In Genesis 2 vertel God die man dat hy sekerlik sal sterf as hy eet van die boom van kennis van goed en kwaad. Die vrou word gemaak en kort hierna in Genesis 3 vertel die slang hulle dat hulle sekerlik nie sal sterf nie, maar eerder dat hulle oë sal oopgaan en dat hulle sal wees soos die gode wat weet wat goed en kwaad is. En dit is toe presies wat gebeur. Hulle oë gaan oop, hulle onderskei tussen goed en kwaad, en hulle sterf nie! Selfs God spreek die bekommernis uit teenoor sy mede gode dat die mens nou geraak het soos hulle deur te weet wat goed en kwaad is, presies wat die slang gesê het!
Satan het darem ten minste een goeie punt, hy lieg nie soos God vir mense nie.


Kommentaar
Wanneer mens die Bybel letterlik opneem loop jy in probleme soos Chris Dippenaar het vas. Die tweede skeppingsverhaal wat opgeteken is Genesis 2 is deel van die skeppingsmitologie en gaan eintlik oor iets anders as 'n god wat lieg en die duiwel wat die waarheid praat. Dit gaan oor die keuse wat die mens het om uit die moeras van onkunde na die erkenning van onderskeiding te beweeg. Voor die eet van die vrug was die mens in hul oerfase deel van die natuur en het hulle geen onderskeid (separation) tussen die mens en die natuur en tussen hulleself beleef nie. Dit was 'n fase van naiwiteit (naaktheid) en die slang (wat nie die duiwel of Satan is nie) verteenwoordig die lewe. Die mens kies dualisme en ewolusie van bewussyn. Dit is die proses wat elke mens ook loop, van baba, kleuter, jongeling, volwassene tot bejaarde en die dood - van die baarmoeder tot die graf. Dit is ook die ontstaan van die ego wat uiteindelik terug moet staan vir nie-dualisme van dei eenheid in God. Erens op die pad behoort die mens wakker te word om te besef dat ons ware Self is God (beeld van God). Die dood waarvan God praat gaan oor die dood van die prerasionele eenheid met die natuur. Die slang se lewe gaan oor die ontwaking tot 'n lewe verwydering van die natuur. Daar is 'n progressie (ontwikkeling) in die mens se kennis, vaardighede, en geleenthede. Dis toe die mens uit hul primitiewe fase beweeg het. Kyk waar is ons nou! Dis hoekom Ken Wilber een van sy boeke wat juis hieroor handel "Up from Eden" noem. Hy se dis nie 'n sondeval nie maar 'n beweging vorentoe. Ons moet die Bybel as mitologie en nie as geskiedenis lees nie.
Hallo Chris,
God se waarskuwing aan Adam en Eva dat hulle sou sterf is vervul in die vooruitsig van jou eie dood.
Veronderstelde kennis tussen goed en kwaad is inderdaad die pyn in ons bestaan (waar is daar geregtigheid?).
God se genade is in die oordeel dat Eva met pyn kinders sou baar en Adam met harde swoeg kos op die tafel sal bring - voor hulle sterf.
'n Goddelike en ewige lewe is steeds beskore vir enige uit hul nageslag wat hul tot gehoorsaamheid in God keer.
Die belofte dat die Slang die Mens in die hakskeen sal byt maar dat die Mens die Slang se kop vermorsel is 2000 jaar gelede met die opstanding van onse Ewige Adam, Jesus Christus onse Hemelse Vader vervul.
Die mens se gehoorsaamheid aan God in vervulling van God se Verlossingsbloed aan die Kruis herstel die mens weer tot ewige wese in die Koninkryk van die Hemele - die oordeel (onderskeid tussen goed en kwaad) kom God alleen toe.
Intussen is ons gebonde aan die vloek van hierdie bestaan as deel van ons erfsonde - uit die tuin van Eden verban en gedoem tot sterwe tot en met die Wederkoms van onse Verlosser waarna ons weer in God se liefde en genade opgewek in die Tuin sal lewe.
