Oor God, Sy wil en 'geprogrammeerdes'

  • 10

Chris probeer vir ons vertel wat sy agnostiese siening omtrent God in verband met kwaad en goed, is. Uiteraard is sy ongegronde, lasterlike gevolgtrekking ooreenkomstig met sy vooroordeel.

In die eerste instansie is Chris se weergawe van die rooi en blou geprogrammeerde figure swak voorbeelde en is gans te eenvoudig om te werk – weens sy verterende vooroordeel en gebrekkige insig, natuurlik, is dit hoe sy voorbeeld juis sál lyk om by sy uiters beperkte agnostiese beskouing in te pas. Hy kan mos nie wil dink dat hy sal wegkom daarmee om God, vir Wie hy nie ken, nie, se innerlike Wil ooreenkomstig sy agnostiese beskouing te omskryf en verduidelik, nie, want hy suig duim daarmee. Die probleem is dat hy die wil van God nie begryp, nie. Is hy dan werklik só insigloos om te dink dat die omvang van God se Wil binne die beperkinge van die agnostiese beskouinge kan inpas? As hy God se Wil net bietjie kon verstaan, sou hy mos nié ’n ateïs, ’n agnostikus (wat juis beteken ‘geen kennis’), wees, nie!

God se geopenbaarde Wil staan geheel en al los van die opinie van die agnostikus omtrent God’s wil en is báie kompleks en is nié in ’n amper enkelsin-voorbeeld te omskrywe, nie.

Chris se model moet só substansieel aangepas word om die werklikheid van wat wél plaasvind omtrent God se geopenbaarde Wil, dat dit beter is om dit te vervang en dán van naderby te sien.

Kom ons vervang blou en rooi met wit en swart en dié staan vir doeleindes van die voorbeeld, vir spirituele plekke wat deur God geskep is, elk vir sy bepaalde God-gewilde funksie.

Dit is die feite:

Dat die ‘Programmeerder’, God, mense geskape het (geprogrammeer het) vir SY besondere doel binne die Programmeerder se Eie parameters in die groot geheel, die milieu;

Waarbinne die mense voortaan in ’n baie komplekse Godgeprogrammeerde  milieu gaan voortbestaan;

Welke besondere doel vir hulle afsonderlik uitsluitlik deur God volgens SY Wil bepaal is, wat insluit hul verband met en verhouding tot, die wit en swart plekke, met die opdrag – want dit is God se wil – dat die ‘geprogrammeerde’ mense by wit moet bly en nié by swart se parameters moet gaan peuter nie, want swart het heel ander, met-wit-onversoenbare funksies en doeleindes binne die groter milieu van God se skepping. Die swart het dus ook sy doel in die groter milieu, want álles wat God ‘programmeer’ (skep) het ’n bepaalde God-gewilde doel (Spreuke 16:4; Job 21:27-30), maar nie vir mense ‘geprogrammeerdes’ in hul bestemde ‘wit’ plek, nie. As mense dus van wit na swart oorbeweeg, sal daar noodwendig probleme ontstaan, omdat dit God se wil is dat dié swart plek nie vir mense bestem is, nie, maar vir ’n ander doel. Dit is die Reël, juis omdat wit en swart nie bymekaar hoort nie omdat hulle te anders is vir die verskillende doeleindes uitsluitlik volgens God se wil;

Dit is ook God se wil dat, by ongehoorsame oortreding van die geopenbaarde Goddelike Reëls – en HY waarsku daaroor – vroeër of later terminasie tot gevolg sal hê vir die oortreder wat nie weer wil terugkeer na sy korrekte deur-God-gewilde wit parameters toe nie.

Dit is God, as Programmeerder, se wil en HY sal hierdié wilsbesluit van Hom, afdwing soos HY goed dink – óók ooreenkomstig SY wil, want HY is die almagtige Programmeerder God en beide die wit, swart en die mense is SY ‘geprogrammeerdes’ vir SY uitsluitlike doel en rede – dit is immers die grondslag van hulle God-beplande bestaan en hulle het daar géén seggenskap oor, nie;

Dit is ook God se wil dat Sy Wilsbesluite omtrent hulle, aan die ‘geprogrammeerdes’ vooraf bekend gemaak, word. En dié doen HY dan ook sommer van die eerste een van hulle af, al (Genesis 1:28-30; 2:15-17, 24);

