Daar is sommige wat maak asof hulle die HERE ken, maar wanneer hulle begin getuig, dan sien jy dat hulle, nes die agnostikus, soos Oom Daan, die woorde van die Bybel kan resiteer, maar werklik ook nie weet wat aangaan nie. Die les? Álmal, ja, selfs die mees geharde ateïs én ketter, het toegang tot die Bybel, maar beslis nie almal kan die inhoud daarvan verstaan nie …
Kyk nou weer vir Duitswester. In vorige briewe skrywe hy ’n reeks Bybel-verwysings af wat hy meen teen die viering van die HERE se geboorte op 25 Desember sal spreek – nie een is egter van toepassing nie. Die HERE het nog nóóit iemand selfs by implikasie, verbied om Sy geboorte te vier en herdenk nie. Inteendeel, enigeen wat Lukas 2:8-20 lees sal die teendeel bemerk.
Oom Daan, die volslae selferkende ateïs, probeer, soos dit maar met hom is, vir Duitswester vasvra en kry dit ook sommer maklik reg! Duitswester antwoord en die insigloosheid wat dié selfgestileerde Messiaanse Judaïs aan die dag lê, oortref die selfs die insigloosheid van ’n ateïs. Tewens, Oom Daan noem in sy aanvanklike strikvraag-brief sommer twee voorbeelde waar Duitswester, had hy die insig, moes sien dat hy ’n behoorlike en insigvolle verklaring moet voorsien, want selfs die agnostikus kom agter dat sy aanbieding sonder enige verduideliking, bietjie dik vir ’n daalder is … Maar wat doen Duitswester? Sy antwoord spreek vir sigself. Wat ’n skandelike antwoord. In die eerste plek is sy verwysing na “die verkeerde ou” by noodwendige implikasie dat God, Wie die reël neerlê waarvan hy praat (maar hoegenaamd nie verstaan nie), die ánder “ou” is – hoe lasterlik disrespekvol! Tweedens gee hy deur sy onsinnige antwoord te kenne dat mens maar kwaad kan wees oor dié reëling van God, solank dit net nie vir hom, Duitswester, is nie. Sowat van ’n skandelike en insiglose disposisie oor die dinge van God vanaf ’n sogenaamde “gelowige” aan ’n agnostikus het ek selde nog teëgekom. Vir ons skuil die ketter, Duitswester, wat sulke misleidende lastering oor die HERE versprei, agter ’n skuilnaam, maar van God kan hy nie skuil nie (Psalm 139:7-12).
Deuteronomium 12:1-4 gee self die verduideliking, vir dié wie dit kan verstaan. Beide Duitswester en Oom Daan, soos dit maar met hulle insigloosheid (wat aanleiding gee tot nydigheid en listigheid) is, sonder ook net vers 2, verwysende na die groen bome, uit. Maar die tersaaklike verse lui as volg:
“2 Julle moet terdeë verniel al die plekke waar die nasies wat julle gaan verdrywe, hulle gode gedien het op die hoë berge en op die heuwels en onder elke groen boom.
3 En julle moet hulle altare omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme met vuur verbrand en die gesnede beelde van hulle gode omkap en hulle naam van dié plek laat verdwyn. (My kursivering)” – Deuteronomium 12.
Wat ter sake is, is “al die plekke waar die nasies … hulle gode gedien” het. Waar? “Op die hoë berge en op die heuwels en onder elke groen boom”. Wat moes hulle doen by dié plekke? “Julle moet hulle altare omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme met vuur verbrand en die gesnede beelde van hulle gode omkap en hulle naam van dié plek laat verdwyn.”
Nou ja, meer duidelik as dit, kán dit nie. Die plekke ónder die groen bome waar afgodsbeelde en altare was, moes gereinig en skoongemaak word. Die arme bome self is nie betrokke nie (spasie onder sommige immergroen bome was gesien as geskik vir fertiliteitsafgode). Presies dieselfde geld vir 1 Konings 14:23; Jesaja 57:5 en Jeremia 3:6.
Dus, dié plekke moes gereinig word, dít is die werklike opdrag – en presies dít, terloops, doen die Christene met 25 Desember wanneer die HERE se geboorte gevier word.
Groete,
Kobus de Klerk

