Oor oudword

  • 3
Een van die dinge van oudword is dat jy voel niemand verstaan jou nie. Ja, glo dit maar, net soos 'n tienderjarige glo sy ouers verstaan hom nie, kan 'n oumens ook voel daar is nie volkome begrip vir hom nie. Niemand ken sy gevoelens en gedagtes presies nie, niemand ken sy bekommernisse en sy hoop nie. En hy voel daar is niemand teenoor wie hy sy hart kan ontboesem nie.
 
Wat weet ander van sy verlange na die wat al verhuis het na die ewige woning? Sy blywende skok oor die jonges wat skielik dood is, hulle wat nog nie moes sterf nie? Hy het gevoel hy moes nog gryp om te keer, toe is hulle al weg.
 
Daar is plekke wat hy nooit weer sal sien nie, mense wat hy dalk nooit weer sal sien nie, al leef hulle nog. Want hulle is ook al oud en swakheid, artritis pyn en die karige pensioentjie waarvan hy en baie ander moet leef, maak dit onmoontlik om te reis.
 
Die land het drasties verander, dinge is nie meer soos in sy jeug nie en hy weet nie of sy taal en sy mense sal kan bly staan teen die voortdurende aanslae op hulle nie.
 
Dit gaan ook oor die materiële dinge, hoe sal sy goedjies hanteer word na sy dood? Al is daar 'n testament, vertel dit nie alles nie. Wat sal van sy geliefdes word na sy dood? Geen mens kan dit met sekerheid weet nie, maar hy wil tóg weet daar sal altyd iemand wees wat omgee an versorg. Met dit as troos sal dit makliker wees om die oorgang te maak.
 
Varkspek
  • 3

Kommentaar

  • Varkspek
    Wat jy hierbo skryf, is werklik hartverskeurend en tog so waar, maar ongelukkige die koue realiteite van die lewe vereis dat elkeen lewenslank sy eie lot in die lewe moet uitkerf. Terwyl jy jonk en fisies kragtig is, is dit nie soseer moeilik nie, maar wanneer jy met ouderdom fisies tingerig word, word die angs weens persoonlike on vermoëns 'n realiteit.
    Ou mense met hegte families het nie soseer 'n probleem nie, want hulle het gedurig geliefdes wat vir hulle gaan omgee. Dan is daar ongelukkig ook die met families, wat nie meer vir hulle eie ou mense omgee nie, kannie wag om te erf nie. Die ouetehuise is skreiende voorbeelde daarvan. Met vele besoeke aan ou mense in ouetehuise, is dit opvallend met besoektye, hoeveel ou mense daar is wat nooit besoekers ontvang nie, behalwe van kerk-welsynsorganisasies of weldoeners wat omgee, maar dit is nooit dieselfde as jou eie mense nie.
    Wat staan daaraan te doen? Ek weet self nie.

  • Om iemand te sien sterf in hoë ouderdom maak die werklikheid van die mens se sterflikheid tot 'n skokkende realiteit. Dan besef jy dit is 'n paadjie wat jy alleen moet loop, geen mens kan jou vergesel nie en al anker is die woord van God soos vervat in Psalm 23.

    As jy dit werklik glo en aanvaar is jy nooit alleen nie al is jy deur mense verlate.

  • Dit is 'n voorreg om ouer te word. Dit is alles genade en geleende tyd. Ek wil nie filosofies raak nie, maar ouer (oud) word is nie vir sissies nie. Ek kan seker nie as een van die ouer garde gereken word nie, maar ek het al 'n paadjie gestap. Hoe ouer mens word hoe meer is jy geneig om goed uit die verlede te onthou. Baie mense sê jy kleef aan die verlede, miskien, maar vir jou was dit goeie tye en herinneringe. Niemand kan of durf jou dit te ontsê nie. In Spreuke sê dit, moet nooit sê die verlede was beter nie, dit is onwys om dit te sê. Ek stem heelhartig daarmee saam. Jy weet nie wat die toekoms vir jou inhou nie. Ek kry die ouer/senior burgers jammer wat in ouetehuise/aftree-oorde alleen sit en vergaan. Sien dit baie. Skoonpa bly in aftree-oord. Daar is mense wat hul families nie meer sien nie. Ek weet van seniors se kinders wat oorsee woon en niks van hul laat hoor nie. Een geval is 'n ou dame wie se seun in die VSA woon. Hy is 'n baie suksesvolle chirurg. Die tannie loop en vertel hy gaan haar nog kom haal. Sy wag al 10 jaar. Dit is tragies. Een van die voordele van ouer word is jy kan bestuur soos jy wil, jy kan stout kinders in supermark uittrap, jy kan in rye indruk en jy hoef nie vir jou pelle presente op hul verjaarsdae te koop nie, want hulle het alles.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top