Verder is dit God se wil, ter wille van die vreugde, interessantheid  en voorspoed van bestaan van die klomp intelligente geprogrammeerdes – dat God hulle wonderlik dinamies ‘geprogrammeer’, het, net minder as ’n goddelike wese (Genesis 1:26-27; Psalm 8:5-9) is en is dit SY wil om aan die ‘geprogrammeerdes’ volkome vryheid van keuse te gee, MAAR slegs binne die bestek van hulle onderskeie deur-God-ingestelde ‘lewensparameters’ (Mattheus 22:36-40) – en hierdie ‘lewensparameters’ werk soos ’n koördinaatnet vol verskillende permutasies elk met ’n ander gevolg … daardie bekende oorsaak-en-gevolg fenomeen. God het aan hulle, die geprogrammeerdes, die verstand gegee om dit te begryp;

Dus, dit is juis nié God se wil om hulle soos lewelose robotte in ’n steriele milieu te programmeer nie en daarom is hulle dit, gewoon nie;

Dit is ook God se wil dat HY nie Sy wonderlike ‘geprogrammeerdes’ in tronkhokke toe te sluit vir hul lewensduur om hulle teen hulself en teenmekaar, te beskerm, nie – want hulle is, volgens SY wil, nie diere, nie;

God se wil is dat HY juis vrye, dinamiese LEWE by hulle wil sien, binne hul parameters – dít is SY Wil! (Genesis 5:2; 9:1; Deuteronomium 28:1-14);

Maar God is ’n Liefdevolle, billike en regverdige ‘Programmeerder’ – Dit is daarom ook SY wil dat die intelligente, ondernemende, kreatiewe geprogrammeerdes sal ingelig word oor al die keuses wat daar is en die gevolge daarvan, want HY verwag van hulle dat hulle almal SY reëls sal nakom (Deuteronomium 28);

Dus dit is ook dan God se wil om by hierdie koördinaatnet, ook ’n handleiding waarin SY Woord en Reëls opgeteken, is, saam te gee wat vir dié ‘geprogrammeerdes’ touwys maak oor die gevolge van die keuse van die permutasies wat hulle vryelik gaan kies (2 Timoteus 3:14-17);

Want dit is God se wil dat hulle self verantwoordelikheid sal dra vir hul keuses (Deuteronomium 28). Só maak HY aan hulle bekend dat party van die permutasies genotvol is, ander is voordelig, ander is nutteloos maar skadeloos en ander weer, skadelik en ook die verskillende kombinasies van dit als. Dié gee HY vooraf te kenne in die handleiding en deur raadgewers (Mattheus 28:19 g.m. Lukas 10:16) wat oral is en gedurig besig is om selfs ongevraagd, ander van raad daaromtrent te bedien;

Trouens, dit is God se wil om Sy Seun, deur Wie alles in die eerste plek tot stand gekom, het (Johannes 1:1-5) te laat inkarneer as ‘geprogrammeerde’ om Hom te verteenwoordig (Johannes 3:16-18 g.m. 12:49, 14:6-7) en die ander touwys te maak oor hulle keuses en by Hom vir hulle as Middelaar op te tree (Galasiërs 3:20; 1 Timoteus 2:5);

Maar dit is ook God se wil dat dié wat dan vrywillig steeds by keuse of hardkoppigheid die reëls bly verbreek, uiteindelik as nutteloos daaroor getermineer sal word (Johannes 15:6; 1 Timoteus 2:4 g.m. Mattheus 10:28). Aan die ander kant, dit is verder ook SY wil dat slegs dié wat vrywillig by die Reëls van die Handleiding hou, nuttig en waardig sal wees (Mattheus 10:32-40; Johannes 15:1-11);

Dus, God se ‘geprogrammeerdes’ is nou volkome toegerus om regte keuses te maak en uit te oefen en HY maak seker dat hulle ingelig is en ingelig bly – want hulle dra die verantwoordelikheid vir hul keuses. Dit is mos SY wil dat dit só moet wees! ;

