
Foto: Canva.com
Oop gesprek
(met drie vroue uit die Bybel)
Jy, BATSEBA, beeldskone vrou
jonk en ferm van vlees
in die koning se oog
baie aanloklik gewees,
sou jy soms in jou binnekamer
na oortreding van die sewende gebod
met verbloemde hartseer dink
aan jou lojale eggenoot se lot?
En DELILA, jy wat verleidelik
jou skoonheid kon gebruik
om Simson se swakheid
meesterlik te ontsluit,
sou jy ooit werklik kon verstaan
toe hy uiteindelik om jou pinkie draai
die geheim van sy krag met jou deel
dat hy sodoende sy God sou verraai?
MARIA, gekose jong maagd
wat moeder van ons Verlosser was
hoeveel vreugde en smart
moes nie in jou hart kon pas,
het jy, ongekunstelde jong meisie,
skaars meer as ’n kind vandag,
ooit werklik die omvang besef
van die hartseer wat op jou sou wag?

