Oor die appèlhof en die howe vir klein eise

  • 2
Die appèlhof in Bloemfontein (foto: GoTravel24.com)

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

1 Oktober het 'n spesiale betekenis vir ons land se hoogste hof van appèl – kortweg die appèlhof - wat in Bloemfontein gesetel is. Maar ook vir die hof vir klein eise – wat in 'n sin ons laagste geregshof is – is 1 Oktober 'n spesiale dag.

Maar eers die appèlhof. Op 1 Oktober 1929 is die imposante sandsteengebou wat dié hof in Bloemfontein huisves, amptelik deur die destydse minister van justisie, adv Oswald Pirow, geopen. Die hofsaal waar die hof sy sittings hou, het 'n pragtige regbank van stinkhout, en daar is ook stinkhoutpanele teen die mure. Die appèlhofgebou huisves ook die kantore van die president van die hof en sy adjunk. Daar is ook kantore vir die 22 appèlregters, die waarnemende appèlregters, asook die griffier van die hof met sy hele personeel. Die appèlhof het ook een van die beste regsbiblioteke in Suid-Afrika.

Streng gesproke is dit nie korrek om van “die appèlhof" te praat nie. Onder die ou grondwetlike bedeling was die korrekte benaming “Die Appèlafdeling van die Hooggeregshof van Suid-Afrika”, maar ingevolge die Grondwet van 1996 is dié hof herdoop tot “Die Hoogste Hof van Appèl”. Uitsprake van dié hof is finaal, behalwe as dit oor ‘n grondwetlike aangeleentheid handel, in welke geval die grondwethof, oftewel konstitusionele hof, met sy setel in Johannesburg, die finale sê het. Dit is interessant om daarop te let dat die appèlhof wel die bevoegdheid het om oor die grondwetlikheid van ‘n wet van die parlement te beslis, maar dat sodanige beslissing regskrag het eers as dit deur die konstitusionele hof bevestig is. Beslissings van die appèlhof is bindend op alle laer howe, terwyl beslissings van die hooggeregshof bindend is op landdroshowe binne die jurisdiksie van ‘n bepaalde afdeling van die hooggeregshof.

Die leidende regter in die appèlhof was onder die ou grondwetlike bedeling ook Suid-Afrika se hoofregter, maar dié eer kom nou die leidende regter in die grondwethof toe. Die leidende regter in die appèlhof staan nou as die president van dié hof bekend.

Kyk, die appèlhof met sy stinkhoutpanele binne en sandsteen buite is ‘n gewyde plek: die voortreflikste Engelse katedraal kom, vir my gevoel, tweede. Jy is heeltyd op jou pasoppens, wetende hiér is dit wen of verloor – bitter selde is daar nóg ‘n kans. Self had ek die voorreg om ‘n appèl – al was dit net één – in daardie gedistingeerde forum teen te staan. Gelukkig was ons suksesvol met ‘n 5-0-uitspraak in ons guns.1 Dit was betreklik kort nadat selfone hul verskyning begin maak het. Myne was, dank die Voorsienigheid, in my aktetas toe my skoonma (wat toe in Bloemfontein gewoon het) bel om te vra of sy my vir middagete kan verwag. Ek het die foon geïgnoreer, maar toe die gelui opgehou het, het ek in my aktetas ingeduik en die ding se mond gesnoer. Die bejaarderige vyf regters op die bank was gelukkig almal te doof om die gelui te hoor, maar een van die vyf regtersklerke wat in die ry voor die regters gesit het, het – terwyl die foon gelui het – met haar oë so deur die hofsaal “getoer” om die skuldige te probeer vasstel. Toe ons oë ontmoet het sy vir my ‘n teken met haar wenkbroue gegee, en ek het dit met ‘n wenkbrouteken beantwoord. Sy wou haar doodlag. Sy moes die blosende benoudheid op my gesig gesien het terwyl my liewe skoonma gelui en gelui het ...

Miskien is dit nie heeltemal korrek om van die hof vir klein eise as ons "laagste hof" te praat nie, want dit sou 'n geringskatting wees van die belangrike rol wat die hof al in ons land gespeel het sedert die eerste howe vir klein eise op 1 Oktober 1985 in sewe landdrosdistrikte ingestel is. Deesdae het die meeste landdrosdistrikte in Suid-Afrika howe vir klein eise. Die Wet op Howe vir Klein Eise2 maak dit vir die man op straat moontlik om kleiner regsgedinge wat hy met sy medeburgers mag hê, in te stel. Die eisbedrag mag nie meer as R15 000 beloop nie. Slegs natuurlike persone mag eise in hierdie hof instel. 'n Maatskappy of beslote korporasie, wat regspersone is, moet hulle maar tot die gewone landdros- of hooggeregshowe wend as hulle 'n saak teen iemand wil maak. 'n Gewone landsburger mag egter wel 'n saak teen 'n maatskappy of 'n beslote korporasie in die hof vir klein eise aanhangig maak, maar het nie die bevoegdheid om die staat in hierdie hof te dagvaar nie.