Namaste!
Cornelius
Chris,
Jy kan maar kwaad word vir God - Hy kan dit vat!
Maar kan jy? ...
Hello Naas
Voor die Christen die Bybel lees as mitologie, allegorie, metafoor, of wat ook al, moet hy dit kan regverdig. Net omdat hy duisende jare later hierdie stories lees en 'n letterlike interpretasie onaanvaarbaar vind beteken nie dat die oorspronklike skrywers en gehoor 'n probleem gehad het met 'n letterlike interpretasie nie. Die geloof in realiteit vir 'n groep word beskryf as mitologie deur ander van buite af, nie van binne die groep self nie. Enige simboliese interpretasie van die Bybel neem die teks nie ernstig op nie en weier om dit te lees binne sy eie historiese konteks. Daar is niks in Genesis wat dit uniek maak in die antieke wêreld van die Nabye Ooste en 'n anders as letterlike lees van die teks regverdig nie. Daar is niks wat ons laat twyfel dat beskawings rondom Juda en Israel die stories van hulle gode letterlik geinterpreteer het. Dis net 'n probleem as jy as moderne leser die stories glo as iets wat werklik gebeur het. Daar is absoluut niks wat jou hoef te druk na 'n simboliese interpretasie, tensy dit vereis word van jou geloof en godsdiens.
In elk geval, simbolies of letterlik gelees, die slang vertel die waarheid en God lieg. Die feit dat jy die teks anders interpreteer verander niks daaraan nie.
Dit gesê, ek vind jou interpretasie van die storie in Genesis interessant. Dit klink na 'n interpretasie geinspireer deur die werk van 'n Joseph Campbell of 'n James Frazer. Hoe jy dit egter gaan vereenselwig met die biologiese evolusie van die mens oor 'n tydperk van ten minste een honderd duisend jaar gaan dalk 'n probleem wees vir hierdie idee van jou. 'n Probleem, vir my in elk geval, is dat hierdie nie-wetenskaplike teorieë, net soos psigoanalise van Freud, en jy hoef nie met my saam te stem nie, handig vir gebruik in letterkunde is en nie veel meer nie. Ek sien dit as die produk van menslike verbeelding eerder as realiteit wat getoets kan word. Of anders gestel, 'n realiteit ervaar deur ondersteuners van 'n teorie wat ek beskou as moderne mitologie van buite. Laat elke era sy eie mitologie skep en oordeel dit binne die konteks van 'n era. Om mono-mites te konstrueer vir die mensdom kan maak dat jy die werklike interessante details mis.
(Die slang is nie Satan of die Duiwel nie, ek stem saam met jou. Ek was maar net 'n bietjie moedswillig)
Chris
Chris
Ons het twee keuses:
1) Die storie in Genesis is ’n antieke mite en moet as sodanig gelees word.
Of
2) Die lang en ingewikkelde relaas met allerhande aannames en veronderstellings van Naas Ferreira is waar.
Occam se lem maak die keuse so maklik.
Groetnis
Thomas
Hello Trienie
Ek is seker jou God sal dit kan vat as hy bestaan het. Daar is immers niks verkeerd met my opsomming van sy oneerlikheid in Genesis nie. Lees jou Bybel dan anders as myne?
Chris
Chris,
Jy tik: "Die geloof in realiteit vir 'n groep word beskryf as mitologie deur ander van buite af, nie van binne die groep self nie."
Met alle respek; dis nogals uitdagend om sin aan jou stelling te maak. Sal jy asseblief daarop uitwy?
Geloof is empirie. Hoe kan dit byvoorbeeld 'n "groep realiteit" wees?
Jou uitspraak as regter tussen God en die Slang blyk ook omstrede te wees. Is jy nie dalk te veel gedwonge en bevooroordeeld daarin ten gunste van die Slang nie?
Soos daar geskrywe staan - En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe (Genesis 2:16 &17).
