Chris skrywe weer oor die slang en God in die Paradys. Hierdie keer weeg hy die slang (satan) se mededelings teenoor dié van God op. Hoe doen hy dit? Deur dit in sy eie agnostiese verwysingsraamwerk te probeer interpreteer. Uiteraard is die resultaat van sy poging as agnostikus dat hy, lasterlik soos dit is en uiteraard oningelig oor die ware betekenis, perspektief en inslag van die Woord, God tot leuenaar probeer maak en die eer vir sý tipe ‘waarheid’ aan die satan laat toekom. Ek sê dit weer en het dit al dikwels gesê – die mense soos Chris is juis agnostici omdat hulle dinge nie in die Goddelik-spirituele perspektief en benadering kan sien, nie.
Daar sluit toe ’n koortjie agnostici by Chris aan, die een so verdwaald soos die ander. Die ergste is dié van die agnostikus Naas Ferreira. Nes Cornelius, probeer hy die Woord verdraai om by sy eie agnostiese siening in te pas en dít dan as ’n model vir geloof voor te hou. Hulle wil van die Bybel wegstap nie, maar wil aan die ander kant, ook nie waarlik glo, nie. Ferreira flans vir hom ’n totaal agnostiese en sekulêre mite uit die woorde van die Bybel saam om dan vir hom aansluiting te vind by sy materiële agnostiese verwysingsraamwerk. Cornelius doen dieselfde maar op ’n ander, volkome okkultiese manier en besluit God is nie werklikheid nie, maar ’n mite en verwag dan van dié onwerklikheid (dit is wat ’n mite in essensie is) om dan iets daarvan in iemand se hart ‘waar’ te maak – ’n Paradoks, ’n contradictio in terminis. Maar aan die ander kant, selfs erger nog, is dit soos hý dit stel, sy onwerklikheid (die mite-god) wat die onwerklikheid van die onwerklike, mitologiese bestaan van God, in sy hart moet bewerkstellig – lees gerus sy bygaande kommentaar aan Chris.
Weereens sien ons by hulle die volkome betroubaarheid van die Woord in aksie - die leuen moet die leuen in die hart vestig en dit bring ons direk by die werking van die satan, uit (Johannes 8:43-45) – dit is dan ook duidelik waarom geeneen van hulle die Waarheid omtrent God ken, nie en dus hulle eie versinsels saamflans.
Die ander kommentatore, soos Angus en Thomas, raak eintlik niks kwyt nie – Thomas minste van almal (soos gebruiklik).
Chris raak dan met Cornelius in gesprek betrokke en dié twee agnostici praat mekaar op eie erkenning heeltemal deurmekaar – uiteraard, want geeneen van hulle het ’n vaste Geesgeïnspireerde insig- en kennisbasis nie en nie een van hulle het eiekennis van die onderwerp – God en geloof in God – nie. As hul had, weereens, het hul nie dié gesprek gehad, nie.
Ook erg is dat Chris sy onkunde oor die kenmerke van Christenskap só tentoonstel dat hy Cornelius as ’n Christen aansien. Het hy kort geheue? Nie te lank terug nie, het die einste Chris na Cornelius verwys as ’n soort van agnostikus met 'geloofsbagasie' wat hy sukkel om af te skud – dáárin was hy wat Chris is, tragies genoeg, korrek. Nóú is Cornelius weer vir hom die gunsteling Christen, want dit pas sy argument hierdie keer en só draai hulle die mantel, om en om …
Ferreira se poging om aan sy eie agnostiese doel te beantwoord, is só verregaande verwyderd en kunsmatig, dat dit weens die ooglopende belaglikheid daarvan geen verdere bespreking behoef, nie, behalwe net om te vermeld dat sy konstruk net weer demonstreer hoe vêr agnostici bereid is om te gaan om hulself te bedrieg in ’n poging om van die Waarheid weg te kom en dan weereens hoe dit aansluit by die einste Woord, Wie hulle so probeer afmaak, by monde van die HERE soos aangehaal in Johannes 8:43-45 – die grondslag vandaar die agnostiese sindroom van selfdesepsie waaroor ek al dikwels geskrywe, het.
