Oor Pluto, Jupiter en spirituele dillusie

  • 5

Daar is niks so blind soos iemand wat deur ideologie betower word nie. Ons sien daagliks voorbeelde daarvan wanneer selfmoord-bomgooiers hulleself die ewigheid inblaas in die nastrewing van hulle moeilik verstaanbare doelwitte.

Hier, op die Sê word ons gereëld vergas met ’n blindheid van veel groter afmetings. Ons het te doen met ’n persoon wat nie net ideologies blind is nie maar wie se blindheid nou ook in fisiese blindheid gemanifesteer het. Ek verwys natuurlik na ons resident spiritueel intelligente Kobus de Klerk. Sy onlangse kommentaar op Panda se skrywe het my weer laat besef hoe gevaarlik ongebreidelde geloof in godsdienstige mites kan wees – dit kan jou fisies blind maak. Die gebeure van die afgelope dae, met die foto’s wat die New Horizons ruimtetuig van Pluto teruggestuur het, het my oortuig om maar ietsie oor hierdie fisiese blindheid van ons Kosie te skryf. Eintlik is Panda baie meer bevoeg en onderlê in die onderwerp as ek maar omdat dit sulke basiese begrippe is, sal ek maar ’n beskeie poging aanwend.

Pluto is ’n rapsie verder as Jupiter van die aarde af. Dit het die New Horizon ruimtetuig byvoorbeeld feitlik ’n dekade geneem om Pluto to bereik. Dié dwergplaneet is al in 1930 ontdek met baie eenvoudige (in vandag se terme) optiese instrumente. Jupiter is makliker sigbaar omdat dit soveel nader is aan die aarde en omdat dit heelwat groter is as die aarde. Pluto is maar 18,5% van die grootte van die aarde en tog kon dit met redelik eenvoudige optiese toerusting opgespoor word. Selfs Pluto se grootste maan, Charon, kon raakgesien word wat op sigself maar 9.5% van die grootte van die aarde is. Die foto’s hieronder gee ’n goeie idee van Pluto en Charon.

Pluto1pluto2

Jupiter is natuurlik veel groter as die aarde en sy mane is ook heelwat groter as Charon. Jupiter is die grootste planeet in ons sonnestelsel en daar kan ’n 1300 aardes in Jupiter inpas. Jupiter se grootste maan Ganymede se diameter is sowat 40% van die aarde se diameter wat dit nie alleen relatief groot nie maar uiters sigbaar vanaf die aarde maak. Eenvoudige logika gebaseer op die voor die hand liggende feite lei mens daartoe om te verstaan hoekom Jupiter en sy mane so maklik sigbaar is vanaf die aarde met baie eenvoudige optiese instrumente – selfs ’n gewone verkyker. Die feit dat die posisie en beweging van Jupiter en sy mane so goed bepaal en gedokumenteer is maak enige aanspraak dat Jupiter se mane nie sigbaar is vanaf die aarde nie, heeltemal belaglik. Die hipotese dat onbekende voorwerpe in die ruimte aangesien kan word vir Jupiter se mane of dat Jupiter se mane blote optiese illusies is, is so vergesog dat dit eintlik lagwekkend is. Jupiter en sy mane word daagliks vanaf die aarde met heel basiese instrumente waargeneem en die blote suggestie dat die hele wêreld se sterrekykers “dink” hulle sien dié planete kan bloot beskryf word as die vrugte van dillusionele brein.

Die onderstaande diagramme gee ’n idee van die posisies en relatiewe groottes van die al hierdie hemelliggame.

pluto3pluto4

Godsdiens is inderdaad ’n gevaarlike speletjie wat tot blindheid kan lei!

Groetnis
Thomas

  • 5

Kommentaar

  • Kobus de Klerk

    Mens is gevaarlik as jy vra vir bewyse waarin jy blindelings glo sonder enige bewys, Thomas? Vir God is daar natuurlik legio bewyse, soos reeds telkemale uitgewys. Die feit dat jy dit in jou agnostiese toestand nie kan begryp nie, doen daar egter geen afbreuk aan nie. As jy dit sou kon begryp, dan sou jy sekerlik ook 'n gelowige wees. Dit is dus jou tekortkoming, nie ons gelowiges s'n nie.
    Jy is dan ook een wat gedurig roem op die wetenskaplike metode en bewyse soek, maar as 'n gelowige dit soek in die dinge waarin julle as agnostici klakkeloos glo, dan is dit gevaarlik omdat dit van 'n gelowige kom? Nee wat. Jy sal nie hiermee wegkom nie. Jy sien, jy vergeet dat jy in jou agnostisisme een is van 'n besonder klein groepie mense op hierdie aardbol wat teenoor die massiewe hoeveelheid Spiritueel bemagtigde mense wie nie jou tipe probleem het nie, maar tog sal jy maak asof jy die maatstaf verteenwoordig.
    Pluto, vir jou inligting, is ongeveer 4,2 biljoen kilometer van hier af. Dink jy dit is maklik sigbaar? Eintlik is dit nie 'n planeet, soos destyds gemeen was nie, maar deel van die Kuiper-gordel wat baie later eers ontdek is. En ten spyte van al jou kwytlatings hierbo, kan jy nie bewys dat dit juis die 1930's se Pluto is wat afgeneem is, en nie dalk sommer 'n ander objek wat die ruimtetuig onderweg op sy vermeende trajek afgeneem het nie. Daar is geen bewys daarvoor nie. Daar is geen wetenskaplike metode ter sprake nie. Daar is geen onafhanklike kontrole om dit te verifieer nie. Jy aanvaar eenvoudig klakkeloos wat Nasa daaromtrent sê. Noudat jy vir bewyse gevra word en nie kan verskaf nie, probeer jy dit omseil met allerlei ongegronde aantygings en bewerings sonder om die probleem wat jou voor die deur gelê is, hoegenaamd te kan aanspreek en oplos. Wat beteken jou reeks foto'tjies? Jy kan nie een se aanspraak verifieer nie. Tog glo jy blindelings sonder enige hoop op bewys of verifikasie. Soveel anders en as ons, die gelowiges, wie in God glo en welke geloof gebolster word met die massas feite om ons heen wat SY bestaan objektief verifieer.
    Al wat gevaarlik is, is mense soos jy wat skromeloos sulke dubbel standaarde toepas wanneer jy nie kan bewys nie, en dan die persoon wat vir bewys vra, probeer uitskel.
    Kobus de Klerk

