Oor oorlog en vrede: perspektiewe op die Amerikaanse aanvalle op Iran

  • 1

Terwyl ek in Januarie 2020 besig was met die boek Oorlog en vrede uit die pen van die Stellenbosse filosoof Willie Esterhuyse, laat pres Donald Trump die Iraanse generaal Qasem Soleimani doodmaak en laat die bloedspoor van die geskiedenis dus weer ’n vars merk in die hedendaagse nuus. Esterhuyse skryf in sy boek inderwaarheid oor ’n geskiedenis van “georganiseerde dodelike” geweld deur baie eeue. Sy boek sluit aan by ’n eeue oue debat oor die vraag of die mens van nature magsugtig en gewelddadig is. Die boek ondersoek hierdie probleem vanuit ’n historiese en filosofiese perspektief. Esterhuyse aanvaar ook die gewelddadige natuur van die mens as ’n vertrekpunt. Hy fokus ook op wat in die geskiedenis gedoen is om dié “natuur” teen te werk of vrede te bevorder.

Esterhuyse se boek en die konsep van oorlog en vrede het opnuut by my opgekom nadat Trump opdrag gegee het dat Iran op 28 Februarie 2026, met steun van Israel, aangeval moet word en dat die land se opperleier spesifiek geteiken word en met sy lewe moes boet. Laasgenoemde is moontlik gemaak deur Israel se uitsonderlike vermoëns op die gebied van intelligensie, dit wil sê spioenasie in Iran.

In die akademiese omgewing waarin ek my bevind, naamlik politieke wetenskap, begin duisende eerstejaars by talle universiteite in veral Westerse samelewings die nuwe akademiese jaar met ’n inleidende kursus in internasionale politiek. Wêreldwyd word kursusse dikwels afgeskop met die Meliese dialoog, soos dit verskyn in Boek V van die Geskiedenis van die Peloponnesiese Oorlog deur die antieke Griekse historikus Thukydides. Dit beskryf onderhandelinge in 416 vC tussen die magtige stadstaat Athene en die klein eiland Melos tydens die Peloponnesiese Oorlog.

In kort: Melos was neutraal in die oorlog tussen Athene en Sparta as mededingende stadstate. Athene het geëis dat Melos hom onderwerp en belasting betaal. Die Meliërs het ’n beroep gedoen op geregtigheid, neutraliteit en hoop vir Spartaanse hulp. Athene het botweg geantwoord: “Die sterkes doen wat hulle kan en die swakkes ly.” Die Atheners het aangevoer dat geregtigheid slegs tussen gelykes in mag geld. Mag bepaal uitkomste. Oorlewing vereis onderwerping aan sterker state. Die Meliërs het aangevoer dat geregtigheid en moraliteit saak maak. Neutraliteit moet gerespekteer word. Diplomasie het misluk en die uitkoms was tragies. Athene het Melos binnegeval, die volwasse mans tereggestel en al die vroue en kinders as slawe weggevoer. Athene het later ook koloniste op die eiland gevestig.

Die Meliese dialoog is vandag nog een van die grondtekste in die akademiese dissipline van internasionale politiek en die beoordeling van oorlog en vrede. Dit is eweneens onderliggend aan debatte oor mag, moraliteit en internasionale reg. Dit vorm steeds ’n belangrike grondslag van die teorie van realisme in die vakgebied van internasionale politiek.

Die teorie van klassieke realisme in internasionale politiek is een van die oudste en stellig die invloedrykste benaderings om internasionale verhoudinge te verstaan. Dit benadruk veral mag, nasionale strategiese belange en die rol van menslike natuur in politiek. Klassieke realiste begin ook by die aanname dat die mens van nature selfgesentreerd, magsgerig en soms aggressief is. Daarom weerspieël politieke leiers en staatsinstellings hierdie menslike eienskappe. Gevolglik is konflik en mededinging tussen state onvermydelik.

