Die afstand tussen Kaapstad en Bloemfontein, nagenoeg 1 000 km, sowel as werksdruk, het my die geleentheid ontneem om die onlangse gesprek oor “waarom Afrikaanse nuusplatforms steeds mense trek” by die Vrystaat Kunstefees by te woon. Die berig oor die gesprek, wat ek agterna in Die Burger gelees het, dien dus as my primêre bron vir hierdie reaksie op (bydrae tot, voortsetting van) die gesprek.
Die gerespekteerde nuusmens Ruda Landman het as gespreksleier opgetree. Die deelnemers was ’n oudkollega, Willem Jordaan, redakteur van Die Burger, en die mediaveteraan Max du Preez, stigter en uitgewer van Vrye Weekblad, vir wie ek tot einde verlede jaar gereeld redaksionele bydraes gelewer het.
Jordaan het luidens die berig gesê Afrikaans is vir Netwerk24 en die publikasies wat deel van die aanlyn platform se intekenare-aanbod vorm, ’n bate en ook ’n bietjie van ’n skans teen uitdagings. “Dit is omdat mense graag nuus in Afrikaans wil verteer,” word hy aangehaal.
Du Preez het verduidelik waarom hy glo dat daar ook nog plek is vir VryeWeekblad.com. Vrye Weekblad se teenwoordigheid, het hy gesê, is goed vir Afrikaans en vir die media: “Afrikaans verdien vele stemme.”
Dié stelling deur Du Preez het gelei tot die opskrif by die berig: “Nuus in Afrikaans ‘verdien vele stemme’”, en dié opskrif, asook Jordaan se bevestiging dat Afrikaanse mense steeds aptyt het daarvoor dat die nuus vir hulle in hul taal berig en ontleed moet word, het my geprikkel om ’n mening hieroor te pen.
Hoewel ek my nie meer in nuuskantore bevind nie, of aktualiteitsprogramme op radio en televisie aanbied nie, sal die joernalistiek altyd in my are vloei – en in elk geval, noudat ek die gebied van burgerlike aktivisme betree het, hou ek my steeds met die skryf van meningsartikels besig en hou ek gedurigdeur (soos burgerlike aktiviste behoort te doen) ’n oog oor verwikkelinge in die media.
Die positiewe groei in lesersgetalle op Netwerk24 (wat onder meer Die Burger, Beeld, Rapport, Volksblad en ’n aantal tydskrifte akkommodeer) is daarom te verwelkom, net soos die derde lewe wat Vrye Weekblad nou gegun is (ná die oorspronklike gedrukte weergawe gesluit is, Arena Holdings onlangs as borg onttrek het en ’n nuwe finansier pas na vore getree het). Ook is daar deesdae ander platforms, soos Maroela Media, wat Du Preez gelys het as een van die aanlyn publikasies wat hy daagliks lees. In Engels is daar vanselfsprekend selfs ’n groter (en meer diverse) aanbod, maar ons fokus hier op die Afrikaanse media.
Medianavorsers (akademici, studente, waarnemers) en -verbruikers (lesers, luisteraars, kykers, aanlyngebruikers) het gewoonlik kritiek of komplimente oor beriggewing of die nuusontledings wat hulle gebied (of gevoer?) word. Hierdie kommentare word normaalweg beïnvloed deur persoonlike voorkeur of afkeer, wat weer gerig word deur ’n verskeidenheid faktore, soos belangstellings, vakgebied, ideologie, politieke affiliasie, kultuurgroep en geloof.
Dit in die algemeen – en dalk ook veralgemeen. Wanneer ’n mens egter in die besonder fokus op die Afrikaanse media, moet jy noodwendig altyd, as jy ’n akkurate waarneming probeer maak, die demografiese profiel van die taal se sprekers in ag neem. In dié geval, weet ons, bestaan die Afrikaanssprekende gemeenskap uit ongeveer 3,4 miljoen bruin Afrikaanssprekende mense (aldus StatsSA se 2011-sensus) saam met 2,71 miljoen wit Afrikaanssprekendes en sowat 600 000 swart sprekers.
Hieruit kan ’n mens aflei dat Afrikaans rééds oor “vele stemme” met betrekking tot die kulturele samestelling van sy sprekers betref. Du Preez het dan sekerlik bedoel dat die Afrikaanse media ’n groter verskeidenheid van daardie stemme ’n geleentheid moet gee om gelees en gehoor te word. Die mees basiese verskil tussen die stemme op Netwerk24 (en in die nuusblaaie wat daaraan verbind is) en Vrye Weekblad is straks behoudendheid teenoor gewaagdheid wat inhoud of temas en ook skryfstyl betref.
Die kwessie wat dan bykomend aangeroer behoort te word is tot watter mate Afrikaanssprekendheid se demografiese profiel in die aanbod weerspieël word, wat sowel temas as skrywers betref. ’n Teenvraag sou seker kon wees tot watter mate publikasies hulle daaroor moet bekommer om gebalanseerd (of eweredig) dekking en stem te gee aan die totale Afrikaanssprekende groepering, terwyl lesersgetalle aan die bruin kant taan.
Soos sake tans staan, fokus slegs twee publikasies hoofsaaklik op die meerderheid bruin sprekers van die taal as teikenmark: ’n poniekoerant, Son, en ’n vrouetydskrif, Kuier. Die res “akkommodeer” die taal se meerderheid sprekers, wisselend in omvang wat dekking betref en dikwels (hoewel nie noodwendig met voorbedagte rade nie) ondergeskik gestel aan die inhoudsaanbod, wat waarskynlik meer by wit lesers aanklank sal vind.
