In ’n kommentaar op Stephanie se bespreking en ander kommentaar op die vraag “is ek ’gay’ gebore?”, verwys katbossie, vermoedelik ’n gelowige homoseksuele persoon, na twee internet artikels wat sy gebruik (misbruik?) om haar homoseksualistiese siening te regverdig. Beide maak blykbaar op Christenskap aanspraak, as ek hulle reg verstaan.
Die groot verskil, tussen katbossie (haar/ hom?) en Stephanie, soos ek beide se standpunte verstaan, is dat Stephanie weet dat die praktyk van homoseksualisme nie kan stryk met haar geloofsoortuigings nie (hoewel sy dit nie in soveel woorde stel, nie), maar sy probeer dit nie as sodanig regverdig nie en maak duidelik melding daarvan dat die verhouding wat sy met die ander vrou het, nie gaan oor seksualiteit nie, maar oor die nie-erotiese verhouding tussen twee mense van dieselfde geslag – selibaat? Katbossie, daarenteen, probeer die homoseksualistiese verhoudings aan die hand van die Woord regverdig.
Uit reaksie van verskeie homoseksuele persone ter plaatse en in die buiteland, blyk dat diégene van hulle wat waarlik gelowig is, weet dat die praktyk teen God aanstoot gee en probeer dus tereg om nie die lastering van Gods Woord te pleeg deur dit uit die Woord te probeer regverdig nie.
Katbossie, daarenteen, sinspeel op die ’liefde’ om verby daardie merk te gaan en sommer die ganse boksemdais te probeer goedpraat – erotiese verhouding inkluis. As gesag noem sy daardie twee artikels van obskure mense wat nêrens in die Christelike geloofswêreld as gesaghebbend aangestip sal word, nie.
Kom ons ondersoek die nuwe pogings om Gods Woord ter wille van eie gewin, gemaksone, te verwring en verdraai.
Die konsep van ’liefde’ is die prooi van die wêreld en elkeen probeer om dié konsep te verwring en verdraai om sy saak te pas.
Tog is daar net Één ware Liefde en dit is God. God Ís Liefde (1 Johannes 4:7). Alles anders, ook die mensgemaakte pseudo-liefde weergawe daarvan om die gemaksones te verdedig ten koste van die Waarheid van die Liefde, is versinsels en gruwels. En lastering teen God. Om die ware Goddelike Liefde te wil vervang met mensgemaakte gerief-liefde en dít te verkies bo die ware Godsliefde, is bepaald lastering teen die Liefde Self, teen God, Self.
Dit is nie moeilik om te weet wat ware Liefde is, nie. Dolf het dit reeds in besonderhede verduidelik aan katbossie. In antwoord gaan katbossie vir Dolf teë met die verwysing na een van daardie aanstootlike, lasterlike artikels.
Diegene wie die moeite doen om God werklik te leer ken, deur Sy Woord, Sy Seun, die HERE Jesus Christus, weet dat dié Liefde nié gemaksone liefde is, nie. Kyk na die aard en wese van God. Streng, regverdig, billik, goedertieren, genadig, ordelik en konsekwent téén die sonde, gerig. Onveranderlik. Lees ook gerus 1 Korinthiërs 13 in die lig van dié riglyne. God openbaar Homself in die Ou Testament vir Wie HY is – die Liefde - maar streng Liefde. In die Nuwe Testament, openbaar Hy Homself deur Sy Seun/Woord Jesus Christus die HERE, Wie eerder Sy Lewe vir ons sal aflê, as dat daar voor die sonde geswig sal word. En wat doen die katbsossies met dié Liefde? Versmaai dit ter wille van die leuens en verdraaiings deur die duidelikste voorbeelde van ’predikers’ wat vir mense sê wat hulle wil hoor en nie wat hulle moet hoor, nie – katbossie en ander wat soos sy redeneer, is mense wat hulleself eerder omring met diegene waarteen daar so ernstig in 2 Korinthiërs 11:13, 2 Petrus 2:1 en 2 Timoteus 4:3-4 gewaarsku word.
Dit is werklik hartseer.
En dan wys Dolf tereg vir katbossie uit dat die holruggeryde cliché, om mense soos ons wat ander teen skadelike spirituele praktyke – sonde- te waarsku, as ’haters’ uitgekryt word, só ’n mistasting is, aangesien dit inderdaad ’n liefdesdaad is. Die feit is, ons word nie met dankbaarheid begroet deur diegene wat deur ons tereggewys word, nie. Ons word dikwels uitgeskel en name genoem en selfs gevloek en gedreig – en met die MRK en wat nog alles gedreig. Dus, ons doen dit nie vir ons eie voordeel nie, maar ter wille van diegene vir wie ons teregwys en waarsku.
Ek wonder dikwels of dié mense, wat van ons verwag om ’n blinde oog te draai en soos Dolf uitwys, sonde en afvalligheid te begroet met ’Jesus loves you’ asof ons daardie afvalligheid en sonde seën, asof die HERE Jesus dit sal seën, besef dat, om ’n ander sommer maar te laat begaan wel wetende dié persoon stuur op verderf af, juis nie liefde is nie, maar haat – want ’n mens kán jouself nie in ’n ander se ondergang verlustig óf onverskillig staan daarteenoor, nie… dít is liefdeloos – en onverantwoordelik. Ons God-geïnspireerde gewetes laat ons nie toe om onverskillig te staan, nie. Ons HERE verwag van ons, om ander te waarsku (Esegiël 3:17-21). Dit beteken nié ons dink ons is beter as ander nie, maar dit beteken ons gee werklik om, én ons is die HERE gehoorsaam – want dié reël van betugtiging en waarskuwing is juis ’n liefdesreël deur God ingestel (Hebreërs 12:7; Openbaring 3:19) want Hy laat diegene vir wie HY liefhet, betugtig – ’n onbaatsugtige omgee-reël. Dít is wat die kern van liefde is – omgee! Hoe kan mense dus daaroor aanstoot neem? Want hulle ken (nog) nie die Liefde nie.
