Oom, ek het laas vergeet om te sê ma en pa stuur ook groete.
My ma sê sy dink nogal baie aan oom, sy sê sy wonder of oom nog so baie suip. Sy vra of oom onthou die keer toe oom amper in die vuur geval het by die braaivleis en sy oom moes gaan lawe in die kamer. Sy sê oom kan gelukkig wees oom het nie seergekry nie, maar die ou duiwel pas ook mos sy kinders op, sê sy.
My pa sê hy dink ook baie aan oom, en al die ooms wat so baie hier gekuier het deur die jare.. Hy sê nie een van sy ses kinders lyk na hom nie, en hulle lyk ook nie juis na mekaar nie.. Toe hy sestien was het hulle rugby gespeel teen die seuns van die verbeteringskool, toe skop hulle hom in sy watsenaam, hy het gekrul van die pyn. Die dokter het gesê hy sal nooit kinders hê nie, maar dokters kan ook verkeerd wees, sê hy. Hy sê veral Pietie lyk nogal baie na oom.
Oom, ek stem nogal saam, Pietie, hy is nou dertien, lyk op 'n haar na presies nes oom. Oom sal hom seker onthou, hy is die vertraagde enetjie met skeel oë.
Nou ja oom, dan sê ek maar vir eers groete vir oom, onthou ook die tannie.
Groete,
Sênet Briefskrywer Ontleder

