Oor gryses en kerke en klippe wat uitroep

  • 0
Die kerkgebou van die NG gemeente Bloemhof, ontwerp deur Moerdyk (Bron: Wikipedia)

Ou kerkgeboue  is vir my onweerstaanbaar – veral as hulle leeg is. Hulle ruik vir my na lidmate uit vergange tye en desperate gebede. Robert Louis Stevenson het mos al in die 19de eeu gesê die mens was nooit met groter vreugde vervul as toe hy ’n katedraal gebou het nie; iets wat met die eerste oogopslag na ’n groot standbeeld lyk, maar van nader beskou so lewend en opwindend soos ’n woud is.1

Suid-Afrikaanse kerkgeboue is kleiner, maar dikwels elegant en pragtig. Ek sluit nie die kerke wat in die sestigerjare gebou is, by hierdie groep in nie: daardie staalvensters met groot panele gekleurde glas is nie vir my mooi nie. Ek bewonder egter onvoorwaardelik die ou pioniers wat hulle laat bou het se geloofsoortuiging. Die kerke is klip vir klip – of steen vir steen - met die spreekwoordelike pannekoek- en koeksistergeld gebou. Toe Heinrich Heine eenmaal saam met ’n vriend voor die katedraal van Amiens staan, vra die vriend hom hoekom ons deesdae nie meer so iets kan bou nie. Heine sê toe vir hom: die bouers van daardie tyd had oortuigings; ons het net opinies en dit vra meer as ’n opinie om ’n Gotiese katedraal te bou.1

Inderdaad. Al wat óns geslag kan doen, is om malls te bou.

Gerhard Moerdyk is my gunsteling as dit by kerkargitekte kom: hy het meer as tagtig Suid-Afrikaanse kerkgeboue ontwerp. Die kerk op Bloemhof is ’n tipiese voorbeeld.

Ek was nog in te min van hulle. Hulle moet noodgedwonge deur die week gesluit word – en baie kry nou ook devil’s fork om.

Moerdyk-kerke het dikwels dieselfde ontwerp: die preekstoel staan vórentoe, simbolies midde-in die gemeente. Daarmee, het ek êrens gelees, word die boodskap oorgedra dat die predikant ’n sentrale plek in die gemeente inneem: mense moet ópkyk na hom, na hom luister. Op Hertzogville, waar ek grootgeword het, is die Moerdyk-kerk van ysterklip gebou, maar een van die vleuels is weggelaat, want dit was seker nie nodig om so ’n groot kerk op die dorpie te bou nie.

Die Klipkerk in Bloemfontein  is ook met ysterklip gebou, wat my tuis laat voel. Hy het al sy vleuels.

Die Klipkerk in Bloemfontein

Johann Els, een van ons predikante, is lief om te vertel dat Moerdyk op die terrein gebly het terwyl die bouwerk aan die gang was. Ek sê dikwels vir my vrou: as Wollie Grobler en Johann Els iets moet oorkom of aftree, sal ek in die wéék kerk toe gaan, om na die klippe te gaan kyk en aan hulle te vat. Klippe kán praat: party van hulle preek beter as baie teoloë – en hulle verkondig hulle boodskap al vir miljarde jare: God het ge-big-bang. Jesus het mos hoeka gesê as sy volgelinge stilbly, sal die klippe dit uitroep. Ek wonder dikwels: Hóé het die ou (Italiaanse?) vakmanne daardie ysterklippe so perfek gekloof en gebeitel en gebou?! Die hoeke is perfek belyn, die boë oor die deure en vensters volmaak gerond.

Die Klipkerk, NG Kerk Bloemfontein-Noord (Bron: Wikipedia)

Perfekte hoeke en ’n volmaakte boog

Saam met studente op twee uitreike deur Suidelike Afrika het ek ou, afgeleefde en sjarmante kerke betree.

Op Katete in Zambië staan ’n kerk wat hinderlik na urine ruik – sou mense sowaar die kerk as toilet gebruik, of slaan die reuk bloot deur van die buitetoilet se koers af? Die kinders van die gemeente – hulle bly in ’n skoolkoshuis – sing egter soos engele, en tot jou ore tuit: só moet die Here mos geloof word. Ek het baie ure in daardie ou kerk sit en dagboek skryf of Bybelstudie doen. Niemand het my ooit gesteur nie.

Die oudste kerkgebou in Malawi  is blykbaar naby Magwero, waar daar ook ’n skool vir blindes en dowes is. Die pragtige ou kerk gaan agteruit – die grond kalwe weg onder die fondasies en van die kappe se balke het gebreek. Is daar tog nie ’n bouer êrens wat die kerk van ondergang kan red nie? Ek sal saamgaan en help.

In hierdie kerk het ek ’n wonderlike belewenis gehad. Terwyl die pastoor preek – oor die riviere wat gelowiges moet oorsteek voordat hulle die beloofde land bereik – sien ek ’n gryse ou man wat stip na die tolkgebare van ’n jong onderwyseres sit en kyk. Sy gesig, om by DF Malherbe se Hans die Skipper te gaan leen, was die ene besieling, die ene liefde, die ene vreugde. Hy het elke gebaar gretiglik ingedrink.

Die buite- en binnekant van die kerk op Magwero in Malawi

Toe ek moet opstaan om namens die groep iets te sê, bedank ek hulle vir hulle gasvryheid en vra impulsief vir die ou man – deur sy tolk – om my te seën. Ek kniel voor hom en hy plaas sy knoetserige hand woordeloos op my kop.

Een van die kosbaarste oomblikke van my lewe.

Onlangs stap ek by ’n klein, dog fraaie kerkie op die kampus van ’n universiteit in Australië in. Nee, ek sal nie sê waar nie. Ek trek ’n klein tafeltjie nader en pak my goed uit: dagboek, potlood, uitveër en ’n heerlike Australiese karamelskyf  (R75!). Ek adem die bekende kerkreuk behaaglik, diep in.

’n Enkele gryse gemeentelid skuifel in en kom sit moeisaam in die bank agter my.

Die grys pastoor kom in, frons toe hy my sien, en beveel koel: “The church is not for studying. You can use the cafeteria or library for that purpose.”

Ek oorweeg dit vir ’n vlietende oomblik om iets te sê, maar pak toe my goedjies gedwee weg, stap uit en laat die twee gryses met rus.

Verwysing 1

1Die Groot Afrikaanse Aanhalingsboek, saamgestel deur Piet Muller, George Claassen en Morkel van Tonder. Uitgegee deur Human en Rousseau.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top