In rubrieke en meningsartikels kry ’n goeie gros skrywers uit die bruin gemeenskap wel ’n geleentheid om hul standpunte te stel, onder wie die vermaarde letterkundige Hein Willemse, ’n jonger Kaapsskrywende Chase Rhys, die Oos-Kapenaar Nolan Venter, die onderwyskundige Michael le Cordeur, die teoloog Nico Koopman en die joernalis en skrywer Julian Jansen – opvallend almal mans, terwyl Anastasia de Vries en Anesca Smith die uitsondering is op Vrye Weekblad.com. (Ek is een van die bevoorregtes wie se meningsartikels gereeld vir publikasie aanvaar word.) Dié lys is egter ’n druppel aan die emmer as dit vergelyk word met die lys van wit joernaliste en rubriek- en meningskrywers.
(Omdat ek hierdie artikel vir LitNet lewer, is dit belangrik om te vermeld dat hierdie platform, weliswaar meer bekend as ’n letterkundige tuiste, inderdaad “die huis met baie wonings” is, gemeet nie slegs aan die verskillende afdelings nie, maar ongetwyfeld ook aan die wyse waarop LitNet aan gevestigde én minder bekende skrywers ruimte bied om gepubliseer te word. Dit dien beslis die toekoms van Afrikaans, ontwikkeling van Afrikaanse skryfwerk en die verbreding van ’n veelvoud van stemme wat geleentheid kry om ’n mening te lug.)
Toe RSG se aktualiteitsprogramme vroeër in die jaar ingekort is, was dit bepaald wit kommentators en kundiges wat kapsie gemaak het in ’n protesbrief aan die SAUK en stasie se bestuurspan. Die afleiding wat gemaak kon word, ten regte of moontlik mistastend, is dat hulle op daardie stadium meer besorgd was oor die vermindering van geleenthede in terme van hoe gereeld hulle vir onderhoude genooi sou word en ook die duur van sulke onderhoude, as oor die skaarste van bruin en swart stemme wanneer kommentators ingespan word om ontledings te bied.
In ’n toespraak wat Thabo Mbeki so ver terug as 1995 by ’n internasionale konferensie oor kulturele diversiteit in Australië gelewer het, het hy die belangrikheid daarvan beklemtoon, soos ooreengekom deur die 1990’s-onderhandelaars, dat elke groep in die diverse samestelling van Suid-Afrika se bevolking nie net vry en stemgeregtig moet wees nie, maar dat hulle ook regverdig deur die media bedien moet word om hul uiteenlopende lewenservarings en standpunte te weerspieël.
Dit is ook opvallend, om na die vertrekpunt van koerante en aanlyn publikasies terug te keer, dat dit lesers uit die wit Afrikaanssprekende gemeenskap is wat meermale van hulself laat hoor by wyse van lesersbriewe byvoorbeeld, en nie bruin lesers nie – kompleet asof die bruin leser nog nie ten volle besef nie, soos Julie Reid en Dale T Mckinley dit in Tell our story – multiplying voices in the news media stel, “that they have every right to demand a news media that listens to them and takes their stories seriously”.
Totdat hulle dit besef en daarop aandring dat hulle alle reg het om na geluister te word en dat hul stories ernstig opgeneem moet word, sal die situasie nie sommer verander nie. Of gee hulle net eenvoudig nie (meer) om oor die afstand, soms so wyd soos Kaapstad vanaf Bloemfontein, wat tussen die verteenwoordiging en vernalating van hul stemme in die woestyn van die Afrikaanse nuusmedia lê nie?
- Heindrich Wyngaard is voorsitter van Kaapse Forum, asook ’n medewerker van Voertaal en ’n rubriekskrywer van Rapport.


Kommentaar
Wanneer gaan ons ophou om te kerm en te kla oor Afrikaans? Afrikaans sal nie ondergaan nie. Dis 'n feit.
Iemand moet net besluit om die leiding te neem en 'n strategie vir die taal vas te lê vir die toekomstige groei van Afbejammer.
Ons bejammer onsself te veel oor die verlede. Dis verby vir áltyd. Die toekoms is waar ons en Afrikaans se heil lê.
Die verlede het ons tog sekerlik geleer hoe om uitdagings aan te vat.
Baie dankie, Heinrich Wyngaard vir u insiggewende artikel. Die stel van feite is nie 'n gekerm of kla nie. Lees jou deursnee Afrikaanse koerant of tydskrif en dis heel duidelik wie die teikenmark is: wit Afrikaanssprekendes. Kyk na die foto's by advertensies in hierdie tydskrifte, bv die Wegtydskrif. Dit vertel 'n storie: die buitelewe ervaring word afgebaken vir 'n sekere groep.
Verder het die taalgebruik ook die "ons" as verwysende na die Afrikaner. Jy sien dit nog te gereeld. Die Afrikaanse gedrukte media bied nog nie vir al die Afrikaanssprekendes 'n "Tuiste in eie taal" ( met erkenming aan J. C. Steyn) nie.
Ek het Afrikaans die rug gekeer omdat sy verbruikers die rassestert, net soos sy godsdiens, bly rondswaai - of swaai die stert eerder die hond? Wie gee om of die volwasse of onvolwasse aanbieder blas is of nie? As jy mik na 'n wit of bruin gehoor is jy met bygeloof getoor. 'n Donker bril is nie 'n skryfbehoefte nie.
Bes moontlik reageer bruin Afrikaanssprekendes nie op lesersbriewe in Afrikaanse publikasies nie omdat daar 'n gevoel is dat "hulle" maar na hartelus moet babbel en braak - "ons" het ander sorge. Ten spyte van die taal ontbreek 'n ware samehorigheid steeds.