......
‟Bruin mense is immers die (weliswaar stilswyende) meerderheidsprekers van die Afrikaanse taal, hoewel hulle terselfdertyd maatskaplik en ekonomies op broodkrummels moet oorleef.”
......
“Ware leiers word in krisistye gebore,” het die ontslape nyweraar Anton Rupert ons ’n hele vier dekades gelede reeds meegedeel. “En ’n klein volk,” het hy daarby gevoeg, “kan oorleef slegs deur groot te dink en groot te doen.”
Rupert, wat straks meer onthou word vir sy rol as ikoniese sakemagnaat en filantroop as dié van ’n toekomsdenker, het onder meer ’n leersame boek die lig laat sien vir tye soos wat Suid-Afrika tans beleef. Dit heet Prioriteite vir medebestaan, wat in 1981 deur Tafelberg in sowel Afrikaans as Engels uitgegee is. Die titel van een van die bydraes stel die vraag “Krisis of uitdaging?”.
In dié opstel voorspel hy dat die land se toekoms nie in terme van sy bevolkingsgetalle bepaal gaan word nie: “Dit gaan wel bepaal word deur die gehalte mense wat die land voortbring en die wyse waarop hulle gaan aanpas by snel veranderende omstandighede.”
“Mense van gehalte” is in sy definisie diegene “wat meer doen as wat van hulle verwag word”. Dit is mense “wat meer gee as wat hulle ontvang”. Ook is dit mense “wat bereid is om meer te skep as waarop hulle aanspraak maak”.
Rupert was in alle opsigte só ’n soort mens. Huldeblyke ná sy dood in 2006 bevestig dit. Oudpresident Nelson Mandela het hom ’n “Suid-Afrikaanse reus” genoem; die voormalige leier van die amptelike opposisie, Tony Leon, het hom as ’n “renaissance-man” vereer; en die toenmalige president, Thabo Mbeki, het beklemtoon: “Nie net het hy homself in die Afrikaner-gemeenskap onderskei nie, maar hy het ook ’n betekenisvolle rol gespeel in die ondersteuning en transformasie van besigheid in Suid-Afrika.”
Wanneer dit dan bekend gemaak word dat ’n groep van 12 Afrikanerbelangegroepe pas met verteenwoordigers van die Thabo Mbeki-stigting vergader het oor wyses waarop gemeenskappe kan saamspan om jare se “wanbestuur” teen te werk, raak Rupert se (profetiese?) stem weer hoorbaar.
Het ons hier te doen met mense van gehalte, wat meer wil doen as wat van hulle verwag word, wat meer wil gee as wat hulle ontvang, wat bereid is om meer te skep as waarop hulle aanspraak maak?
Die agenda- of besprekingspunte en die agterna-uitsprake laat jou dit glo. Onder meer sluit dit in ondernemings of vooruitsigte soos “die aanwending van alle beskikbare vaardighede en ervaring om gemeenskappe te bou”. Sekerlik is dit ook van kritieke belang dat daar by die tweedagbyeenkoms gepraat is oor “die ontwikkeling van ’n groeiende, inklusiewe ekonomie”, want dit is immers die enigste wyse waarop gehoop kan word om armoede, ongelykheid en werkloosheid van tussen 30% en 40% nek om te draai. Dat daar beraadslaag is oor nuwe maniere om gevestigde en opkomende boere te finansier, is eweneens te verwelkom, omdat die landbou ’n onmisbare sektor in ekonomiese groei en vooruitgang vir die land is.
Maar was dít die werklike agenda?
’n Merker wat in ag geneem moet word in ’n poging om die vraag te beantwoord, is om te kyk na die lys organisasies – of, anders gestel, wie die 12 “apostels” was (afgelei van die antieke Griekse woord apostolos) wat by die vergadering (uit die oorspronklike definisie) as “boodskappers” of “ambassadeurs” opgetree het. Dit was naamlik almal instansies wat ’n bestaansbelang het by ’n ander kritieke besprekingspunt op die beraad, te wete die gevoel van vervreemding by Afrikaners en die vertrouensbreuk tussen dié gemeenskap en die ANC-regering.
......
‟Wat word egter in en uit eie geledere gedoen om die lot van dié gemeenskap te verbeter? Moet daar noodwendig na die (wit) bevoorregte deel van die familie of na die struikelende (swart) regering gekyk word vir beter dae? Waar is die bruin Afrikaanssprekende ‛mense van gehalte’, hulle wat ‛meer doen as wat van hulle verwag word’, ‛meer gee as wat hulle ontvang’ en na vore tree ‛om meer te skep as waarop hulle aanspraak maak’?”
......
In ’n breër konteks, toegegee, het die “groter insluiting vir minderhede in die politiek” ook ter sprake gekom, maar dit was inderwaarheid primêr daarop gemik om vir Afrikaners toegang tot die uitvoerende gesag en beleidmakers te bewerkstellig; en dan word “die bevordering van inheemse tale in ons skole en ander opvoedkundige instellings” ook in die vooruitsig gestel, waaronder die redding van die (swart) Lovedale Press in Alice in die Oos-Kaap en die herlewing van die skooltjie op die Kaapse wynplaas Welbedacht, waar CP Hoogenhout hoof was toe hy redakteur geword het van die publikasie Die Patriot.
