Oor respek en agting vir afvallige oortuigings

  • 6

Chris “Gilgamesh” Dippenaar skrywe vir my nou die dag in een van sy kommentare op ‘n artikel van my, dat ek moet respek betoon aan ander se oortuiging (lees – Goddeloosheid, ateïsme, agnostisiteit), en met dié verwys hy my na ‘n skakel wat die ateïs (a la Gilgamesh) se saak stel. Ander wil weer hê ek moet dit eerbiedig.

Respek betoon? Eerbied en agting betoon? Ek, ‘n gelowige in God, moet respek, agting en eerbied betoon aan die ateïs, die Godloënaar, die Goddelose, se oortuiging en standpunt omtrent God en Spiritualiteit? Tag! Ja, papier is werklik geduldig, en só ook kuberpapier ...

Kom ons kyk waarom ek nié respek, agting en eerbied kan en wil betoon nie.

Die woord ‘respek’ impliseer noodwendig dat ek eerbied, ontsag en agting moet hê vir sy oortuiging, want dít is wat die begrip ‘respek’ beteken;

Om agting te hê vir ‘n oortuiging, moet ek dus ‘n gunstige opinie, waardering, eerbied en respek daaroor en daarvoor hê, want dít is wat die begrip ‘agting’ beteken;

Om dus vir die agnostikus en die ateïs se oortuiging respek en agting te hê, moet daardie oortuiging dan tog immers ook respektabel wees, dit wil sê, dit moet agtenswaardig, fatsoenlik en eerbiedwaardig wees, want dít is wat die begrip ‘respektabel’, beteken.

Om eerbied daarvoor te kan hê, moet ek ‘n hoogagting daarteenoor hê, ’n gevoel van bewondering... want dit is wat die begrip ‘eerbied’ beteken, soos ek vir God het. Vir God het ek eerbied, agting, respek...

Ek dink teen hierdie tyd is dit duidelik waarom géén gelowiges agting, eerbied óf respek kan of mag hê ten aansien van afvallige en agnostiese sieninge en oortuigings nie, insluitende énige religie waardeur Jesus Christus die HERE ontken, geminag of verloën word as die uit-die-maagd eniggebore Seun van God, geïnkarneerde Woord van God, nie. Om agting, eerbied of respek vir sulke afvallige en agnostiese sieninge, religieë en oortuigings te hê, beteken gewoon dat God, die HERE, daardeur verloën word.

As ware Christene duld ons nie ander religieë en oortuigings wat die HERE Jesus ontken of misken of verwerp, nie, en het ons géén gemeenskap met diesulkes nie, behalwe om die Waarheid aan hulle bekend te maak sodat hulle anders oortuig kan word.

Die kwessie is dus, hoe die gelowige teenoor ongelowiges optree. Ons vervolg en vernietig nie afvalliges, soos die katolieke van die Middeleeue nie, ons nooi hulle en bedien hulle met die Waarheid – dít is hoe ‘n ware gelowige ‘n afvallige of ongelowige hanteer. Ons weet dat God hulle net so lief het soos Hy ons het, vandaar die opdrag dat ons moet gaan en dissipels van algar maak. Die feit dat sommige van hulle skop en slaan met die tong teen die prikkels, verander nie daaraan nie.

Groete,
Kobus de Klerk

 

 

  • 6

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Ja, dit is so; die Fariseers het  Jesus Christus ons GOD sommer gekruisig en menige ander gestenig omdat die Evangelie nie met hul leringe ooreenstem nie.

    Kobus, jy staan duidelik vas in hul geselskap.

    Die genade in teenstelling tot jou aanklag en veroordeling van ander, is dat Jesus Christus ons GOD se liefde die harte van Samaritane, hoere, tollenaars, melaatses en vele ander wat onder jou neerhaling sou deurloop, verlos.

    Skrifgeleerdes het nes jy neergesien op die gepeupel se "insigloosheid" en "spirituele onvermo?".

    Daarom het Jesus Christus, eenvoudige vissermanne soos Petrus geroep om Hom te volg.

    Kobus, dink net hoe lekker jy sou neersien op Jesus van Nasaret en Sy skape.

    Wel, jy laat nie 'n oomblik verby in jou belediging aan ander in hul diens tot eer van ons almal se Almagtige Lewende Skepper nie.

    Mense wat dieselfde oortuiginge, taal en kultuur deel, kom saam in hul groep.

    Geloof is egter elke hart op aarde se eie vreug in verhouding met ons almal se Almagtige Lewende Skepper.

    Wie het jou god gemaak om so oor ander se Godsdiens te oordeel Kobus de Klerk?

  • Chris Dippenaar

    Elke oggend as jou oe oopgaan moet jy besluit wie en wat jy gaan slegse vir die dag. Vanoggend het jy opgestaan en gesien dat jou "things-to-do" lysie effens kort is. Hoe gaan jy ooit jouself besig hou in die hemel?

