Oor geloof en heiliging

  • 0

In gelowiges se gesprekke met mense kom ons agter dat daar ‘n wanpersepsie is dat mense nie heilig kan wees, nie, dat dit onmoontlik is. Dit is natuurlik ‘n siening wat baie gerieflik inwerk, want op so ‘n manier ‘hoef’ mense hulle nie te bekommer oor hul sondigheid, nie - as mens dan nie tot heiligheid in staat is nie, reken hulle, kan daar mos nie van hulle verwag word om te leef in gehoorsaamheid aan God, nie - dit wil sê, daar is ‘n permanente agterdeur oop vir sonde.

Maar, dit is natuurlik nie waar, nie. As dit so sou wees, waarom het die HERE Jesus Christus dan op Golgota vir ons as mensdom boete gedoen? Was Sy boetedoening dan nie juis om die strikke en die houvas van die sonde van ons af te gooi (Jesaja 9:3; 10:27; Mattheus 8:17; Lukas 4:17-21) en die straf vir sonde namens ons te dra sodat ons vrygespreek word en in Hom, en geloof in Hom (Johannes 1:12; 20:31; 1 Johannes 3:23-24), direk uit Sy genade, geregverdig word, nie (Genesis 15:6; Romeine 4:3; Galasiërs 3:6; Jakobus 2:23)?

Dus, die ware geloof lei noodwendig tot n proses van heiliging. Tewens, dit is die direkte opdrag van God, dat ons heilig moet wees, want HY is heilig (Levitikus 11:54-55; 1 Petrus 1:14-21). Die mens kan slegs in sy verhouding met Jesus Christus die HERE geheilig, word (Johannes 14:6-7; Hebreërs 2:11; 10:10).

Wat beteken dit om heilig te wees?

Die Hebreeuse woord, q?d?sj , of qadash, wat met ‘heilig’ in Afrikaans en ‘sanctify’ op Engels vertaal word, beteken ‘om af te sonder’. In die Nuwe Testament word die Griekse woord hagios of hagiazo gebruik. Dit beteken nie ‘afsonder’ in die sin van hoe die monnike dit destyds in die Middeleeue gedoen het, nie, maar dit beteken dat die geheiligde mens vir God, en God alleen, sal eer en dien (Lukas 4:8). Dit beteken dat die geheiligde mens hom daarop instel om sy lewe so te lewe, dat dit tot eer van God sal strek - uiteraard, in gehoorsaamheid aan God. Dit beteken dat mens op aarde voluit kan lewe (Prediker 3:13 g.m. 2:24-25), maar tot eer van God. Dit beteken ook dat die mens die versoekinge en strikke van die vlees, die karnale wêreld, sal teenstaan. Die geheiligde mens sal dus die vleeslike en karnale lewe afsterf en wedergebore word in die Gees (Johannes 1:12-13; 3:6) en die Geestelike in die vlees uitleef, want ons HERE Jesus Christus het juis vir ons gewys hoe dit gedoen kan word! Daarom, kan dit net gedoen word deur volledige aanneming én uitlewing van die HERE Jesus Christus as ons Eerste Liefde (Jeremia 2:2; Openbaring 2:4) – want in Hom, is ons tot dit alles in staat omdat HY ons die Krag daartoe gee (Filippense 4:13). Hoe word dit gedoen? Sien hieroor Romeine 8:5-8; 1 Korintiërs 2:13-15; Galasiërs 5:22.

Wat beteken dit om Jesus Christus as Eerste Liefde te hê? Deur uitlewing van die Eerste Gebod (Deuteronomium 6:5; Mattheus 22:37; Johannes 14:15-24) in die Gees, dit wil sê, sonder dat die Liefde vir God, vir Jesus Christus die HERE, deur ortodokse roetine afgewater word – dit gebeur sodra die roetine eerder as die HERE van die roetine, geëer word. Dit wil sê, te veel roetine en ritueel waarteen die HERE waarsku (Lukas 6:46), maar te min werke van geloof uit geloof. Dit beteken glad nie dat verlossing en regverdiging deur werke verdien kan word, nie (sommige mense doen oënskynlik goeie werke, maar verloën die HERE met hulle hart en woorde), maar dat geloof sónder werke wat die geloof onderskei, blote lippediens, is (Jakobus 2:17-18). Ware geloof veronderstel gehoorsaamheid aan God (1 Samuel 15:22; Mattheus 7:21; Lukas 6:46) en gehoorsaamheid aan God verg dat dinge gedoen sal word – dit is die werke uit en van geloof- daardie werke waaraan gelowiges onderskei kan word (Johannes 14:15-24; Mattheus 25:31-46). Dit beteken eenvoudig dat ware geloof noodwendig en uiteraard, weens inspirasie deur die Groot Weldoener, die HERE Jesus Christus, geloofswerk tot gevolg het – die HERE Jesus Christus se tyd op aarde is vol voorbeelde van SY geloofswerk - die aktiewe geloofswerk waarvan gepraat word – en daartoe het HY ons immers ook opdrag gegee (Mattheus 10:7-8; 28:19; Lukas 9:2; 10:9).