Dit is ook God se wil dat SY ‘geprogrammeerdes’, elk na afhandeling van hulle bestaan in hierdie lewensmilieu, sal aanbeweeg na hul onderskeie ewige plekke vir hulle bestem – óf nader aan HOM waar HY Hom bevind weens hul agting en gehoorsaamheid vir en aan Hom, óf hulself weens hul minagting en ongehoorsaamheid vir aan Hom, bestem vir terminasie, want hul algar ken reeds die gevolge terwyl hulle die besluite maak omdat hulle deur SY voortreflike inligtingstelsels reeds ingelig, is – só voortreflik het HY hulle geprogrammeer, dat hulle selfs dáárdie realiseerbare potensiaal, het (Psalm 8:5-10);

Maar dit is ook God wil dat, omdat HY so ’n perfekte, voortreflike Programmeerder is, slégs dié ‘geprogrammeerdes’ wat hulle keuses uiteindelik volgens die handleiding uitoefen, dit wil sê, op die wit plek, bly, saam met Hom verder sal gaan. Die res sal HY termineer – dit is óók SY wil – want hulle is nutteloos terwyl hulle dieselfde geleentheid had as die ander – en selfs méér so, want die raadgewers het juis op húlle begin konsentreer (2 Timoteus 4:1-4; 1 Timoteus 4:3; 5:20; Titus 1:13; 2:15) om hulle die regte koers aan te wys (Johannes 14:6) toe dit duidelik word dat hulle op terminasie afstuur weens hul vreemde en ongeoorloofde keuses.

Dus, waarop dit als neerkom, is – ‘geprogrammeerdes’ – wees gehoorsaam aan jul God jul ‘Programmeerder’, halsstarriges, want dít is die kernsaak van SY wil vir julle (Prediker 12:24-14).

Groete,

Kobus de Klerk

  • 10

Kommentaar

  • Chris Dippenaar

    Kobus, ’n wenk of twee vir die lees van ander se briewe voordat jy wegtrek met jou eie:

    1. Maak jou bril mooi skoon en onthou om dit op te sit.

    2. Gebruik jou regterhand se wysvinger om die woorde te volg op die skerm soos jy lees.

    3. Gebruik jou linkerhand om jou regterpols vas te hou as jou regterhand se wysvinger te vinnig begin beweeg.

    4. Moenie probeer lees in jou slaap nie, dis amper seker dat jy iets gaan mis.

  • Chris,

    Sjoe! Kobus is bekend vir sy warmsinkplaatdans, maar so het ek hom nog nooit sien bokspring nie. Ek het nie die aantal woorde getel nie, maar alles is absoluut niksseggend. Cornelius se metafoor beeld dit mooi uit. 

    Ek lag lekker oor: God se wil wat so kompleks is dat dit "amper' nie in ’n "enkelsin-voorbeeld" omskrywe kan word nie. Soos hulle sê "amper is nog nie stamper nie". Waar is daardie enkelsin-voorbeeld dan?

  • Kobus de Klerk

    Wat ’n simpel, nuttelose reaksie, Chris – weereens, nogeens.

    Jy't so wrintie nie agtergekom nie – ek had geen bedoeling of begeerte om met jou saam te stem, nie, maar wel om die korrekte perspektief te gee vir jou van ’n baie belangrike Saak waarvan jy niks weet, nie.

    Jou gevolgtrekkings waartoe jy geraak ten aansien van jou eie stellings, vernietig enigiets moontlik nuttigs in die probleemstelling wat jy ook self voorhou, want jou voorbeeld  figure is algar robotagtige idiote. Dit is net dan wat ’n programmeerder die 'skuld' kry vir sy robotte se willose optrede – sodra die vrye wil inkom, is die verantwoordelikheid die wilsbekwame figuur, s’n. Jy besef dit nie self, nie?

    Kyk gou na Trienie se kommentaar – baie skerp – sy het met die eerste oogopslag raakgesien waar jy die pad totaal byster geraak het en vandaar af, was dit nag vir jou. Maar, jy besef toe nog steeds nie waar jy so mistas, nie.

    Dit is dus omdat jou eie probeerslag so absoluut insigloos en nutteloos was, dat jy niks van die gevolgtrekkings wat jy daarin maak, in my artikel herken, nie – wanneer dit by sake Gods kom,  spu jy die woorde soos haelkorrels uit ’n haelgeweer en hoop iets tref – maar omdat jy spiritueel blind is, vuur jy telkens jou sarsies boonop sommer in enige rigting af – meestal  heeltemal in die verkeerde rigting ... net soos jou blinde evolusieleer, Dit is soos die blinde evolusieleer wat jy aanbid – alles gebeur  kwansuis op mog-het-troffe toevallig basis van ’n stokblinde maar tref nooit.

