Jou e-pos land vanmôre
soos korreltjiesand
onverwags onder my linkerhand.
Dit gaan goed sê jy:
"Ek skemer so nou en dan nog tussen lakens in
veral op Dinsdae, jy weet mos
maar Maandae blyk nou oor te neem en
die verbeelding van my emosies word
toegespits op die leefstyl van andere.
Die stomheid in my mond
het plek gemaak vir oorspronklike frases
wat die media keer op keer herhaal."
Dit is met nuus van jou
wat middernag onvergete
drome uit die mis
in wonder oor my vou.