Voorts - Toe sê die Slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken (Genesis 3:4 &5).
Sonder saak met geloof of ongeloof; hoe kan jy die Genesis mite vertolk dat die mens van die begin geskape is om te sterf? Waar voer die mens goed en kwaad of te wel geregtigheid gepas?
Nee wat, die mens bedrieg homself deur hul eie dood mis te kyk of te dink hulle is hoegenaamd instaat tot regverdigheid en billikheid (goed en kwaad) ongeag hul geloof of ongeloof.
Hoekom van alle wesens op aarde is die dood so algemeen onmoontlik verwerkbaar vir die mens (hiermee veronderstel ek jy ken die hartseer ervaring om 'n geliefde aan die dood af te staan)?
Chris, kan dit wees dat die dood en onreg om jou verby val? Wanneer laas het jy deur 'n begraafplaas gestap? Hoeveel mense ken jy wat in perfekte harmonie met die natuur geleef het en 'n perfekte natuurlike dood in absolute vrede gesterf het - sonder enige begrip of gedagte aan hul Skepper? Wat dink jy is die grootste oorsaak van mense se dood?
Ek verstaan jou gedagte is op die kontroversiële en staande sensasie voorgehou deur ware gelowiges soos "Dolf" gerig.
Maar is dit regtig nodig om ewe omstrede te wees om 'n punt te maak?
Ek nooi jou, Thomas, Angus en almal wat hieroor wonder om die algemene beskouing van Heilige Skrifte deur Hindoes, Moslems, Jode, katolieke en baie ander dit as mites (nie leuens of fiksie), allegories, metafories, etnologies, histories, en selfs wetenskaplik (soos in argeologie, etnologie, mitologie en teologie) te deel.
Geloof is 'n persoonlike ervaring en verhouding met God. Dis nie dogma wat aan ander gedweep kan word nie. Geen mens kan aan 'n ander geloof of ondervinding met God gee nie. God alleen bewerk geloof in ons harte. Die wat dit ontvang ken die genade daarvan en dien daarom met nederigheid hul medemens daarin.
Daar is geen fout of sonde om Heilige Skrifte met jou verstand ook te ondersoek nie. Nie almal kan egter 'n stel ensiklopedie in 'n week memoriseer nie. Elkeen handel daarmee volgens hul vermoë - die Bybel ook.
Hart en verstand is totaal uiteenlopend. Daarom is iets soos "spirituele intelligensie" waarmee ons almal hier geteister word 'n volslae infernale en KdK paradoks...
Ja, genadiglik bepaal kennis nie ons verlossing nie.
Maar hokaai; dis ook genoeg gedweep vir eers...
Cornelius
Help! Ockham se lem sal hier beslis sy sny moet ken.
Cornelius, as daar nou ooit 'n Christen was vir wie ek tyd het, sal dit seker jy wees, maar ek kyk na wat jy hierbo sê en ek het nie die vaagste benul waarvan jy praat nie. Net Naas se interpretasie van Genesis 2 & 3 is verder verwyder van wat daar geskryf staan as joune. Ek sê dit nie om lelik te wees nie, maar jy het jou gedagtes al so deurweek met die God van die filosowe en teoloë dat jy eenvoudig nie meer die ware God van die Ou Testament kan of wil sien vir wat hy is nie.
Laas week het Angus en Panda gesels oor die PU vir CHO en dit het my herinner aan die onderhoud wat Robert Price gehad met Jaco Gericke omtrent so 'n jaar terug. Ek het weer gaan luister na die onderhoud en die keer die moeite gedoen om sy tesis (Does Yahweh Exist?) waarna hy verwys en wat beskikbaar is op die internet, af te laai. Ek is besig om dit te lees. Ek los die skakel vir jou hier onder en hoop dat jy dit self sal aflaai en lees met 'n eerlike en oop gemoed.