    Hoe bitter blind is julle tog, nie (beeldspraak, metafoor, Angus! Voor jy straks dalk jou laaste oogtoets resultate vir my wil aanstuur omdat jy nie begryp wat ek sê, nie).

    Maar, jy is nie alleen in jou blindheid, nie, Chris – skrale troos wat dit is – jou paar mede agnostiese maters is ook so.

    Kobus de Klerk

  • Ek kan net my kop skud.

    Hoe sal enigeen van julle ooit iets verstaan?

    Julle weet dan nog nie eens dat julle jul dadels met ’n vurk moet eet as die reën horisontaal is nie.

    Duitswester

  • Kobus de Klerk

    Angus, die sinkplaatdans probleem is maar jou eie.

    Jy moet akkuraat lees, anders is jy die krater, soos nou. Ek skrywe, " ... God’s wil en is báie kompleks en is nié in ’n amper enkelsin-voorbeeld te omskrywe, nie."

    Jy, daarenteen, haal my kwansuis aan as sou ek gesê 'God se wil wat so kompleks is dat dit "amper' nie in ’n "enkelsin-voorbeeld" omskrywe kan word nie'. Dan gaan jy verder en sê hoe jy lekker lag oor wat ek sê (volgens jou verdraaiing van my woorde) en vra sarkasties waar daardie enkelsin voorbeeld dan is.

    Kan jy nie verstaan wat ek skrywe nie? Kan jy die verskil agterkom in '’n amper enkelsin-voorbeeld' (wat ek werklik sê) en 'amper nie ’n enkelsin  voorbeeld' (jou verdraaiing deur die woordvolgorde te verander om die betekenis ook te verander)?

    Kom ek spel dit vir jou uit. Chris se rooi en blou voorbeeld is ’n poging om God se wil in ’n amper enkelsin te verduidelik. Die res is sy sinnelose gevolgtrekkings van wat hy self postuleer. Dus, my aanmerking beteken, as jy die woordorde nie verdraai nie (soos julle met die Bybel se woorde ook doen en omtrent alles anders wat gelowiges sê) dat dit juis nie moontlik is om God se komplekse geopenbaarde wil in ’n amper enkelsin te verduidelik of te omskrywe, nie.

    G’n wonder jy is net tot die verstaan van Cornelius se sinnelose snert beperk, nie.

    Moenie die trant van jou gesprek probeer voortsit nie. As jy my kan kritiseer, doen dit by wyse van feite of dan ten minste sinvolle argumente. So nie, bly liewer stil, asseblief. Dit is sinneloos om te bly reageer op julle inhoudlose pogings tot verdagmakery sonder enige substansie of relevansie tot die gespreksonderwerp. Al wat dit vir die hoeveelste keer demonstreer, is julle onvermoë om sinvol met die meriete van die artikel te deel.

    Kobus de Klerk

  • Kobus,

    O, ek verstaan nou. Chris se voorbeelde is swak en ongekompliseerd omdat hy rooi en blou gebruik. Dit word eers goeie voorbeelde en gekompliseerd as jy dit vervang met swart en wit. Nou is dit nie meer ’n amper  maar nog nie stamper enkelsin voorbeeld nie. Dit wil nou sê as die mens tussen die parallaksfoute bly en nie uitspring al na die een kant toe nie, of miskien na die ander kant toe nie.

    Dankie Kobus dat jy my reggehelp het. 

    Groetnis

    Angus

  • CorneliusHenn

    Kobus, jou "kompleksiteit" ewenaar die infernale spirituele intelligensie van hierdie huiskerk bendelyer. Wat is daar tog aan te begryp of te verstane? Ekke vergewe jou nogmaals ... jou amigo in Adam, Ekke.

  • Chris Dippenaar

    Angus, daar is die grappie oor hoe jy die drommer in ’n orkes kry om sagter te speel. Antwoord, jy sit bladmusiek voor hom neer. Dit sal natuurlik nie werk as die drommer blind is nie.