Vir realiste is mag is die kern van internasionale politiek. State se hoogste strewe is om mag te verkry, te behou en uit te brei, omdat mag veiligheid en invloed verseker. Militêre mag is gewoonlik die belangrikste instrument, maar politieke en ekonomiese magsuitoefening speel ook ’n rol.

Teen hierdie agtergrond het Athene die volgende standpunte teenoor die diplomate van Melos gestel:

  • Geregtigheid geld slegs tussen gelykes in mag. Die internasionale sfeer het geen oorkoepelende gesag nie.
  • State tree op om veiligheid te bewaar en invloed uit te brei. Morele taal is dikwels ’n vermomming vir swakheid. In ’n anargiese stelsel vereis oorlewing onderwerping aan magsrealiteite.

Daarom het Athene se standpunt die kiem geword van wat later sou uitkristalliseer as die teorie van realisme.

Daarteenoor was die Meliese diplomatieke standpunt gegrond op internasionale moraliteit. Uit Melos is geantwoord:

  • Geregtigheid en billikheid behoort saak te maak, selfs tussen ongelyke entiteite.
  • Neutraliteit behoort gerespekteer te word.
  • Beroepe op norme en politieke alliansies is legitiem.
  • Hoop en morele regverdigheid is nie irrelevant in die politiek nie.

Melos se standpunt weerspieël wat teoretici in internasionale politiek later met normatiewe waardes sou assosieer – ’n teorie wat bekend geword het as idealisme.

Die Amerikaanse aanvalle op Iran se eerste fase was hoofsaaklik ’n lugveldtog teen Iraanse militêre infrastruktuur. Duisende aanvalle het lugverdediging, missielbasisse en vlootinstallasies geteiken. Die doelwitte was:

  • die vernietiging van Iran se ballistiese missiele
  • die vernietiging van fasiliteite van Iran se kernprogram
  • die verswakking van die Revolusionêre Wag.

Iran het, soos verwag, teruggeslaan deur

  • Amerikaanse basisse in die Midde-Ooste te teiken
  • missiele en hommeltuie teen Israel te lanseer
  • infrastruktuur in ander Golfstate aan te val.

In die agtergrond vra sommige waarnemers soms of die konflik in die Midde-Ooste nie te doen het met die wegvoering van die Jode uit Israel/Juda na die destydse Persië (in wese vandag Iran) nie. Die antwoord is nee, en vandag is Israel nie meer dieselfde as die ou antieke Israel en Juda soos dit in die Bybel opgeteken is nie. Daarby moet ons verstaan dat die meeste Israeli’s Jode is, maar onderling sterk verskil in hoe godsdienstig hulle is. Onder Joodse Israeli’s lyk die prentjie min of meer so:

  • Sekulêr (Hiloni): ± 40–49%
  • Tradisioneel (Masorti: ’n middelposisie tussen sekulêr en ortodoks, maar leef nie streng volgens Ortodokse religieuse wette nie): ± 29%
  • Religieus/Ortodoks (Dati): ± 13%
  • Ultra-ortodoks (Haredi): ± 9–11%.

Christene maak slegs ’n baie klein persentasie van Israel se bevolking uit. Christene wat Israel dus as die Israel van die Bybel, of sy inwoners as die uitverkore volk beskou, soos wat ’n mens soms hoor, tas mis.

Iran se onmiddellike reaksie op die aanvalle deur die VSA (en Israel) was om:

  • Amerikaanse basisse in die Midde-Ooste te teiken
  • missiele en hommeltuie teen Israel te lanseer
  • infrastruktuur in ander Golf-state aan te val.

Die Amerikaanse aanvalle op Iran was deels ook ’n reaksie op Iran se gebruik van proksies om Israel aan te val, waaronder Hamas in Gaza, Hezbollah in Libanon, milisiemagte in Irak, en Houthi-rebelle in Jemen. Hamas se aanvalle op Israel op 7 Oktober 2023 was immers die gevolg van Iran se langdurige ondersteuning aan dié organisasie oor baie jare. Dit verklaar ook waarom Israel in die Amerikaanse aanvalle ’n geleentheid gesien het om Iran militêr hard te slaan.

