Oor fabels, mites en dinosourusse

  • 0

Die natuur ís ’n wonder, die wonder van die skeppingskrag van God.

Thomas skrywe oor Richard Dawkins se nuwe kinderboekie genaamd The Magic of Reality wat natuurlik aansluit by die ander kinderfabels oor die Darwinistiese evolusieleer wat in grootmensterme al vir die afgelope bietjie meer as ’n eeu die rondte doen, meeste waarvan selfs die beroemde en vindingryke Grimm-broers se fabels na amateur pogings laat lyk.

Dit is interessant om te sien hoe Thomas en ’n paar ander nou nog op gevorderde ouderdom hulle verlustig en selfs amper vergryp aan dié fabels van die evolusie, soveel só dat hy self skrywe hoe hy ’n gewone skelet fossiel van ’n oerdier sien en dan die fabel van die evolusie voor hom sien “afspeel” – wat natuurlik só vêr verwyderd is van die “reality” waarna Dawkins verwys. Want al wat dit is, is ’n gefossileerde skelet, wat bewys dat daar sulke gediertes lank gelede op aarde geleef het, maar niks meer nie. Nou kom die fabels in en “ontwikkel” fabelagtig hierdie skelette in ’n ingewikkelde biologiese patroon in, waarvan, behalwe die fabels self, geen verifieerbare bewyse bestaan nie, só anders as die Woord, waar natuurverskynsels aangemerk word duisende jare voordat wetenskaplikes dit deur hul ontdekkings bevestig het. Nou weet ons mos almal, al waarvan fabels bewys is, is die verbeeldingsvlug van die outeur daarvan. Tog is Dawkins se evolusie-fabels glad nie oorspronklik nie en hulle álmal klamp aan by Charles Darwin wat in die middel negentiende eeu met sy oorspronklike eiesoortige evolusie fabel vorendag gekom het. Dit ontbreek dus by die Dawkinsse van ons tyd aan die nodige kreatiwiteit om iets oorspronkliks voort te bring, of selfs op die oue oorspronklik uit te brei.

Dan praat Thomas ook van die “insig en kennis” wat nodig is om die evolusie-fabels deur te werk, maar dit is “insig en kennis” in die verstaan van fabels wat jy by kinders in hulle pre-primêre en primêre ontwikkelingsfase sal teëkom. Meeste mense ontgroei egter dié ontwikkelingsfases soos hulle in hulle tienderjare kom en natuurlik dan as volwassenes. Ek onthou nog hoe ons eie kinders lustig met hulle plastiek dinosourusse gespeel het, maar saam met hulle ander fabels, soos die He-Man “helde” en ander fabelagtige figure – natuurlik het dit die verbeelding gestimuleer. Toe hulle egter laat laerskool en hoërskool stadium bereik het hulle daardie infantiele storietjies agtergelaat … Ek sien al hoe ry die bejaarde Thomas deur Afrika met sy iPad in een hand en sy plastiek dinosourus-speelgoedjies in die ander hand, terwyl vroulief maar seker moet bestuur en ek lees hier van sy opgewonde verbeeldingsvlugte waartoe dit hom aanspoor ...

Uiteindelik stel Thomas voordat die fabels aan die kinders voorgehou word. Dit is goed so, want dit stimuleer die kinders se verbeelding, nes ander fabels en dinosourus speelgoedjies in die verlede. Dit is natuurlik in die primêre fase, net nadat die kinders die tandmuis en sinterklaas fabels van die pre-primêre fase ontgroei het. Dawkins se ou verbeeldinglose storie daarmee saam sal natuurlik die ervaring vir die kinders bederf en hulle sal eerder gou-gou weer terugkeer na hulle Transformers en ander fabels-speelgoed – sans Dawkins se verbeeldinglose pretbederwers. Die grootmense waarna Thomas verwys wat dan sou baat by die “magic” boekie van Dawkins, is natuurlik dáárdie ouens wat nou nog met hulle dinosourus-speelgoedjies speel. Thomas weet mos.

Uiteindelik maak Thomas die punt dat die “magic” fabelsboekie van Dawkins ’n skamele R100 kos. Skamel inderdaad. Wys jou net – daar is ’n geykte spreekwoord wat sê “if you pay peanuts, you get monkeys”. Hoe uitermate gepas en veelseggend in meer as een opsig!

Groete,
Kobus de Klerk

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top