Op 11 Mei skryf Jan Rap ’n brief (Vir Angus oor politiek en linguistiek) waarin hy (weer eens) gal braak oor die sg “heksejag op Afrikaans … gesetel in die politiek” Dit nou na aanleiding van Angus se geduldige en wel deurdagte beredenering oor die linguistiese beginsels wat ter sprake is.
In sy kommentaar oor taalvermenging maak Angus die volgende opmerking: “Daar moet ’n rede wees waarom iemand so praat”. Dit het my laat wonder hoekom dit veral jong Afrikaanssprekendes is wat daarna neig om hulle taal so op te mix?
Ek dink Jan Rap gee vir ons die antwoord: Kyk bietjie wat skryf hy op 12 Mei (Cobus Max en Flip).
“Lees Max nie koerant, of kyk en luister hy nie nuus nie? Praat hy nie met mense nie? ‘Ons’ is daardie mense wat nie meer Afrikaanse universiteite het nie, daardie mense waarvan die skole nou ’n verengelsende aanslag ondervind, daardie mense wat nie span, universiteitstoelating en/of bevordering kry op grond van ras nie. ‘Ons’ is daardie mense wie se dorp-, straat- en plekname verander word, wat nie meer hulle taal by polisie-aanklagkantore, die belastingkantoor, die poskantoor en staatsdepartemente kan praat nie.”
Dís die probleem met Afrikaans tans. Voor 1990 wou ons die universiteite vir onsself hou, ons wou ons sportspanne vir onsself hou, ons het swartes van bevordering en vordering weerhou, ons het die dorps- en straatname vir onsself toegeëien, ons het anderstaliges gedwing om ons taal by polisiekantore en staatsinstellings te praat en, les bes, ons het die beste ontspanningsgeriewe vir onsself gereserveer. En om die kroon te span, ons het besluit dat ons die politieke mag en besluitneming oor miljoene mense van kleur van hulle sal weerhou, want ons was mos beter as hulle en slimmer as hulle.
Wat het nou gebeur? Afrikaans het sy kettings afgegooi en veral die jonger geslag is maar te deeglik bewus daarvan. Wat my betref is hier tans ’n soort rebellie aan die gang teenoor “korrekte taalgebruik” want dit ruik net te veel na die “ou Suid-Afrika”.
Nog ’n ding: Jan praat van Dan Roodt as een van die “wit normales”. Ek het nuus vir hom. Jong wit Afrikaanssprekendes gril vir Dan en sy gevolg. Hulle wil nie soos hy wees nie en daarom weier hulle om soos hý suiwer Afrikaans te praat. Insgelyks vervreem Jan Rap mense van Afrikaans as hy gedurig na persone soos Cobus Bester en Max Du Preez verwys as “wit pienkes” en hulle by innuendo as kommuniste tipeer. Ten minste neem hulle op beskaafde wyse, in suiwer Afrikaans, deel aan die debat wat tans heers.
Jan en FC Boot wil Afrikaans suiwer hou? Kyk wat skryf FC Boot in sý kommentaar oor hierdie saak: “Ek leer dus die tuinjong wat my soms help…” Die tuinjong?? Wat se ding is dit in 2015? FC Boot moet maar weet, met vriende soos hy het Afrikaans nie vyande nodig nie, die vyand is in Afrikaans se midde. Hoe sê FC ’n paar sinne verder? “Lyk my ons deur ons eie toedoen is terug in 'n soortgelyke stryd.” Ja FC, deur ons eie toedoen.
Laastens. Jan Rap se alewige geseur oor die gehalte van Afrikaans op RSG. Weer eens, in die ou bedeling (Radio Suid-Afrika) het ons besluit dat slegs die variant van Afrikaans wat ons as die standaard beskou het, oor hierdie sender gehoor sal word. Intussen is die meerderheid (bruin) Afrikaanssprekendes die reg ontsê om ook in hulle weergawe van Afrikaans bedien te word. Nou het RSG hierdie saak reggestel en kan ons Afrikaans in sy ryk verskeidenheid aanhoor. Terloops, Jan moet maar gaan kyk waar Afrikaans sy eerste taaltreë gegee het. Definitief nie in die ateljees van die hiper-korrekte ou SAUK nie!


Kommentaar
Beste Dirk,
Jy het die situasie waarin Afrikaans verkeer, raak saamgevat. Ek glo nie Jan besef dat Kaaps alreeds 'n dialek is op pad om 'n nuwe taal te word nie. Dit is baie mense se moedertaal, en hulle hoef nie kennis te hê van Engels en "suiwer Afrikaans" om mekaar te verstaan nie.
Groete,
Angus
Beste Dirk Rigter
In 2015 moet ons dus polities korrek wees.Dus eerder tuinhulp as tuinjong sê jy, maar sonder hulp ken nie een van die twee die verskil tussen 'n blom en onkruid nie.
Beste Dirk Rigter
Net 'n laaste gedagte oor tuinjong. In 2015 kan 'n tuinjong enige kleur wees.