Daar is 'n paar soorte sake wat nie in die hof vir klein eise bereg mag word nie. Die mees voor die hand liggende voorbeeld is 'n egskeiding. Hierdie hof het nie die bevoegdheid om huwelike te ontbind nie. 'n Saak oor die geldigheid of uitleg van 'n testament mag ook nie in hierdie hof besleg word nie, en 'n mens mag ook nie in hierdie hof skadevergoeding gaan eis ten opsigte van laster, kwaadwillige vervolging, onregmatige vryheidsberowing, onregmatige inhegtenisneming en die verbreking van 'n troubelofte nie. Die hof vir klein eise het ook nie die bevoegdheid om 'n interdik van enige aard te beveel nie.

Die persoon wat voorsit – soos wat 'n landdros in die laer howe en 'n regter in die hoër howe voorsit – word 'n kommissaris vir klein eise genoem. Gewoonlik is dit praktiserende advokate en prokureurs wat op 'n vrywillige en gratis basis hierdie diens aan die gemeenskap lewer.

Die prosedure wat in die hof vir klein eise gevolg word, verskil nogal taamlik van dié wat in die landdroshof of in die hooggeregshof gevolg word. Die prosedure is baie meer informeel en die gewone reëls van bewysreg geld byvoorbeeld nie in hierdie howe nie. Getuienis om 'n feit in geskil te bewys of te weerlê, kan skriftelik of mondeling aangebied word. 'n Party mag nie 'n ander party onder kruisverhoor ondervra nie, maar die voorsittende kommissaris het die bevoegdheid om gepaste vrae te stel om die tersaaklike feite te bepaal, en vir dié doel kan hy enige party of getuie op enige stadium van die verrigtinge ondervra.

Nadat die kommissaris 'n saak verhoor het, kan hy vonnis vir die eiser gee ten opsigte van sy eis vir sover hy dit bewys het, of hy kan vonnis vir die verweerder gee ten opsigte van sy verweer of teeneis vir sover hy dit bewys het. Dit is nie moontlik om teen 'n beslissing van die hof vir klein eise appèl aan te teken nie, maar op sekere bepaalde gronde kan 'n party die verrigtinge voor 'n afdeling van die hooggeregshof van Suid-Afrika op hersiening neem – byvoorbeeld in die geval van growwe onreëlmatigheid in verband met die verrigtinge.

Nou, watter prosedure moet 'n mens volg as jy 'n aksie by die hof vir klein eise wil instel? Die eerste is dat 'n mens 'n brief per geregistreerde pos moet stuur aan die party teen wie jy die eis wil instel. In dié brief moet hy of sy minstens 14 dae kans gegee word vanaf datum van ontvangs van die brief om die eis te betaal. Indien hy/sy nie binne die 14 dae betaal nie, moet 'n afskrif van die brief plus die bewys dat dit per geregistreerde pos gestuur is, geneem word na die klerk van die hof vir klein eise, wat gewoonlik ook die klerk van die landdroshof vir die bepaalde distrik is. Daardie persoon sal dan 'n dagvaarding uitreik en die eiser moet 'n kleinerige bedrag – in my dae in die regspraktyk was dit R20 – betaal vir die koste van die balju om die dagvaarding by die verweerder te gaan aflewer. In daardie dagvaarding sal die verweerder 'n datum gegee word waarop hy voor die hof vir klein eise moet verskyn. 'n Persoon mag nie deur 'n prokureur of advokaat of deur enigiemand anders in die hof vir klein eise bygestaan word nie. 'n Party moet dus persoonlik verskyn en die wonderlike is dat as 'n mens die saak verloor, jy nie aanspreeklik gehou kan word vir die suksesvolle party se regskoste nie. Aan die ander kant is jy natuurlik nie geregtig om jou eie regskoste te verhaal nie, want jy behoort geen sulke regskoste te hê nie.

Indien 'n mens suksesvol is in die hof vir klein eise en die verweerder betaal nóg nie, moet jy dan na 'n prokureur gaan en hom vra om die vonnis vir jou uit te voer – byvoorbeeld by wyse van 'n lasbrief vir eksekusie.

1Vgl Southern CapeCar Rentals CC t/a Budget Rent a Car v Braun, 1998(4) SA 1192 (SCA.)

2  Wet 61 van 1984

 

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

 

                                                    

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top