Terug by Chris se leuen oor waar presies die Waarheid lê in die gesprekke van God en die satan onderskeidelik, met Adam en Eva.
Wanneer God praat van lewe en sterwe, praat God van die Ewige Lewe en nié die tydelike fisiologiese lewe, nie (Genesis 6:3). Wanneer die satan daaroor praat, praat hy vanuit sy eie onkunde aangaande God se raadsplan, waaraan hy self en ook sy trawante, géén deel het, nie (Openbaring 12:7-9), bloot van die fisiologiese lewe en belieg vir Eva blatant daaroor. Wanneer God dus die mens, Adam, waarsku, waarsku HY oor die Ewige lewe wat die mens sal verbeur as hy aan God ongehoorsaam is, dus sondig. Die satan is rééds op daardie vlak en het geen bewustheid van die Ewige lewe, nie. Toe Eva dus deur die satan toegespreek is, het sy gedink dat hy as (eertydse) hemelse wese verwys na die ewige lewe en dáárin was sy bedrieg want die satan het gewoon na die fisiologiese lewe verwys. Haar sonde was dat sy eerder die satan geglo het, as vir God en daarvoor het sy haar ewige lewe verbeur (want God het dit uitdruklik só bepaal – Genesis 2:16-17).
Só eenvoudig is dit om as ware gelowige, die onderskeid te tref om te sien hoe die satan bedrieg en lieg en God die Waarheid praat want HY ÍS die Waarheid. Maar uiteraard is die agnostikus gebonde aan dieselfde tekortkoming en gebrek aan insig as dié van sy spirituele vader, die satan, sy inspirasie – soos gedemonstreer deur die agnostiese koortjie se deurmekaar gespartel. Die agnostikus is nie in staat om buite sy eie sosiologiese verwysingsraamwerk te dink, nie.
Groete,
Kobus de Klerk


Kommentaar
Gelaai met een helse kontroversie vol ware infernale spirituele intelligensie en in volle aanval sak die ou grote weer toe en verskeur ’n ieder wat hom nie eer nie. Behalwe vir sy oordeel links en regs met oorgawe asof dit God is blyk die ou grote met slegs ’n skrapse mededeling in sy boog te dwaal dat die mens van die begin geskape is om fisies te sterf. Absurd! ... en mites soos in mitologie okkulte? Waar kom die anderhater Kobus de Klerk tog vandaan?
Kobus, vir jou is dit onmoontlik om hierdie gedeelte te lees en die ooglopende lees van die storie te aanvaar, ’n eerlike lees daarvan wat net kan wys op ’n fisiese sterwe van mense, sou hulle eet van die vrug. Nêrens in hierdie storie is daar enige sprake van ’n ewige lewe wat verbeur word met die eet van die vrug. Jy gee ’n verwysing na Openbaring 12:7, asof dit hierdie idee van ’n ewige, eerder as ’n fisiese lewe, ondersteun, maar dit ondersteun jou verwysing na Satan en sy trawante, ’n punt wat irrelevant is in die konteks van jou bespreking.
(Miskien tog die moeite werd hier om dit aan te haal om uit te wys hoe maklik jy bybelversies in jou skrywes inlas as ’n bullshit-baffles-brains-taktiek:
Rev. 12:7 And war broke out in heaven; Michael and his angels fought against the dragon. The dragon and his angels fought back, 8 but they were defeated, and there was no longer any place for them in heaven. 9 The great dragon was thrown down, that ancient serpent, who is called the Devil and Satan, the deceiver of the whole world – he was thrown down to the earth, and his angels were thrown down with him.
Dit dra niks by tot jou argument!)
Nou moet jy vir my wys waar hierdie verwysing (uit die Bybel) gevind kan word dat die dood wat God aan mense beloof in Genesis verwys na die ewige en nie na die fisiese nie. Dit moet duidelik gestel word en moet spesifiek wees. Dit kan nie staatmaak op jou beroemde spirituele insig, wat eintlik maar net ’n eufemisme is vir lieg, spin en suig vir jou geloof, om jou los te werk nie. As jy dit nie kan doen nie, staan Gen. 2 & 3 duidelik as God wat lieg en die slang wat die waarheid praat.
