Oom Daan
Jy is waarlik besig met die Woord en God se dinge, hoewel jy erg mislei is – ek sê mos, julle ouens is absoluut behep met God en God se dinge – en nog geeneen van julle kon verduidelik waarom julle só besig bly met die Godheid, Wie julle ewe lasterlik meen, nie bestaan nie?
Dit maar terloops.
Jou aannames oor Adam en Eva is eintlik komieklik, maar werk nie … jou beheptheid met God en Sy skepping laat jou langs vreemde weë dwaal … natuurlik is Adam met geslagsdele geskape – en Eva ook – om te gebruik in hulle huwelik. Terloops, jy moet nie die fout maak om te dink dat alle verse in Genesis 1 en 2 noodwendig die gebeure in kronologiese volgorde weergee nie. Die hele beskrywing van Eva se skepping naas dié van Adam, is uit ’n Spirituele oogpunt beskrywe – hoeveel maal tevore het ek al aangedui dat die Woord uit ’n Spirituele oogpunt benader moet word? Dit kán jy nie, en vandaar jou soms komieklike kommentare.
Afgesien van die vroulike liggaam se fisiese funksionaliteit wat uiteraard reeds beplan was, deel God in Genesis 2:18 met ons Sy doelwit en motief vir die skepping van die vrou op die besondere manier wat God die vrou geskape het – dit is wat vers 18 beteken, niks anders nie. God lig ast’ware effe die sluier oor Sy motivering en doel ten aansien van die vrou, tydens die beplanningsfase alreeds. Vers 18 dui duidelik daarop dat die vrou die gelyke van die man sal wees en nie ’n minderwaardige wese nie. God het duidelik besluit dat die vrou nie net ’n seksobjek sou wees vir die man nie, maar inderdaad op Spirituele en emosionele en psigiese vlak, ook ’n intelligente, volwaardige, respektabele en gelyke steun en soos God dan ook self sê, ’n maat vir die man (’n hulp wat by hom pas, net so waardig soos hy).
Jy lees en verstaan ook nie die toepaslike Woord ordentlik nie. Die Woord dui nié aan dat daar geen moeite en pyn met geboorte voor die sondeval sou wees nie, maar dat God dié ervaringe agterna grootliks sou vermeerder (sien Genesis 3:16, veral ook die Ou Vertaling). Pyn van geboorte vir die vrou word mos meegebring deur hoofsaaklik die ontsluiting van die pubisbene en natuurlik die abnormale verruiming van die baarmoedermond, serviks en die vaginale opening – dalk was Eva ’n vrou met breë heupe en baie soepel spiere? Ten spyte daarvan kan spierspasma en krampe ook geweldig pyn veroorsaak. Daarmee kom jou argument dus tot niks.
Maar oor één ding is jy reg – God is alwetend en het derhalwe sekerlik die waarskynlikheid van sonde deur die skepsels ingesien en het álles wat nodig mog wees om ook dít die hoof te bied, in plek, van die begin af. So, dit is nie, soos jy te kenne wil gee, soseer die mens wat toegerus, of geskape of beplan is vir sonde nie (juis nié, want sonde laat die mens kwyn en vergaan), maar God het eerder die Spirituele meganismes om van die sonde ontslae te raak, wat insluit die inplekstelling van finale reddingsmeganismes om die mens soos en wanneer benodig, te hulp te kom. Dit beteken dat die mens daardie meganismes gratis en vry kan benut, ’n louter Genadegawe, óf verlore gaan.
Groete,
Kobus de Klerk

