigarette of bierbottels gedraai is, in die donker te sit vir die reuse-geleentheid.
Drie skrander seuns met oorgroot blou oorpakbroeke betree die verblindende lig op die verhoog. “Hallo,” klink die jong man se stem skrikkerig uit oor die 1 500 insittendes. “Dit is Robin Brink, ons tromspeler, Ross Dorkin op die baskitaar en ek ... ek bewe,” kondig Beatenberg se sanger, Matthew Field, aan.
Die gehoor juig en klap oorentoesiasties toe Field sy voet begin tik en ’n wysie fluit. Hy sing ’n vrolike liedjie en eers herinner die melankoliese lirieke vlugtig aan The Shins voordat die bekende klank as “Vampire Weekend” geïdentifiseer kan word. Dié driestuk tokkel hul ondeunde folkmusiek met flink tromspel en ryg liedjie na liedjie in, nootvas en presies.
![]() |
|
Foto verskaf deur Warren Talmarkes
|
Die sowat 1 500 gesigte wat in die donker vir díé op die verhoog weggesteek is, luister gelate en klap hande in goeie gees. Die atmosfeer van afwagting is aansteeklik; dit hou mens net-net wakker wanneer die tweede laaste liedjie, die warm gloed van opgewondenheid, die gemaklike stoel, die einde van die week en die koue buite die ooglede laat swaar voel. Voete tik op die dik matte.
Teen die einde van ’n onberispelike stel van sowat tien liedjies en die inwin van ’n skare nuwe aanhangers bedank Field die hoof-item van die aand. “Dankie dat jy ons op jou skouers gedra het vanaand – en ek het daardie sin voor die tyd uitgedink, ja,” erken hy.
’n Twintig-minute-pouse volg waarin daar haastig en opgewonde glase wyn afgesluk en gulsig aan sigarette geteug word.
’n Enkele stoel, dramaties verlig, wag op die terugkerende gehoor. ’n Ou liedjie klink asof van ver, bewerig oor die luidsprekers op en die fluitspeler van Hamelin tree met sprokiesagtige dun bene in ’n stywe swart broek in die kollig – maar hy speel kitaar, nie fluit nie. “En as ek ooit die oggend sien … Nes ’n akkedis in die lente, sal ek uithardloop in die velde om die stilte te vang wanneer dit sing,” kraak sy karakterstem op en hy draai sy kop koddig skuins na die histeries betowerde gehoor. Sy blink kuif is agteroor gekam, en hy beklemtoon die einde van elke frase met ’n bruin stewelpunt in die lug.
Die aantreklike Sweedse musikant Kristian Matsson hou die skare teer in die palm van sy hand en hul hang aan sy lippe en maak sy woorde na. As The Tallest Man on Earth het hy pas sy jongste album opgeneem en direk daarna na Suid-Afrika gehaas, spesiaal vir hierdie vertoning. Die rooi ouditoriumstoele bons soos wat die hande klap. ’n Lang ry fotograwe staan wag met hul rûe teen die mure aan weerskante, onder die reusagtige skaduwees wat die langste man op die aarde se silhoeët vorm.
“Ek is lief vir jou, ou!” gil ’n emosionele manstem skielik uit die duister. “Jy’t ’n pragtige stem, ek kan my net indink hoe jy lyk – die volgende liedjie is vir jou,” antwoord die Skandinawiese sprokiesboek-Bob Dylan. Die leë stoel bly leeg staan agter hom, want soos wat die liedjies uit sy vingers spruit, sleur dit sy liggaam borrelend mee, nes die gehoor s’n. Tussen liedjies bekoor die kabouteragtige figuur met sy warm charisma terwyl lede van die gehoor om die beurt vir hul gunsteling-liedjies smeek. Hy sing “Where do my Bluebirds fly?”, “The Gardener”, “The Dreamer”, “King of Spain”, “Love is All”, en die skare voltooi singend sy sinne.
![]() |
|
Foto verskaf deur Warren Talmarkes
|
Sonder waarskuwing vind die oorstelpte gehoor dat die gestewelde sanger van die verhoog afwip en tussen hulle instap – die kollig volg hom en skielik is die glimmende gesigte van sy aanhangers sigbaar: “Nou kan ek julle ook sien!” roep hy uit en deel spontaan ’n paar drukkies uit.
Terug op die verhoog vir sy laaste nommer ... dan verskyn daar vanuit die linkervleuel ’n krulkop dame met ’n sagte gesig. Elke vrou in die gehoor se hart breek die oomblik toe sy haar mond na die mikrofoon mik en in soete duetsang inval by Matsson, die paartjie se lippe nader aan mekaar as aan die mikrofoon.
Betowerd, bekoor, sit mens. Ver verwyderd van die koue stad na die berge en dale waarvan daar gesing word; elke noot dryf soos ’n vertroostende briesie na die hart en gemoed.
Die dawerende applous, gefluit, gejil, die histeriese geluk kry nie end selfs na ’n encore nie. Die meisie langs my se gesig is sopnat gehuil, sien ek, toe ons uitstap. “Dit was sy vrou!” glimlag sy snikkend.
“Ek probeer al vir twee jaar om hierdie vertoning op die planke te bring,” sê Blaise Janichon van Your Friends wat die aand moontlik gemaak het. “Ek het ’n ongelooflike aand gehad.” Hy lyk bewoë en dit lyk of trane in sy oë blink. “Dit was … ’n reuse-sukses.”




