Oom Daan
Om te sê ek is die beste Christen en daarmee te wil te kenne gee dat ek meer guns geniet as my mede-Christene voor die HERE, is aanmatigend en verwaand.
Geen mens kan uit eie krag en beweging verdienstelikheid voor die HERE verwerf nie – want dit is die HERE se Gees in ons wat ons goed maak en die afwesigheid van die HERE se Gees, wat mense sleg maak. Maar wat goed is vir die HERE is dikwels sleg vir die wêreld … en natuurlik andersom ook.
Eintlik is daar net één Goeie en beste Mens en dit is die verheerlikte HERE Jesus Christus.
As mens ’n Christen is, beteken dat dit jy die HERE Jesus Christus aangeneem het en Hom in Sy krag met jou eie hart siel en verstand wíl navolg en gehoorsaam, in nederigheid teenoor Hom en jou posisie jeens Hom teenoor jou medemens. So ’n persoon is alreeds ’n verloste en só begin ’n onbeskryflike genoeglike vrywillige groeiproses. Die groeiproses, wat vereis dat die geloofsmens véél minder tyd voor die pinball-masjiene van hierdie ou wêreld deurbring en eerder daardie tyd met die HERE deurbring, is die proses wat die ware Christen nader aan die HERE bring in ’n Persoonlike verhouding en is ’n proses wat essensieel gedrywe en gemotiveer word weens die ongeëwenaarde Vreugde en genoeglikheid wat dit meebring, om met die HERE ’n persoonlike verhouding te hê.
Daarom is die Vreugde van geloof in en verhouding met, die HERE, die aansporing en beslis nie ’n poging om ’n plek in die Hemel daarmee te verdien (wat in elk geval nie gedoen kan word) nie – die mens se beste eie poging is haglik voor die almagtige God en slegs werking van die Woord en Gees van God in die mens en deur Wie die mens tot God funksioneer, verander hierdie posisie na een van aanneemlikheid voor God.
Dus, die terme “goeie” en “beter” in Christendom dui dus nie op kwantitatiewe posisies in ’n soort geloofshiërargie voor God nie, maar dui op die kwalitatiewe skaal van ervaring van die gelowige se persoonlike verhouding met die HERE – hoe meer betrokkenheid en interaksie met die HERE, hoe eksponensieel beter die kwaliteit van die ervaring, nie net wat betref geestelike genoegdoening nie, maar ook kennis van en deur die Spirituele.
Wanneer probeer jý dit, Oom Daan? Jy het darem nou al seker agterkom dat jóú pinball-masjien net té veel kere “getilt” het en dat daardie ou balletjies maar haas besig is om op te raak en die “score” maar steeds báie laag?
Groete,
Kobus de Klerk

