Danksy die handige funksie van die Sê, wat my laat weet as daar oor 'n spesifieke brief verdere kommentaar is, kon ek die 95e reaksie op die Sê se spiritueel intelligente ene se aanvanklike brief, dat Jupiter se mane optiese illusies is, lees. En soos julle geraai het is daardie 95e reaksie dié van die spiritueel intelligente ene self waarin hy homself uit die hoeveelste wetenskaplike mistasting probeer loswikkel.
Die debat (as mens die aanhoudende kluitjies bak van die spiritueel intelligente ene enigsins as sinvolle debat kan geklassifiseer) het darem een baie belangrike punt geïllustreer en dit is dat 'n mens sekere minimum kennis oor 'n onderwerp nodig het voordat jy sinvol daaroor kan debatteer. Die internet is 'n handige bron om verroeste kennis op te knap of om interessante verdere feite bloot te lê - dit gaan jou egter nie leer breuke en langdeling doen nie. Intelligente gebruik van die magdom kennis op die internet se voorveronderstelling is dat jy reeds breuke en langdeling moet kan doen om behoorlik te kan put uit die magdom beskikbare inligting en ook om tussen feit en fiksie te onderskei (stadig met daai sleutelbord Kobus ek gebruik "breuke en langdeling" in 'n metaforiese sin).
Die meeste deelnemers verklaar dadelik as hulle oor 'n onderwerp skryf waarvan hulle basiese kennis karig is. Die gediskrediteerde prokureur daarenteen beweer dat hy 'n kenner op feitlik elke gebied is en val dan ewe stiksienig werklike wetenskaplikes en erkende kundiges soos dr Jurie van den Heever en dr Leon Retief op hulle spesialis-vakgebiede aan. Die eindresultaat is dat sy grenslose gebrek aan kennis van breuke en langdeling gou na vore kom en daar is vir almal om te sien - net so duidelik soos die ganse sterrekundige gemeenskap sonder uitsondering Jupiter se mane kan sien.
Die Sunday Times maak elke week 'n Mamparra van die week bekend. Komende Sondag gaan uit die weeklikse Mamparras die 2012 Mamparra aangewys word. Na die 95e reaksie op die Jupiter-se-mane-debat en die vele juweeltjies waarmee die spiritueel intelligente ene ons telkens vergas dink ek dis tyd dat ons ons eie Mamparra moet begin vereer.
Groetnis
Thomas


Kommentaar
Die grootste mamparra is natuurlik die outeur van die brief hierbo - naamlik ongelowige Thomas. Na bykans 95 bydraes waar die kwessie van wat ek werklik sê in baie detail bespreek is na alle kante toe, kan hy steeds nie uitmaak wat ek werklik sê, nie.
Hy kan steeds nie agterkom dat ek glad nie sê jupiter se mane is optiese illusies nie, maar dat hulle wat beweer hulle sien daardie objekte wat vir jupiter se mane aangesien word hier van die aarde af met hul amateur toerusting, dinge aansien vir jupiter se mane waarskynlik weens optiese illusies. Gaan hulle verwysingsraamwerk en begripsvermoë natuur te bowe.
Nie een van julle kon my weerlê nie en het hulle toe so op die string af probeer om my te diskrediteer - soos daar voorspel is hulle gaan probeer doen - en boonop wil hulle nou die albatros van mamparra-skap om my nek hang - stel jou voor ongelowige Thomas raak die snert elders kwyt as wat hy hierbo kwytraak - dit sal goed wees want dit sal mense lok om te lees wat hier gedebatteer is en hoe swak die agnostici hulself probeer handhaaf en boonop hoe een van die prima mamparras - Thomas, na 95 bydraes van alle kante nog steeds nie kan agterkom wat gesê word nie.
Dan vra mens jou natuurlik ook die vraag af - as dit werklik sulke nujttelose bog was, waarom sou hulle bykans 47 briewe lus nog pogings oraloor wat soos honde blertse gestrooi lê, afstaan net aan sulke kamstige "bog" en waarom soveel tyd en energie en masse afstaan aan iemand soos ek wat dan kwansuis sulke nonsens skrywe?
Ek sê mos, mens kan die spul speel soos woer-woer en hulle kan hulself net eenvoudig nie help, nie.
Nou ja, so raak dit duidelik wie werklik die mamparras is.
Kobus de Klerk
Kobus
Thomas, ek hou nogal van die woer-woer-beeld wat Kobus gebruik. Die woer, dis nou KdK, besig om sy oponent in die rondte te draai aan sy twee duime.