    Chris

  • Kobus,

    Is dit nie insiggewend hoe die evolusiemanne geen reaksie op ons direkte verwysings na die essensie van die evolusieleer, toon nie. Nee-nee, dit word eenvoudig WEER met woorde soos “navorsing” en “vordering” en “wetenskaplikes” en dies meer, ge-“bypass”. Hulle het nie antwoorde nie – want daar is nie antwoorde nie. Ek sien hulle probeer nou eerder jou skrywes ontleed – maar selfs dít werk ook nie vir hulle nie! Is dit nie ongelooflik duidelik hoe hulle nie ware Godgegewe geloof verstaan nie!?

    Ek meen, Angus, Chris en al hulle ateïstiese trawante, verstaan eenvoudig net nie jou skrywes nie! – soos in, GLAD nie! Dit is vir my baie insiggewend hoe hulle reaksies op jou skrywes (en myne ook by tye) só ongelooflik sinloos en absoluut niksseggend is!

    Vat nou byvoorbeeld Chris se reaksie – sarkasties, agterlik en bloot kinderagtig – tipies van iemand wat probeer om ware gelowige christene  te “ontspoor” deur eerder te poog om hul óf in hul persoon aan te val óf hul skrywes af te kraak met onnosele op-en-aanmerkings. Maar ons weet hoekom, veral Chris, dit só doen. Hy is juis die een wat met “honderde probleempies” sit. Jy sien, hy verstaan nie God se Woord nie – hy probeer dit op menslike vlak oordeel – en hy sus homself deur te dink hy kan met sy lasterlikheid teenoor sake Gods, sy gekose lewenstyl regverdig! Hy kan nie insien dat ons deur sy bravade sien en hy eintlik maar ’n minderwaardige mens is, op pad na nêrens. Dit is werklik jammer.

    Angus weer, het aanvanklik probeer om die Bybel te oordeel, ter ondersteuning van sy evolusie afgodsdiens (dít nou nadat jy hom, vir die soveelste keer, pakslae met sy eie evolusie snert gegee het),  maar het skynbaar self agter gekom dat hy geen “clue” het waarvan hy praat nie. Ons weet dié feit al lankal, maar hy het so ’n tydjie geneem daarmee. Hoekom ek so sê, blyk uit sy reaksies op jou skrywe hierbo en op vorige skrywes van jou en my, waar hy nou goedmoeds en doelbewus begin om woorde, terme, gesegdes, ens. te verdraai om sy uitgeputte en holruggeryde pogings om ware christen-geloof af te kraak en die evolusie-illusie “op te bou”, te staaf.  Hy dink blykbaar hy klink vreeslik intelligent as hy oor sake Gods praat, maar toe nie – kyk maar hoeveel keer jy sy absolute dwaasheid oor sake Gods, ontbloot het! Dit is werklik komieklik soos wat hy sy water-trappery probeer verdoesel om dít op jou te probeer reflekteer – maar hiermee slaag hy ook nie!

    Verder is dit interessant hoe hulle hulself by Cornelius se opmerkings skaar – hoe belaglik – hy voeg geen waarde toe nie! Maar dan weer, hulle ook nie!

    Sterkte en vrede vir jou!

    Dolf

     

  • CorneliusHenn

    Dis belangrik om te let dat in die hele verhoor rakende die voormalige huiskerk hoëpriester na wie ek in my kommentaar hierbo verwys, daar geen debat gevoer is omtrent die boef se besonderse Spirituele Intelligensie nie. Die verkragter is summier aangekla en gevonnis vir sy misdadige uitbuiting, onderdrukking en neerhaling met ’n Bybel aan't hand van ’n ander – ondanks sy gedeelde KdK soort begaafde intellektualisme van die Bybel tot eie eer en selfsugtige voordeel. Wat is tog die nut in ieder geval om gedagte te gee aan sulke danige "geroepenes" se "debat" behalwe om ander van die lyding en gevolge onderhewig aan hul slimmigheid te waarsku? Wat is so begaafd aan Kobus de Klerk se absurdhede behalwe vir die omstrede sensasie daaraan gebonde? Hoe groot gaan die wonder werklik wees as die bedrieër tydens sy vonnis as tronkkerk hoëpriester na nog ’n aanval van Spirituele Intelligensie met ’n Bybel aan't uit sy rolstoel opstaan (behalwe natuurlik vir ’n ekstra stukkie vleis uit naïwelinge se borde in bewondering na hom toe gekrap)?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top