  • CorneliusHenn

    Dis genadiglik ook so dat ons 'n grondwet in Suid-Afrika het wat Kobus de Klerk se minagting vir ander se Godsdiens onwettig maak. Nie dat Kobus in sy hoedanigheid met 'n "privaat profiel" en al op die werf enige agting vir wet en orde het nie. Dis om presies dieselfde rede wat Kobus voorheen prokureur, net as para-regskundige vandag naiewelinge nog geld uit die sak mag jaag. Ek wil tog versoek dat veral in die lig van Kobus se "privaat profiel" op die werf, daar tog net 'n bietjie minder streng met hul sensuur in enige kommentaar op Kobus se gebraak sal wees.

  • Respek betoon? Ag, asseblief, tog net nie dit nie. Dit sal beteken dat ek uit goeie maniere respek vir jou lewensbeskouing moet toon, en dit sal my tot kotsens toe walg.

  • Kobus de Klerk

    Ek sien ons het deesdae ’n duo – die twee C’s – Cornelius en Chris, wat met mekaar kompeteer oor wie die meeste snert kan kwytraak – Chris, moet ek sê, het net veel meer finesse in sy aanslag, behalwe natuurlik as hy stil-stotter kry soos hierbo. Cornelius bars natuurlik soos ’n ryp puisie gedurig uit. Hy kan dit nie verhelp nie – is waar, soms is dit ’n beter om stil te bly, dan lyk selfs die dwaas na ’n wyse.., Chris probeer, maar Cornelius weet dit mos nie.

    Cornelius, Oor jou onsinnige en onsamehangende geteem en verdagmakery is daar nie nuwe kommentaar te lewer nie. Die meeste mense wat hier lees, weet teen hierdie tyd ook wat met jou aangaan.

    Maar dit is interessant om te let daarop hoe jy jou ware religieuse kleure tentoonstel – aan die een kant, teem jy kamstig oor “Jesus Christus ons GOD ” (meeste mense weet nou al dat jy nie verwys na die God, die HERE van die Woord, in die Bybel nie, maar na jou eie versinsel – so ’n saamgeflansde lasterlike afgod bestaande uit ’n poespas alle religie?, hoe teenstrydig ook al, een wat saam met aliens in mitologiese ruimtetuie rondkerjakker, ens., maar waaraan jy die Heiligste van alle Name as etiket gaan koppel het, om daarmee nie net ander nie, maar ook vir jouself te probeer flous) – maar net daarna beken jy dat daardie mitologiese afgod wat jy versin, ondergeskik en afhanklik vir sy bestaan en funksionering is van wereldse wette, soos byvoorbeeld die grondwet van ’n land. Dus, daardie afgod van jou is op jou eie weergawe, ’n menslike (deurmekaar een, ja…) se versinsel.

    Die ware God, die ware HERE Jesus Christus, die Een na Wie in die Woord verwys word, is egter nie ondergeskik aan wereldse wette nie en Sy outoriteit is oorspronklik en nie die resultaat van wat mense met hul wêreldse wette Hom sou gun, nie. Trouens, aardse wette moet konformeer aan die Goddelike wette, anders lei dit tot anargie en haat – soos dit duidelik hier ter plaatse en elders blyk.

    Jy besef werklik nie wat jy doen nie, Cornelius.

    Chris, wat ’n stomme aanmerking wat jy maak… maar nou ja, wat anders?

    So, watter snert volg nou volgende van die agnostiese “Deuce C” (misken weet julle wat dit beteken?) se kant af?

    Kobus de Klerk

  • CorneliusHenn

    Deur myself as wetsgehoorsame burger te ag, veronderstel tog nie dat God onderhewig aan die wet is nie.

     

    Ek is 'n mens; ek is nie God nie.

    En dis presies hoe jy jouself veronderstel Kobus; jy minag die wet want dit sou volgens jou beteken dat God daaraan onderhewig is.

    Kobus wie het jou god gemaak?

    Ja so het ek dit al menigmaal uitgeroep ...

    As iemand dit vir jou in soveel woorde moet tik; Kobus de Klerk, jy is nie God nie, jy is 'n mens wat ons mensgemaakte wet en orde moet gehoorsaam.

    Sou jy dit verstaan het, was jy dalk vandag nog 'n prokureur Kobus.

    Maar sien, omdat jy dink jy is God en jou daarom nie aan mensgemaakte wette steur nie, sit jou turf sonder dat jy dit eintlik in jou gewetenloosheid besef.

    Wat ons Grondwet betref; ek is dankbaar om te kan getuig dat dit niemand behalwe fundamentele oorlogshonde soos onse berugte sensasie Kobus de Klerk in toom hou nie.

    Ons lewe in absolute Godsdiensvryheid waarin ek Hindoe, Moslem, Jood, Boeddhis of selfs 'n gehate katoliek kan wees.

    Die ou grote Kobus de Klerk van die werf sal genadiglik nie 'n blok ver kom as hy homself probeer verhef in 'n vyandige of meerderwaardige optog na 'n sinagoge, moskee of enige ander tempel nie.

    Jesus Christus ons GOD het self geleer; betaal die Keiser wat hom toekom.

    Geen wet in hierdie land vereis dat jy jou geloof moet verlo?n nie.

    Jy is vry om te kies.

    Gun ander hul vreugde; veral in die genade en liefde van Jesus Christus ons Hemelse Vader..

    Onderwerp jouself aan die wette in hierdie lewe mens!

    Dis jou HART wat tot in alle ewigheid aan GOD behoort.

    Amen

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top