Die een artikel se skrywer, ene Osler, gaan van die standpunt uit dat die goed is om twee mense van dieselfde geslag in die huwelik te bevestig. Kortliks steun hy op Petrus se rede waar Petrus ’n pleidooi lewer vir alle mense, nie net Jode nie, om gedoop te word. Osler haal Petrus só aan “Can anyone withhold the water for baptizing these people who have received the Holy Spirit just as we have?” Maar Osler verdraai die woorde van Petrus gruwelik, want in Handelinge 2:38 sê Petrus uitdruklik “ … Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.” Verder lieg Osler en sê “None of us, Peter says, has the moral authority to deny baptism to those who seek it, even if they do not follow the ancient laws. It is the flooding love of the Holy Spirit, which fell over that entire crowd, sinners and saints alike, that directs otherwise.” - Ek het egter so pas aangehaal uit die Woord, die ware woorde van Petrus in dié verband, waar Petrus dit duidelik maak dat die mense hulle eers moet bekeer en dán laat doop en dán eers, sal hulle die Heilige Gees ontvang. Hoe kan 'n mens wat steeds met homoseksualistiese praktyke volhou, beweer dat hy daarvan bekeer, is? Dit is mos 'n leuen...
Die katbossies van hierdie wêreld het geen verskoning nie – net soos ons, is hulle ook beskore tot ’n verhouding met die HERE, die Woord en net soos ons, het hulle ook die Woord in geskrewe vorm om te lees en te sien hoe hulle deur die Oslers en die Helminiaks van hierdie wêreld mislei en belieg, word – en om te sien hoe diesulkes die Woord van God belaster en verdraai met hulle leuens. Dus, waarom doen die katbossies onder ons, dit nie?
Hoe sal God teen Sy eie Woord gaan en dit nogal seën, soos wat die sakramente juis veronderstel? Hoe sal God iets wat Hy as gruwel aanmerk, homoseksuele praktyke, onder meer, dan skielik by wyse van sakrament heilig? Dit is hoogs lasterlik om dit selfs te beweer. Daar is duidelike verbod op die praktyk van homoseksualisme, sonder kwalifikasie of uitsondering. Levitikus 18:22-23 en 20:13 gee ’n duidelike omskrywing van die praktyk en verbied dit sónder kwalifikasie of uitsondering, uitdruklik. Al die verwysings in die Nuwe Testament daarna, is gebaseer op daardie uitdruklike verbod. Let daarop - Die HERE kom en bevestig die Wet, wat die bepalings oor die praktyk van homoseksualisme insluit, uitdruklik (Mattheus 5:17-19 – let veral op die streng waarskuwing in 19 vir diegene wat dit probeer verdraai).
Die argument dat die HERE nêrens direk met homoseksualistiese praktyke deel nie en daarom is dit dus kwansuis maar OK, is dus ’n infame leuen. Die Wet, die Woord, verbied en bestraf dit dreurgaans, waarom sou die HERE dit dan oor en oor moet herhaal? Het Hy dan nie in die genoemde gedeelte dít, saam met al die ander wette en profesieë, uitdruklik bevestig nie? Natuurlik het HY!In Romeine 1 is die gruwel daarvan uitdruklik uitgelig asook elders.
Die storie van die Sodomiete word ook deur die Helminiaks van hierdie ou wêreld verdraai, en dit geld vir die res van die bewerings sy artikel. Die gruwel van homoseksualisme wat in Sodom bedrywe was, het God só ontstig dat God dié plek met die aarde gelykgemaak, het. Die Sodomiete het die dogters van Lot geweier, want hulle was homoseksualiste... hulle stel geen belang in vroue nie, hulle wou mans verkrag! – So duidelik soos daglig.
God sal nié teen Sy Eie Woord gaan, nie (Mattheus 24:35; 1 Petrus 1:23-25). God se standvastigheid en die betroubaarheid van Sy Woord, is juis deel van Sy regverdige Liefde – elke iedere mens weet waar hulle met God staan. Die eerste en groot Gebod, soos katbossie ook vermeld, is om God lief te hê (sy doen lippediens, want agterna verdring sy dit vir selfliefde). Maar om God lyf te hê met jou hele hart, siel en verstand, beteken noodwendig dat die mens Sy Woord sal moet en wil respekteer en gehoorsaam (1 Samuel 15:22; Jesaja 1:11-17; Hebreërs 5:8; Mattheus 7:21; Lukas 6:46). Dit is ’n leuen om te sê dat iemand God liefhet met sy hele wese, maar dan God se Woord vir eie gerief en gewin te verdraai.
Die drie sakramente, naamlik die doop (bevestiging van die onderwerping aan God se Wil en Sy Woord en Sy outoriteit), die heilige Nagmaal (simbool van die eenheid met en onderwerping aan die verlossing in Jesus Christus en die aflegging van die sonde in Sy Bloed en Krag) en die huwelik (as bevestiging van God se samevoeging van ’n man en ’n vrou as één in liggaam en gees in die Liefdesverbintenis en die eenheid voor God) is nié beskikbaar vir diegene wat hulle nié aan die gesag van die Woord en van Christus wil onderwerp, nie. Trouens, diegene wat daaraan meedoen sonder volkome verootmoediging en belydenis voor God, bring ’n besonder ernstige oordeel oor hulself (1 Korinthiërs 11:27-29).
Groete,
Kobus de Klerk

