Oor blindes en lampe

  • 0

 Ek moet sê dat ek nie juis aandagtig deur Cornelius se brief met die opskrif
“Gilgamesh, 'n blinde sien met sy stok nes die res van ons” gelees het nie, maar die opskrif (ek weet nie of dit die webvoet se idee of Cornelius se eie woordkeuse is nie) is nogal gepas vir Cornelius (op die veronderstelling dat “die res van ons” waarvan hy praat, sy mede agnostici is). Veral toe ek vlugtig bemerk dat hy, terwyl hy van rigting in Godsdiens probeer praat, hy toe die ateïs Bertrand Russel aanhaal om sy punt te maak … G’n wonder hy erken, na ál die tyd, dat hy oor dinge Gods soos ’n blinde met ’n stok voel-voel nie. Ander gelowiges, en ek ook, het al hoeveel male vir hom gewaarsku dat juis dít sy probleem is, net met ander woorde.

Nou ja, wat Cornelius se Spirituele blindheid aanbetref, is daar in die Woord vir hom ’n waarskuwing:

Lukas 11:34 Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, is jou hele liggaam ook verlig; maar as dit verkeerd is, is jou liggaam ook donker.
35 Pas dan op dat die lig in jou nie duisternis is nie.
36 As jou hele liggaam dan verlig is en nie enige deel het wat donker is nie, sal dit heeltemal verlig wees, net soos wanneer die lamp met sy skynsel jou verlig.”
Die HERE Jesus Christus, Wie se Naam Cornelius ken, maar nie die HERE van die Naam ken nie, is juis die oplossing vir sy blindheid en sy oneindige geskarrel:

Johannes 1:

Die vleeswording van die Woord.

“1 IN die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.
2 Hy was in die begin by God.
3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
4 In Hom was Lewe, en die Lewe was die Lig van die mense.
5 En die Lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.”

Die Aansteker van dié Lig, die Lamp, is juis die Woord wat in die Bybel opgeteken staan, tevergeefs word daar elders vir die Lig gesoek… die Woord wat Cornelius en sommige ander, só dikwels met soveel minagting bejeën.

Dit geld nie net vir Cornelius nie, maar vir iedereen wat nog nie sy weg na die HERE gevind het, nie.

Groete,
Kobus de Klerk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top