Wat hy doen in sy tesis is uniek, maar die breër agtergrond waarin hy werk is al 'n paar honderd jaar oud. 'n Agtergrond van kritiese Bybel studie wat heeltemal buite die ervaringswêreld lê van meeste Christene. Hoekom dit so is bly vir my 'n raaisel. Ek gaan nie sê dat ek hoop jy geniet Jaco se werk nie, want ek weet nie hoe belangrik jou geloof is vir jou en of jy sal kan leef sonder dit. Wees net gewaarsku, as jy besluit om dit wel te lees, dat jy 'n wêreld ingaan wat die einde van jou geloof kan beteken. Soos Neo in die Matrix moet jy kies tussen die rooi en blou pilletjie.
Chris
http://upetd.up.ac.za/thesis/available/etd-03192004-135203/
Chris,
Die feit dat 'n kritiese Bybelstudie buite die ervaringsveld van meeste Christene lê,is omdat hulle heimlik vrees dat dit hulle geloof sal aantas.Dis lekker om maar net te aanvaar dat alles waar is,want dit bied sekuriteit.Ek gun hulle dit en probeer om nie mense te laat voel hulle is dom om die mites te glo nie,maar op hierdie forum waar dit openlik bespreek word,moet mens maar die harde feite uitdeel.Dankie vir jou nugter bydraes!
Dankie ook vir die skakel,dis voorwaar openbarende leesstof.
Groete
Perdebytjie
Chris,
Dankie vir jou antwoord. Dankie ook vir die skakel. Ek gee graag terugvoer sodra ek dit als deur gelees het.
Ek stel werklik belang in jou beskouing en het reeds baie daaruit geleer.
Ek gee toe dat ek dalk te veel disputasies in een klap aanroer. Ek staan daarom die bestaan van God en geloof as empirie vir eers af.
Die belangrikste punt op hierdie stadium dan (ongeag geloof of ongeloof); hoe bepaal jy op grond van die Genesis mite sigself dat die mens van die begin geskape is om te sterf?
Veronderstel die mite dan nie dat die mens as Goddelike en ewige wese geskape is nie?
Sodra ons uitsluitsel hierop kry kan ons bepaal of God se waarskuwing dat die mens sou sterf jeens ongehoorsaamheid waar is al dan nie - suiwer op grond van die mite self - en of die Slang se listigheid en leuens die mens toe in die dood gedompel het.
Namaste!
Cornelius
Hello Cornelius
Jy is reg, my woorde: "Die geloof in realiteit vir 'n groep word beskryf as mitologie deur ander van buite af, nie van binne die groep self nie", is effens onduidelik. Miskien sal 'n voorbeeld dit wat ek bedoel beter verduidelik: Vir jou en ander Christene is die wonderbaarlike geboorte van Jesus 'n realiteit en julle sal nooit daaraan dink om dit te beskryf as mitologie nie. Stel jou voor, na gebed slaan die dominee die Bybel oop en kondig aan dat julle nou die mite van Jesus se opstanding gaan lees! Ek hoop dit maak my punt duideliker.
Ek stem nie saam met jou ander punt dat die mite veronderstel dat die mens as Goddelike en ewige wese geskape is nie. Eerstens, daar is geen aanduiding uit die teks wat dui dat die man geskep is as 'n "Goddelike" wese nie. God het 'n tuinier nodig gehad vir sy tuin (Gen. 3:15). Tweedens, na aanleiding van Gen. 3:22 &23 spreek God sy bekommernis uit dat mense, noudat hulle soos die gode kan onderskei tussen goed en kwaad, gaan eet van die boom van die lewe en vir ewig leef. Dit impliseer duidelik dat mense nie geskape is as ewige weses nie. Die vraag is dan miskien of God gedink het hulle sal dalk in elk geval op een of ander stadium eet van hierdie vrugte, hy verbied immers nooit die eet van hiervan nie, en of dit iets is waaraan hy nie gedink het nie. Jy kan dit harmoniseer met Gen. 3:19 as jy die eerste opsie verkies, maar ek dink dat die algemene onbeholpenheid en onvermoë om probleme te voorsien (bv. die skep van die man sonder maat wat by hom pas) van God soos geskets in die skeppings weergawe van Gen. 2 sluit nie die tweede opsie uit nie.