Die feit dat jy dit nie kan aanvaar soos dit duidelik geskryf staan nie, en wil peuter daaraan met "spirituele insig", ondersteun Jaco Gericke se tesis (hoofstuk 8): Jy glo self nie aan die God van Genesis nie. Jy skuld my ’n verskoning, maar ek sal nie aandring daarop nie.
Chris,
Die ganse gesprek wat God met Adam had oor die vrugte van die boom van kennis van goed en kwaad in die middel van die tuin, het juis oor die Spirituele gedrag van die mens teenoor God en sonde (kwaad) gegaan.
Die fisiese bome verteenwoordig in simboliek die voeding van die fisiese liggaam met fisiese voedsel wat die fisiese liggaam voed óf laat die fisiese liggaam sterf as daar verkeerde fisiese voedsel geëet word (giftige bessies, plante, vrot vleis, ens) en die Spirituele boom gee Spirituele voedsel wat insgelyks óf Spiritueel voedsaam óf Spiritueel dodelik, is.
Dus, die blote feit dat God vir Adam sê dat hy sekerlik sal sterwe as hy van die vrug daarvan eet (met ander woorde, ongehoorsaam is en derhalwe by die sonde daarvan betrokke raak) moet tog vir jou ook onmiddellik sê dat die omgekeerde noodwendig ook waar is, naamlik, dat as hy nié van die vrug eet nie, sal hy nie sterwe nie en dat dit niks met fisiese voedsel te make het, nie! Dit beteken mos duidelik nie sy fisiese liggaam sal ewig wees nie, maar hy sal die ewige Lewe hê.
Die ganse inslag van die Evangelie gaan juis dáároor, naamlik dat die deelagtigheid aan die sonde tot die ewige dood sal lei maar dat geloof en gehoorsaamheid aan God, die HERE, tot die ewige lewe sal lei. Daarom dat jy ook nie kan insien watter bydrae die feit dat die satan op aarde is en nie meer onder God se Hemelse gesagstruktuur in diens van God, juis teweegbring met die kwessie van die verkeerde (Spiritueel dodelike voedsel) vrugte van die boom van kennis van goed en kwaad, nie. Juis ongehoorsaamheid – die rede waarom die satan in opstand gekom het teen die Goddelike gesag in die Hemel en saam met sy trawante uit die Hemele geskop is in die gedeelte wat jy self aanhaal en waarna ek verwys – en hier kom hy op aarde en oorreed die vrou, Eva, om presies dieselfde sonde as waarvoor hy uitgeskop is, te doen … en jy kan wrintie nie die relevansie insien, nie? Dit is juis die spirituele 'vrugte' wat die satan haar aanbied om te 'eet' – met ander woorde, deelagtig te wees tot die mate dat dit deel van haar word soos fisiese voedsel opgebreek en deel van haar, word. Dit is waaroor die kruks gaan – die satan is verantwoordelik vir en verteenwoordig die spirituele verval en -degenerasie van die mens en hierdie spirituele verval en -degenerasie is juis die spirituele vrug wat hy kom voer aan die ongehoorsame mens – dit is die relevansie van die gedeelte van Openbaring wat jy self aanhaal sonder om te besef wat jy aanhaal (selfs nadat ek die verband uitgewys, het).
Dit is verstommend dat jy dit nie kan aansien, nie … maar na alles, dit is juis waarom en omdat, jy ’n ateïstiese agnostikus, is – jy kan nie insien, nie. Julle kan eenvoudig net nie die verrykende dinamika van die Woord, insien nie. Dit is eintlik pateties dat jy aandring op ’n verskoning terwyl jy so insigloos en verkeerd is – hoe arrogant van jou.
Maar nou ja, wat kan mens verwag, jy is dan arrogant en vermetel genoeg om God tot leuenaar te probeer maak – besef jy dat jy teen die Gees laster?!
Ek glo volkome in die God van Genesis en dit is vir my ’n wonderlike belewenis saam met Hom.
Kobus de Klerk