  • Kobus

    Die bestaan van Pluto en Jupiter en hulle onderskeie mane is streng volgens die wetenskaplike metode bewys en geverifieer. Die teorie oor hulle bestaan kan hulle bewegings verklaar en voorspel. Die foto's van NASA is slegs verdere bevestiging. Waarskynlik is jy onkundig oor die wetenskaplike metode en ons vergewe jou daarvoor, maar dan moet jy liefs nie opinies daaroor uitspreek nie.

    Jy maak egter stellings tot die teendeel. Jy beweer Pluto en Jupiter bestaan nie. Die onus rus dus op jou om volgens die wetenskaplike metode bewyse in te bring wat jou teorie staaf.

    Ek glo vas aan die Vlieënde Spaghetti Monster omdat mense oor die eeue al langer word. Jy kon tot dusvêr nie bewys dat die VSM nie bestaan nie - dus volgens jou redenasie is die VSM dus 'n bepaalde moontlikheid? Of hoe verstaan ek jou?

    Groetnis
    Thomas

    • Kobus de Klerk

      Nee, Thomas, ek het nêrens gesê dat daar nie sulke planete soos jupiter ens bestaan nie - ek sê hoe weet jy dit wat jy dink is jupiter, ens, is werklik jupiter oor daardie massiewe afstande? Bewys dit.

      Oor jou bewering van die wetenskaplike metodes rakende die posisies van jupiter en pluto, is dit sommer net lippetaal. Jy kan dit nie aandui nie. watter metode word aangewend en wat is die kontroles?

      Die spaghettimonster is 'n bewese versinsel. Die skepper daarvan het dit so uitgewys en wou dit as analogie gebruik. Bowendien het niemand nog ooit enige getuienis kon voorsien van so 'n versinsels se bestaan nie, anders as die werke van God, waardeur ons elke dag omring word, ens. Terloops, jy praat snert dat mense al langer word - hulle word korter. Daar is aantekeninge van reuse van antieke tye - nou is daar nie meer sulke reuse nie.

      Kobus de Klerk

  • Kobus

    As ek jou reg verstaan is die totale wetenskaplike wêreld met een massiewe bedrogspul besig. Om te wat?

    Jou repliek is so ongesubstasieerd en sonder enige logiese redenasie dat dit nie 'n antwoord waardig is nie.

    Groetnis daar in Kammalnd
    Thomas

  • Thomas,
    Dankie vir die interessante bydrae. Dis voorwaar ’n pragtige foto van die dwergplaneet Pluto wat op 18 Februarie 1930 deur Clive Tombaugh (1906 — 1997) ontdek is deur middel van ’n tegniek van flitsfoto’s van die sterrehemel en een van sy vyf mane, Charon wat eers 48 jaar later op soortgelyke wyse ontdek is. Een van die landmerke op Pluto is ook alreeds na Tombaugh vernoem. ’n Bietjie van sy as is met die volgende boodskap saamgestuur met die ruimtetuig New Horizons met die inskrywing: "Interned herein are remains of American Clyde W Tombaugh, discoverer of Pluto and the solar system's 'third zone'. Adelle and Muron's boy, Patricia's husband, Annette and Alden's father, astronomer, teacher, punster, and friend: Clyde W Tombaugh (1906–1997)” Wat sou ou Clive nie wou gee om die foto te sien nie?
    Die volgende inligting wat ek op die internet opgespoor het, mag ook interessant wees:
    • New Horizons is op 19 Jan 2006 vanaf Cape Canaveral gelanseer en het byna 9½ jaar later op sy naaste punt van 12 500 km tydens sy verbyvlug van Pluto gearriveer.
    • Ongeveer 99% van die data wat deur New Horizons ingesamel is, moet nog na die aarde teruggesein word.
    • Seine wat teen die spoed van lig beweeg, neem 4 uur en 25 minute om die aarde te bereik en dit gaan ongeveer 16 maande in beslag neem om al die data te versend.
    • Die tempo waarteen die seine versend word, is ongeveer 50 keer stadiger as die spoed van moderne kabelmodems.
    • Die nuwe foto’s wat nog afgewag word sal tien keer die resolusie hê van die foto’s wat tot dusver ontvang is.
    • ’n Video wat tydens die verbyvlug gemaak is, kan gesien word by http://apod.nasa.gov/apod/astropix.html
    Dis tog jammer dat die opgewondenheid en bespreking van hierdie wonderlike wetenskaplike prestasie bederf moet word deur Kobus de Klerk se snertpraatjies. Dit is dalk nodig om George Claassen se waarskuwing van tyd tot tyd weer onder die aandag te bring: "Jy lees KdK se woorde op eie risiko. Wees gewaarsku: konstipasie van die verstand mag jou oorval."
    Groete
    Panda

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top