Chris
Beste Chris,
Dankie vir n besondere interessante bydrae tot die ewige onderwerp van "erf sonde", the grondslag en kern van ons Joodse-Christelike wêreldbeeld. Dit doen my hart goed om te sien dat n tesis oor Yaweh die lig kon sien vanuit n tradisionele aartskonserwatiewe Suid-Afrikaanse universiteit, n duidelike bewys dat die evolusie van denke selfs daar nie gestuit kan word nie. Vir iemand wat helder en nugter WIL dink, kan nie anders as om Jaweh te sien as n konstruksie van n volk se verbeelding nie, en kan so n entiteit nie bestaan buite the gedagtes van dié wat hom geskep het. Vir dié wat van kleinsaf gebreinspoel en gekonditioneer is om aan die Bybel te glo, is dit byna ontmoontlik om afstand te maak van hulle geloof, óf om dit krities te bejeen, so moeilik vir hulle soos vir dwelmverslaafdes om af te staan van heroien.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys
Chris, weer eens baie dankie vir jou antwoord.
Ek dink nie om in diepte daarop te gaan nie, maar is geloof in iets soos realiteit en feit nie 'n erge teenstelling nie?
Tewens, eksegeties is die kenmerkende Hebreeuse trant bekend as midrash en ander se mitologie sinoniem.
Die geboorteverhale van Jesus Christus word byvoorbeeld in midrash verhaal want niemand was daar om verslag te doen nie. En selfs was daar verslaggewing - kyk hoe skeef is die beeld selfs vandag nog omtrent feitelike gebeure.
Wat kan Jesus Christus se opstanding uit die dood sonder geloof daarin anders as 'n mite wees? Waar kan geloof in God elders vandaan kom behalwe van God self? Wat is sulke geloof in genade anders as empirie? Hoe kan 'n individu sulke heilige ervaring aan ander wil opdwing as 'n realiteit en feit? Hoe kan Jesus Christus se opstanding uit die dood anders verkondig word as 'n mite totdat God die waarskynlikhied self waar maak in iemand se hart?
Dit als geneem verseker ek jou dis algemene katolieke katkisasie om dit wat die begrip te bowe gaan as mites (soos in mitologie) te ag. Dis inderdaad die sin van mites; die poetry van ons bestaan (waar woorde vir belewenis en grootse gebeure ontbreek).
Soos daar geskrywe staan (sonder om geloof of ongeloof daarin te ag); En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, ... En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape... (Genesis 1:26&27).
Rabbinisme, katolieke en selfs Protestante leer dat hierdie beeld ook op die onsterflike en onverganklike van God dui.
Hierdie beskouing staan voorts oral in die Nuwe Testament - onder meer: ...soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood... die dood geheers van Adam af tot op Moses, ook oor hulle wat nie gesondig het in die gelykheid van die oortreding van Adam nie, wat 'n voorbeeld is van Hom wat sou kom ... as ten gevolge van die misdaad van die één die dood geheers het deur die één, veel meer sal hulle wat die oorvloed van die genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus. Daarom dan, net soos dit deur een misdaad vir alle mense tot veroordeling gekom het, so ook is dit deur een daad van geregtigheid vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe. Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word... (Uit Romeine 5).
God se waarskuwing aan Adam dat sy ongehoorsaamheid tot die dood sal lei het dus in terme van die Genesis mite waar geword.
Dieselfde mite verklaar dat die Slang gelieg het aangesien aangesien daar tot op hede steeds geen geregtigheid by die mens te vinde is nie, en daar selfs nie meer plek vir begraafplase oor is nie.
