Jeff Lynne – Long Wave

Deur die jare het ek na ontsaglik baie musiek deur Jeff Lynne geluister, en ek sal nou maar erken dat sy uniekheid as sanger my nog altyd ontwyk het. Daar is ’n eendersheid in alles wat hy sing, iets wat ek nog altyd gedink het die gevolg is van té veel oorklanking en verdubbeling van sy eie stem. By ELO was dit beslis die geval, en by die Traveling Wilburys het hy genadiglik deel geword van ’n groter sang-kollektief. Wanneer hy voorsanger was, was dit egter steeds die ou Lynne-stem.
Wat hom nog altyd gered het, is die feit dat hy ’n besonder goeie produksieleier is, en ’n bo-gemiddelde komponis. Al het sy stem nie die ding gedoen nie, het die musiekinstrumente, en wat hy daarmee doen, altyd gesorg dat jy baie hoë gehalte deur jou hamer, aambeeld en stiebeuel jaag.
Hierdie solo-album, waarvan die titel verwys na die AM-frekwensie waarop hy in die jare vyftig, voor die koms van die Beatles, op sy pa se radio na popmusiek geluister het. Dit is nie ’n huldeblyk-album as sodanig nie – ek vermoed ’n analise van die soort liedjies wat hy gekies het, sal meer verraai oor die vormende invloede op Lynne as wat dit ’n spesifieke era probeer mooimaak.
Hy had duidelik groot plesier aan die maak van die album. Die schmaltz drup geil van sy vertolkings van “Beyond the Sea”, “Love is a Many Splendored Thing” en “She” af; hy raak halsoorkop slaags met die musiekspele van daardie jare (Rodgers en Hammerstein se “If I loved you”, Rodgers en Hart se “Bewitched, Bothered and Bewildered”).
Wanneer dinge jolig raak, soos die gatskop-jive van “Let it rock” (geskryf deur Eric Anderson, beroemd gemaak deur Chuck Berry) en die plesierige opgeblasenheid van “Running Scared” (Roy Orbison), begin jy voel Long Wave is bo-gemiddeld goed.
Al wat nodig is om jou te finaal te oortuig, is Lynne se weergawe van Charlie Chaplin se “Smile” en les bes Roger Miller se “Mercy, mercy”.
Daar’s nog iets van die Everly Brothers, maar vergeet daarvan. Een prul per album is toelaatbaar.
Kip Hanrahan – The Anatomy of Lovers, Intertwined & Apart

Nie ’n CD nie, maar ’n versameling van Hanrahan se musiek, gelig van CD’s wat glad nie op die internet beskikbaar is nie. Ek het taamlik wyd gesoek, en daar is baie min van Hanrahan se musiek beskikbaar in die algemene handel. Hierdie versameling beslaan drie volumes, en is gratis aflaaibaar by Miles se musiekblog Birds with Broken Wings.
Die musiek is oorspronklik afkomstig van die volgende albums, op twee uitsonderings na nou onverkrygbaar: Coup de Tête (1982), Desire Develops An Edge (1982), Vertical's Currency (1985), A Few Notes From The End Run (1985), Conjure: Music For The Texts Of Ishmael Reed (1985), Days And Nights Of Blue Luck Inverted (1988), Exotica (1992), A Thousand Nights And A Night (1997), Shadow Nights, Vol 1 (1998), Shadow Nights, Vol 2 (1999), Pinero (2002), Beautiful Scars (2007) en At Home In Anger (2011).
Meer inligting oor Hanrahan is by vermelde webadres te lese. Sy kuns vervleg ’n rustige, lui vorm van impressionistiese jazz, digkuns en ’n groot verskeidenheid slagwerk, gelewer deur van die beste tromslaners en slagwerkers wat op die jazz-toneel is. Ek het hierdie drie volumes so ’n paar weke gelede afgelaai en luister gedurig daarna. Dis ’n welkome toevlug en lenig cool.
Jack Bruce, eens Eric Clapton se kornuit in Cream, is een van die drie baskitaarspelers hier:
Koos Kombuis – Dertien
Klik hier om Dertien te koop by Kalahari.com.
Ek het reeds op Facebook geskryf hoe baie ek hierdie album waardeer het. Wat ek hier wil byvoeg, is net vir volledigheid. Dertien is die album wat my oortuig het dat Koos Kombuis nou die draai gemaak het. Geen kunstenaar bly vir ewig jonk nie, en die jong rebelle word vervelig as hulle rebels bly. Koos Kombuis se gees is seer sekerlik nie onrebels nie, maar hy takel nou die soort dinge wat binne die groter bestel belangriker is. Dinge soos die persoonlike belewing van spiritualiteit en geloof. Uiteraard sal geen Koos Kombuis-liedjie eg wees as dit nie deursuur is met sy humorsin nie. Maar mens moet verby die borrelende musiek van iets soos “Jy’s my GPS” kyk, of die wonderlik atmosferiese klankbed van “Die profeet”, en jy kom agter dat daar ’n diepe erns ingebed is in die lirieke. En as mens “Die profeet” noem, dan moet jy ook die naam van die produksieleier, Schalk Joubert, en die klankversorger, Jurgen von Wechmar, noem. Eersteklas! Ek verneem dat RSG nie hierdie musiek op hul speellyste wou plaas nie. Dit vertel jou miskien meer van RSG.
John Cale – Shifty Adventures in Nookie Land

Cale is nou 70. Hy is steeds die musikale rebel en ek vind dit al hoe moeiliker om na hom te luister wanneer die verrigtinge rumoerig raak. Vir my bly sy krag sy klavierspel en sy stem (soos op sy vertolking van Leonard Cohen se “Hallelujah”), en gelukkig is daar ’n paar geleenhede op hierdie nuwe album waar hierdie elemente tot hul reg kom (wel, amper …). Die sterkste snitte is dié waarop hy ’n sterk melodiese inslag gebruik (“Mary”, “Midnight Feast”), terwyl die suiwer skoonheid van eksperimentele klank die beste spreek uit “Sandman (Flying Dutchman)”.


Kommentaar
Hi Kerneels,
So pas geluister na daai Kip Hanrahan snit Velazquez en onmiddelik Jack Bruce se stem herken. Ongelooflik opwindende musiek en presies waarvan ek hou om na te luister. Dankie vir die deel daarvan. ’n Ou Jack Bruce aanhanger, Richard van der Westhuizen.
Koos Kombuis het twee songs op Dertien (2012) wat klink asof hulle deur Les Javan (Hiervandaan - 2008) geïnspireer kon wees. 'Hierdie kamer' het dieselfde 'na-na-na-na-na' wat Javan inspan op 'Verbyry se mense', en tussen 'Groot sterre' van Javan en 'Fat Cat vastrap' van Kombuis eggo daar iets. Miskien is dit maar net die groot sterre wat rondbons terwyl die vetkatte hul Mangaung toi-toi repeteer. Alle eer aan twee van die Wes-Kaap se groot storievertel-sangers, ondanks die feit dat die openbare uitsaaier hulle so afskeep.
Jacobus Faasen