Jy vind op die lys van belangegroepe wat by die byeenkoms teenwoordig was, die Afrikaner-Afrika-inisiatief van die ouddiplomaat Chris Opperman, wat as sameroeper opgetree het, die Solidariteit-beweging, FAK en Suider-Afrika Agri-inisiatief (Saai) van Theo de Jager.
Wat bind hierdie organisasies in die normale gang van ons samelewing saam? Wat bring die afwesigheid by die beraad mee van ander organisasies met ’n Afrikaner- of Afrikaanse ontstaansgeskiedenis? Watter sein stuur die byeenkoms uit na die bruin lede van die Afrikaanssprekende gesin: dat hulle, soos Winston Wicomb, agter die hangkas versteek word wanneer belangrike mense kom besoek aflê of dat hulle steeds in die taalbediendekamer woon en agter op die taalbakkie sit?
Indien dit wel is hoe hulle voel, behoort dit hulle egter ook te noop om selfondersoek te doen. Dit hoef tog nie so te wees nie. Bruin mense is immers die (weliswaar stilswyende) meerderheidsprekers van die Afrikaanse taal, hoewel hulle terselfdertyd maatskaplik en ekonomies op broodkrummels moet oorleef.
Wat word egter in en uit eie geledere gedoen om die lot van dié gemeenskap te verbeter? Moet daar noodwendig na die (wit) bevoorregte deel van die familie of na die struikelende (swart) regering gekyk word vir beter dae? Waar is die bruin Afrikaanssprekende “mense van gehalte”, hulle wat “meer doen as wat van hulle verwag word”, “meer gee as wat hulle ontvang” en na vore tree “om meer te skep as waarop hulle aanspraak maak”?
Rupert het in dieselfde opstel waaruit voorgenoemde aanhaling kom, ’n universele boodskap met álle gemeenskappe gedeel. Hierdeur moes afgereken word met die idee van ’n “wonderwerk-resep” wat vir ’n sinvolle toekoms moet sorg. “Ten grondslag daaraan lê veel eerder nugter denke,” het hy geglo, “verbeeldingryke beplanning, die regte gesindheid [en] harde werk [...]” En daarmee saam, aldus die byna vergete stem van ons gewete, dat “elkeen probeer om deur persoonlike gehalte en voorbeeld ’n katalisator [vir verandering] te wees”.
’n Ander uitspraak van ’n dekade vroeër as Rupert se skrywe kom by my op. Dit is uit Februarie 1971 toe die destydse eerste minister, BJ Vorster, by die amptelike opening van die Universiteit Stellenbosch gesê het: “Die Kleurlinge moet nie beskou word as ’n aanhangsel van die blankes nie. Die tyd dat die Kleurling ’n agtersitplek beklee het, is nie net verby nie, maar dit was ook verkeerd.”
Nou is dit 50 jaar later. Dit is hoogtyd dat ons in die voorste gestoeltes moet gaan sit – nie deur hoed in die hand op aalmoese te wag nie, maar om – soos Rupert dit in 1981 wou hê – “groot te dink en groot te doen”.
Kommentaar
Uitnemende skrywe.
Jy is so reg, maar daar is 'n "maar": waarom kom hierdie kommentaar net van jou? Waar is die ander bruin leiers wat moet kapsie maak oor hulle uitgesluit is? Daar is te veel leiers wat onder eie sambrele wegkruip en slegs in eie gemeenskappe glinster. Ek ken etlike leiers wat dalk net te vuisvoos is om op te staan en te se "ons is nog hier".
Wat verhinder ander minderheidsgroepe om hulself te organiseer, hulle eie organisasies te stig, opbouend hand aan die ploeg te slaan om die lewensgenot van selfaktualisering te beleef en vir samewerking uit te reik na ander groepe wat vir hul ook ruimte onder die son gun? Die wrede ekonomies wêreldkompetisie wag vir ons.
Dit staan enigeen vry om opbouende profeetskap, leierskap en staatsmanskap deur dade te doen. Laat ons almal voerentoe en opwaarts fokus vir ons en ons nageslagte se onthalwe. Wys my die geloof uit die dade.
Heindrich baie dankie vir hierdie skitterende bydrae. Dit hou vir ons almal 'n les in. Ek sien daarin 'n ontwaking in die bruin gemeenskap om uit te styg en saam 'n bydrae te maak om ons land te red. Diegene wat “meer doen as wat van hulle verwag word”, “meer gee as wat hulle ontvang” en na vore tree “om meer te skep as waarop hulle aanspraak maak”?
Ek hoop regtig dat ons Afrikaners ook sal kennis neem en sal voortgaan om nie in moedeloosheid en uitsigloosheid te verval nie, maar ten spyte van klein in getal, groot te dink te doen, te skep en te gee.
Heindrich, dankie vir jou uitstekende artikel. En ja, ek stem saam, ons woon nog steeds in die "taalbediende-kamer" en sit nog steeds "agter op die taalbakkie". Weliswaar is dit nou, soos jy dit stel, 50 jaar later, maar ek kan jou verseker dat daai rooi tapyt tog eendag nog ook vir ons ou gemarginaliseerde volkie oopgerol sal word. My ma het altyd gesê: "Toemaar my kind, agteros kom ook in die kraal."
Heinrich, dis baie mooi geskryf. Maar hoeveel van die bruin gemeenskap dink jy lees ook hierso?