Wat die algemene onreg in die mensdom betref; dis op merklik ook hier hoe skeiding tussen waarskynlikheid en absolute feit in rede geminag word.
In die regte lewe word siviele aanhoor op waarskynlikheid en kriminele aanhoor op absolute feit gevoer.
Die bestaan van God kan maklik afhangende van die era as onwaarskynlik in 'n siviele hof beslis word.
Hoe bewys een bo alle redelike twyfel en as absolute feit dat God nie bestaan nie - al is die waarskynlikheid daarvan ook hoe groot?
Die niebestaan van God sal dus nooit as absolute feit, selfs in die ganse menseheugenis in 'n kriminele hof met sukses aangevoer kan word nie.
(As ekke 'n Lotto kaartjie koop glo ek gaan wen - al is die waarskynlikheid hoe klein... en glo my - daar is al 'n hele paar wat wel gewen het... net vir ingeval jy dalk gedink het dis onmoontlik - ja, ongelukkig is dit geen feit dat ekke die prys gaan wen nie... waarskynlik?... wel, hoe sou jy my daarin bemoedig Chris?... dis tog 'n feit dat daar gereeld groot Lotto wenners is... )
Sou hierdie eenvoudige orde tussen feit en waarskynlikheid wel in 'n mate geag word, sou die gesprek meer geseënd op die werf kon vlot.
Namaste!
Cornelius
Cornelius, ek vind hierdie laaste bydrae van jou uiters teleurstellend. 'n Liberale gebruik van terme is seker partykeer van pas, maar wanneer dit so wollerig raak, soos wat jy doen met die woord 'mite', kan ons net so wel praat oor die weer.
Chris
Chris, wat is die provokasie in die woord "mite" ? Waarom verwag jy moet die Bybel buite die mitologie respekteer word? Is Hollywood se "myth busters" sulke erge breinspoeling dat mites se logika totaal verby val? Ja, hoe is geloof in iets soos realiteit en feit anders as erg paradoksaal? Dink jy steeds die Slang se bedrog het waar geword (op mitologiese gronde gerekend alleen)?
Ek het bogenoemde gesprekke aandagtig gelees, en wil van u almal verskil.
Die Skepper God wat ek aanbid, weet van die valse aantygings teen Hom. Daarom wil ek u waarsku dat die Here God Almagtig is en nie met Hom laat spot nie. Lees gerus die waarskuwings dwarsdeur die hele Woord van God.
In die Bybel word die mens geskape om vir ewig in die tuin van Eden te woon, toe die slang vir hulle sê hulle sal nie doodgaan nie, maar dit sal wel hulle oë oopmaak, het hy absoluut twak gepraat, Eva kon besluit het om weg te loop ook, dus kon sy ’n besluit tussen goed en kwaad gemaak het alvorens sy die vrug geëet het. Dus het sy al voor sy die vrug geëet het ’n keuse gehad tussen goed en kwaad. Die vrug het nie vir haar hierdie vermoë gegee nie. Al wat gebeur het toe sy en Adam die vrug geëet het is, hulle het agtergekom dat hulle naak was en het skuldig gevoel oor wat hulle gedoen het. Dus het die slang hulle laat sleg voel oor hoe hulle lyk en hoe hulle opgetree het teenoor die Here. Hulle het nie dadelik gesterf nie omdat God genadig was. Chris, jy glo in evolusie lyk dit my, het jy al ooit gedink dat dit dalk die Here se wil kon wees dat dit moes plaasvind? Dat die Big Bang gebeur het op Sy bevel? My broer het daardie idee vir my gegee. Maar wil jy regtig glo dat ons van ape af kom of wil jy glo dat ons as ’n unieke spesie geskape is om oor die land en see te regeer. Ek weet dit is interessant om te bespiegel oor die Bybel, maar ek hou nie daarvan dat jy ons Christene afmaak as idiote wat glo in mites nie, want volgens ons is dit nie mites nie. Ek lug maar net my opinie omdat jy joune gelug het. Jy sê ook dat jy ’n Bybel het, hoekom het jy een as jy nie in hom glo nie? Ek hoop regtig jy kom tot bekering, God wil altyd nog mense in Sy koninkryk inlaat.
