Welkom hier Oom OuKoos Voorkamer. Jy steek net ongelukkig jou kop in ’n perdebynes met hierdie brief aan onse Kobus. Ek sien jy het al klaar deurgeloop onder sy venynige skerp tong, waarmee hy dag vir dag baklei vir die Christendom!
Hierdie “debat” duur al etlike jare en soms word daar werklik interessante gedagtes gewissel en het ek alreeds baie hier geleer. Partymaal stagneer dinge so ’n bietjie, maar dan kom iemand weer met iets interessants, wat die ander aan die brand wil laat slaan en die vonke weer laat spat.
Vir baie jare en nog steeds, is mense nie toegelaat om openlik opinies oor godsdiens (meer spesifiek anti-godsdienstigheid) te lug nie en op hierdie forum het ’n mens uiteindelik die vryheid om dit wel te doen. Dit mag miskien vir jou klink soos ’n nuttelose gesprek, maar dit is in werklikheid nie. Hier het ek ontdek, dat ek nie die enigste “goddelose” is nie, en kon ek uiteindelik ander mense met dieselfde vrae en vertwyfelings oor die sogenaamde “waarheid”, waaroor net sekere mense beskik, se opinies lees.
Met tyd leer ’n mens om uit verskillende hoeke te kyk na die onderwerp. Daar is Kobus, Tant Alie, (streng godsdienstig en uiters gesteld op die feit dat net hulle die waarheid weet) Cornelius Henn, (met ’n meer insluitende soort godsdiens) Angus,Thomas en Panda, (wat baie wetenskaplik na dinge kyk) Francois Williams, (wat alle “xtene” uithaal en afkraak en net Buddha aanbeveel) en dan natuurlik Wouter, wat altyd op ’n baie beskaafde manier met die nodige navorsing, puntsgewys sy stellings staaf!
Ek het reeds baie geleer van al hierdie mense en al stem ek nie altyd saam nie, is die dinamiek wat hier plaasvind, baie goed om ’n mens self te laat leer dink. Baie mense is uiters lui om vir hulself te dink, wyer te lees as net wat voorgeskryf word en dan ’n eie opinie te vorm. Verskeie boeke is al hier aanbeveel en met die lees daarvan gaan daar baie lig op.
Miskien moet jy maar geduldig die gesprekke volg en dan self later jou opinie lug met feite soos wat Wouter aanbeveel. Ons wag in spanning!
Groetnis,
Perdebytjie