Die grootste skouspel op aarde is die wonder van die werklikheid. Hierdie een sinnetjie vat die hoogaangeskrewe intellektueel en gesaghebbende wetenskaplike, Richard Dawkins, se laaste twee boeke se titels mooi saam.
Dawkins se The Greatest Show on Earth het verskyn net voor ons ons toer rondom Afrika in 2010 onderneem het. Ek het die boek saamgeneem en myself verlustig in sy beskrywing van hierdie grootste skouspel soos ek dit in Afrika en die Midde-Ooste waargeneem het. Dawkins is natuurlik self ’n kind van Afrika en assosieer hy hom dikwels met Afrika as die mees waarskynlike oorsprong van Homo Sapiens. Soos ons gery het deur die reënwoude in Kameroen en die woestyntonele in Timboektoe aanskou het, kon ek telkens myself vereenselwig met sy siening van die wêreld en al sy lewende organismes om ons en het ek dit werklik beleef as die grootste skouspel op aarde. In Niamey, die hoofstad van Niger, het ek my verkyk aan die dinosourusse wat hulle in Niger gevind het en weereens bevestiging van die evolusieteorie voor my eie oë sien staan. Inderdaad ’n skouspel. Ek het diep onder die besef gekom van die geweldige gemis wat mense in hulle lewe moet ervaar wat nie in staat is om verby hulle kinderlike geloof in mites te beweeg om hierdie skouspel, en dit wat die wetenskap ons al tot nou omtrent hierdie skouspel openbaar het, te kan (wil?) begryp nie. Godsdiensverhaaltjies uit die Kinderbybel, wat as die waarheid deur hulle ouers en die kerk voorgehou word, ontsê letterlik ons kinders van hierdie grootste skouspel op aarde. Ek het egter besef dat The Greatest Show on Earth ’n boek is wat ’n bietjie insig en kennis verg om deur te werk en dat dit jammer is dat dit ’n bietjie buite die intellektuele vermoëns van klein kindertjies is.
Richard Dawkins het blykbaar tot dieselfde besef gekom en daarom het sy nuutste boek The Magic of Reality so pas verskyn. Die boek is gemik op lesers van baie klein tot baie oud en verg werklik geen diepgaande wetenskaplike kennis nie. Ek het my kopie vir ’n skamele R100 van die internet af op my iPad afgelaai en dit is werklik ’n kleinood om saam met jou rond te dra. Die digitale weergawe bevat selfs ’n paar bewegende animasies wat die leeservaring vir kinders nog meer genoeglik maak. Dawkins verduidelik in sy keurige taalgebruik (en selfs plek-plek in sy eie stem in die digitale weergawe) hoe wonderlik die wêreld om ons is en hoe die wetenskap ons gehelp het om van die kinderlike geloof in mites te beweeg tot ons huidige begrip van die wonderlike werklikheid. Waar die wetenskap nog tekort skiet om dinge te verduidelik word dit doodeerlik so gestel en vermoed ek gaan hy vele kinders motiveer om ’n loopbaan te volg om die wonder van die werklikheid verder te ondersoek. The Magic of Reality is werklik ’n boek wat elke ouer aan sy kind verskuldig is en behoort, soos by huisgodsdiens, elke dag saam met die kinders deurgewerk te word. Daar behoort self meer tyd vir lees beskikbaar te wees as huisgodsdienstyd hiervoor gebruik word omdat daar nie tyd gemors gaan word met gebede tot nie-bestaande gode nie. Dis uiters belangrik dat die ouers saam met hulle kinders deur die boek werk sodat die ouers darem ook kan verstaan waaroor die wêreld gaan!
Ons leef werklik midde-in die grootste skouspel, genaamd die werklikheid. Moenie dat dit by jou maar veral nie jou kind verby gaan nie!
Groetnis
Thomas
NS Panda se skrywes oor astronomie en die einde van die wêreld het my so baie aan Dawkins se skrywes laat dink omdat hy die werklikheid in sy uiters insiggewende skrywes altyd in die vorm van ’n skouspel aan ons voorhou. Met toepaslik geïllustreerde beskrywings om die grootsheid van die skouspel aan ons voor te hou verskaf hy werklik kleur en substans aan die Sê.