Die wedergeboorte, ware geloof en heiliging gaan dus hand-in-hand, beginnende by die geloof.

Wat moet ons glo? Die Woord van die HERE Self maak dit baie eenvoudig en duidelik - HY sê ons moet in God glo, en dít sluit uiteraard ook geloof in die HERE Jesus Christus, in, met alles wat dit impliseer (Johannes 14:1-4; 28:19 - in die Drie-enige God). Dit sluit in alles wat God sê (Mattheus 28:19); die wette (die Wet is uiters belangrik, want dit herinner die mens aan wat God van die mens verwag en dit herinner terselfdertyd dan die mens aan sy sonde sodat die mens die sonde kan eien en is ook gerieflik in Mattheus 22:36-40 saamgevat) en die profete van God (Psalm 119:66 g.m. Mattheus 5:17-19; Lukas 16:31), die Woord soos in die Ou Testament vervat (Lukas 24:25); die Evangelie van Christus (Markus 1:15; 1 Korintiërs 15:1–2); die gehele opgetekende Woord soos in die Bybel vervat (Ou en Nuwe Testamente - 2 Timoteus 3:14–15); die beloftes van God (Romeinse 4:20–21) en alles wat God vir ons oor die algemeen, sê (Genesis 15:6) en veral ook alles wat die Woord aangaande Jesus leer, naamlik dat Jesus die Christus, die Messias is - die énigste Een Wie ons van die sonde, waaraan die Wet ons herinner, kan verlos (Johannes 14:6-7, 20-21; 20:31; 1 Johannes 5:1) en God se eniggebore Seun is (1 Johannes 5:5) as God se geïnkarneerde (vleesgeworde) Woord (Johannes 1:1-14, veral 14), as énigste ware Middelaar tussen God en mens (1 Timoteus 2:5), Wie ter wille van ons gekruisig is maar weer uit die dood opgestaan, het sodat ons in Hom wedergebore kan word uit die Heilige Gees tot die ewige lewe (Romeine 10:9) in die hiernamaals, want, al sterf ons liggame, ons weer in verheerliking opgewek sal word by die Wederkoms, tot die ewige lewe (1 Korinthiërs 15:3–11, 19-23; 43–53; Filippense 3:20-21; Efesiërs 2:6, 19; Kolossense 3:1).

Dit is so dat geloof ‘n gawe van God is (Efesiërs 2:8), maar dit is ‘n gawe wat God aan alle mense aanbied (1 Timoteus 2:3-6; Esegiël 18:23, 32; Johannes 3:17; 1 Timoteus 4:10; Titus 2:11; 2 Petrus 3:9) sodat almal gered kan word - dit is ook immers die rede dat ons deur die Verlosser opgedra is om die evangelie aan almal te verkondig en nie net sommiges, nie (Mattheus 28:19).

Die gevolge van ware geloof is kortliks dat ons gered word, vergifnis van ons sonde ontvang en vrygespreek word (Romeine 10:9; Handelinge 10:43; Romeine 3:28; Galasiërs 2:16; 1 Johannes 1:9-10), die ewige lewe ontvang (Johannes 3:14–16), vry van die Oordeel (Johannes 3:17) en vry van die geestelike dood (Johannes 11:25–26), God se kinders is (Johannes 1:12; Gal 3:26) en ook kinders van die Lig (Johannes 12:36), dat ons besondere toegang het tot God (Efesiërs 3:12; Jakobus 5:16) en in God se rus ingaan (Hebreërs 4:3) en ons harte word gereinig (Handelinge 15:9), terwyl die Woord van God in ons werksaam word (1 Tessalonisense 2:13) en ons in God se Vrede lewe (Romeine 5:1) en die Vredevolle blydskap ervaar (Handelinge 16:34) en in in God se sekuriteit en Krag lewe (1 Petrus 1:5).

As ons dus sê dat ons in God glo, verbind ons onsself terselfdertyd tot heiliging en heiligmaking aan God deur die HERE Jesus Christus, die onwyfelbare, ontwyfelbare en ewige Woord. En in die HERE Jesus Christus word dit wél volbring.

Groete,
Kobus de Klerk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top