Cheers.
Hello Boshoff
Die eerste ding wat jy moet doen is om jou Nuwe Vertaling, seker een van die swakste vertalings van die Bybel ooit, toe te maak en my te volg in ’n ander vertaling. Die King James sal doen.
Dis nou maar so dat die logika van mites nie altyd sin maak nie. Dit sal tog nie sin maak dat Adam en Eva nie kon onderskei tussen toelaatbaar (goed – mag eet van al die vrugte in die tuin), en ontoelaatbaar (kwaad – eet van die boom van kennis oor goed en kwaad), dit is soos jy sê en ek stem saam. Dit maak egter sin dat hulle hierdie kennis eers kry nadat hulle eet van die boom, en hier is die slang en God in ooreenstemming: Die slang in Gen. 3:4"... ye shall be as gods, knowing good and evil", en God in Gen.3:22"...Behold, the man is become as one of us, to know good and evil...". Op grond waarvan sou Adam en Eva kon onderskei tussen goed en kwaad as hulle eers hierdie kennis het ná die eet van die vrug? Die bewustheid van naakheid van Adam en Eva verwys juis na hierdie vermoë om te onderskei tussen goed en kwaad, en Gen 2:25 (And they were both naked, the man and his wife, and were not ashamed) beklemtoon dit verder. Kan jy die probleem sien?
Daar is niks in die storie waaruit jy sou kon aflei dat God die mens maak om ewig te leef nie, inteendeel, Gen.3:22"...now, lest he put forth his hand, and take also of the tree of life, and eat, and live for ever" impliseer dat mense sterflik gemaak is. Dat die tuin sélf bedoel was as ewige blyplek vir mense as God se tuiniers is seker nie verkeerd nie.
Met die bogenoemde in plek, kan ons weer kyk hoe die storie vertel word: (Gen 2) "15And the LORD God took the man, and put him into the garden of Eden to dress it and to keep it. 16And the LORD God commanded the man, saying, Of every tree of the garden thou mayest freely eat:17But of the tree of the knowledge of good and evil, thou shalt not eat of it: for in the day that thou eatest thereof thou shalt surely die". Die vrou word gemaak uit die man se rib, en die slang vra haar of hulle mag eet van al die bome in die tuin, waarop sy antwoord: (Gen 3) "2...We may eat of the fruit of the trees of the garden: 3But of the fruit of the tree which is in the midst of the garden, God hath said, Ye shall not eat of it, neither shall ye touch it, lest ye die. 4And the serpent said unto the woman, Ye shall not surely die: 5For God doth know that in the day ye eat thereof, then your eyes shall be opened, and ye shall be as gods, knowing good and evil". Hulle eet van die vrug en sterf nie. (Gen 3) "7And the eyes of them both were opened, and they knew that they were naked [weet goed en kwaad]; and they sewed fig leaves together, and made themselves aprons". God vang die twee uit en vertel hoe moeilik die lewe van nou af gaan wees vir hulle. Die rede hoekom hulle uit die tuin gesit word is in Gen. 3: "22And the LORD God said, Behold, the man is become as one of us, to know good and evil: and now, lest he put forth his hand, and take also of the tree of life, and eat, and live for ever: 23Therefore the LORD God sent him forth from the garden of Eden, to till the ground from whence he was taken". In hierdie laaste gedeelte eggo God die slang se woorde en bevestig dan ook mense nie veronderstel is om vir altyd te leef nie, iets wat net aan die gode behoort. Wat die boom van die lewe in die tuin soek in die eerste plek is ’n raaisel vir my.
