Ek lees die artikel oor Annake de Villiers raak op LitNet en ek onthou die dag in Soweto. Die musiekvideo was vir ’n lied wat ek geskryf het en nooit sou ek kon raai op watter pad daai musiek en liriek ons nog sou stuur nie. Aanvanklik was dit ’n smal modderstraatjie midde sinkplaathuisies, waar konkavure braaf gebrand het om die koue van 2°C hok te slaan. Een van daai huisies was hawe vir Elaine en Kaleb Reyneke.
Die ontmoeting met ma en seuntjie was bittersoet. Met wakker, helder ogies en nuuskierige belangstelling het klein Kaleb vir Annake gevolg soos ’n skaduwee, gewys na haar viool en gevra wanneer sy daai “kitaar” gaan speel. Annake het toe reeds in daai seuntjie se oë gekyk en met oorgawe begin vorm gee en slyp aan “Tas vol Drome”, want sy droom van ’n toekoms vir Kaleb en ander kinders soos hy.
Ek volg Annake se vordering met die projek en haar entoesiasme is ooglopend en aansteeklik. Ek dink dis ’n wonderlike konsep wat potensiaal het om regtig ’n verskil te maak in die lewens van baie kinders én boonop ’n langtermynverskil.
Ek onthou ’n tyd wat ek soekend was vir antwoorde oor hoe ek selfs net ’n geringe verskil kan maak. Die Lize Beekman Lullabies-CD waarvan al die opbrengs gaan vir die Rooikruis Kinderhospitaal) was – en is steeds – ’n antwoord op die vraag. Die fondsinsameling is baie geseënd en maak voorwaar ’n verskil vir die hospitaal, maar in die groter prentjie is dit steeds ’n geringe bydrae. As almal sou kies om terug te hou omdat ’n bydrae te klein voel, dan sou daar ook niks gebeur het of verander het nie, maar sekerlik moet ons fokus liefs daarop wees dat die emmer – druppel vir druppel – wel kan vol raak.
Ek hoop dat Annake die nodige ondersteuning sal kry en dat haar “tas vol drome” sal waar word, want dan sal dit nog ’n emmer volmaak en vir so baie kinders op ’n pad sit waar daar geleenthede is en waar ook hulle, kan droom!
Groete en alle mooi vir LitNet!
Lize Beekman
Vir meer besonderhede omtrent Annake de Villiers se liefdadigheidsprojek en haar Tas vol Drome, kontak haar agentskap, Kumtu Toere – Webvoet.