Ekonomies was die risiko’s van die VSA se aanvalle op Iran dadelik duidelik: Iran is in ’n posisie om as weerwraak die Seestraat van Hormuz onbruikbaar te maak – een van die wêreld se belangrikste olieroetes. Kort na die aanvalle op Iran het internasionale oliepryse inderdaad opgeskiet.

Sonder om hier te spekuleer oor die kort-, medium- en langtermynuitkomste van die konflik, bring dit ons weer terug na die paradigmastryd tussen die realisme en die idealisme as twee van die belangrikste teorieë in internasionale politiek as akademiese dissipline. Realiste sal aanvoer dat die aanvalle op Iran plaasgevind het teen die agtergrond van die volgende oorwegings: Die VSA probeer voorkom dat Iran ’n dominante streeksmag word, terwyl Iran daarna streef om sy politieke invloed in die Midde-Ooste uit te brei. Indien Iran kernwapens sou verkry, kan dit die magsbalans in die streek drasties verander. Daarom probeer die VSA en Israel dit voorkom.

Realiste sal verder argumenteer dat wanneer Iran sy verdediging versterk (byvoorbeeld deur missielprogramme of ’n kernprogram), ander state dit as ’n bedreiging beskou. Dit lei tot ’n militarisering van die streek. Iran gebruik ook reeds lank proksiemagte om sy politieke invloed uit te brei sonder direkte oorlogvoering. Vanuit hierdie perspektief is die konflik in wese ’n stryd om strategiese mag en invloed in die Midde-Ooste. Vir Israel gaan dit oor inderwaarheid oorlewing. Dit is vir hulle ’n nul-som-spel.

Die idealistiese perspektief, daarenteen, beklemtoon dat konflik dikwels ontstaan omdat internasionale organisasies, ekonomiese samewerking en veral diplomasie misluk. Idealiste sal die konflik vanuit die volgende perspektiewe beskou: Die kernkrisis het vererger nadat die VSA in 2018 uit die Joint Comprehensive Plan of Action onttrek het wat Iran se kernprogramme ingeperk het. Dit het die diplomatieke vertroue tussen die VSA en Iran ernstig geknou. Verder kon organisasies soos die Verenigde Nasies nie die konflik voorkom nie en lyk die organisasie vandag swakker as tevore. Die Verenigde Nasies is tans inderdaad finansieel en institusioneel onder ernstige druk – en gevolglik dikwels ’n blote toeskouer in internasionale konflikte. Dit plaas multilaterale diplomasie as ’n sleutelfaktor op die kantlyn.

In denke en beleid moet ons dus twee vrae altyd saam oorweeg: Watter strategiese realiteite dwing optrede af, en watter ruimte vir normatiewe intervensie en diplomasie bestaan? Die Meliese dialoog bly relevant omdat dit ons dwing om beide die harde realiteite van magsverhoudings en die morele eise van geregtigheid en neutraliteit te oorweeg. Die Amerikaanse aanvalle op Iran illustreer dat internasionale politiek nie slegs ’n spel van strategiese posisionering is nie, maar ook ’n etiese veld waarin die gevolge van óf militêre óf diplomatieke keuses menselewens en die wêreldekonomie raak.

Die uitdaging is om strategie en etiek so te kombineer dat die nasionale en humanitêre koste van konflik tot die laagste moontlike vlak beperk word. Of dit nagestreef kan word deur magsuitoefening, deur multilaterale diplomasie of deur ’n kombinasie van instrumente, bly ’n kernvraag wat invloedryke leiers en burgerlike samelewings – en ons as besorgde waarnemers van die internasionale politiek – sal bly konfronteer.

Luister ook:

Stemnota: Trump en wêreldwye energiebeheer

Stemnota: VSA-Israeli-konflik met Iran

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top