Ek het niks by gelas of weg geneem van hierdie storie en kan dit nie sien as anders dat God lieg en die slang die waarheid praat nie. Dat jy dit nie so kan aanvaar kan ek goed verstaan, maar oorweeg die volgende: Jy is die derde Christen wat ’n oplossing aanbied vir ’n onsmaaklike gevolgtrekking. Cornelius meen dat die mens onsterflik gemaak is, maar dat dit hom nou ontneem is. Kobus reken dat die mens sterflik gemaak is, maar dat hy ’n geestelike dood sterf in die hel. Jy meen dat die mens nie gesterf het omdat God genadig was en hulle lewens gespaar het. Kan jy die probleem sien?
Ek is jammer dat ek die indruk skep dat ek dink Christene is idiote. Dis wanneer Kobus de Klerk die forum annekseer met irrasionele geestigheid dat ek soms oor die tou trap. Ek gaan nie vir jou lieg nie, ek dink die Christen geloof is idioties, maar ek moet seker meer moeite doen om nie die gelowiges van hierdie geloof oor dieselfde kam te skeer nie. Hoekom het ek ’n Bybel as ek nie glo nie? Die stories en die raaisels, wat anders?
Chris
God het van die begin af gesê dit is die boom van kennis van goed en kwaad, en dit was so. God het nie gelieg nie, die satan het dit maar net weer herhaal in sy leun aan die mens. Die feit dat die boom van die lewe ook daar was wys my dat God ook gereed was vir sy tweede belofte dat sou die mens gehoorsaam wees, kon die mens dadelik eet van die boom van die lewe en hy sou nie sterwe soos God gesê het. God wou die mens toe al die ewige lewe gee. Die boom is dadelik beskerm. Omdat die mens gesondig het moes hy uit die paradys op dieselfde dag om te sterwe en kon nie deel in die boom van die lewe nie. God het nie gesê hulle gaan nooit daarvan eet nie. Hoekom anders die bome daar plant? God het nie gelieg nie. God wou die mens voorberei vir die waarheid wat kom, op daar die stadium het die mens nie dood geken nie, maar God moes ook aan hulle bekend maak die kennis van ’n ewige lewe, wat sou insluit die kennis van goed en kwaad.
Die mens het nie geweet hy doen verkeerd nie, want voor die eet van die boom kon hy nie onderskei tussen goed en kwaad nie. God weet dit, daarom het Hy dadelik ’n plan in werking geplaas om die mens die waarheid te leer oor die ewige lewe deur Jesus.
Die mens het nie geweet hy doen verkeert nie, want voor die eet van die boom kon hy nie onderskei tussen goed en kwaad nie. God weet dit, daar om het Hy dadelik n plan in werking geplaas om die mens die waarheid te leer voor die ewige lewe deur Jesus.
Natuurlik het god gelieg want dis ’n mensgemaakte konsep. Yahweh bestaan nie so ook nie die duiwel adam@eva noag en al die ander mities in die bybel nie. Kyk na al die bybellande vandag nou glo julle regtig die nonsens wat daai mense duisende jare terug geskryf het wat nie eers geweet het die aarde draai om die son op sy eie as nie.
Mr K
Die fout wat jy maak is om aan te neem dat die boeke van die Bybel geplaas is in 'n presiese kronologiese volgorde en dus die verhale daarin vervat ook so neergeskryf is.
Die eerste skeppingsverhaal is geskryf tussen 586-589 vC deur die bannelinge.
Die Babiloniese Ryk onder Nebukadnesar oorwin Juda en voer van sy inwoners weg na verafgeleë Babilon.
Hier maak hy kennis met die talle Babiloniese skeppingsverhale met baie gode
wat dikwels in stryd met mekaar is. Hulle skryf dus 'n teenvoeter daarvoor met EEN SKEPPER.
Die tweede skeppingsverhaal is geskryf binne 'n landbougemeenskap en beeld God se skepping daar uit. Dit was voor die ballingskap.
Dit vertel dus Wie geskep het, maar nie hoe nie. Die hoe lê in die veld van die wetenskap.