Die verskyning van Ilse Salzwedel se Onvertelde stories van Afrikaans (Pretoria: Lapa Uitgewers, 2012, 199p, R160) word verwelkom. Eerstens is dit 'n viering van Afrikaans. Tweedens is die teks die vrug van veldwerk. Deesdae is joernaliste te geneig om by lessenaars te sit en hulle te verlaat op wat op hulle rekenaarskerms verskyn en wat telefoniese uitgevind kan word. Die publikasie is moontlik gemaak danksy die finansiële ondersteuning van die ATKV, Solidariteit en die Noordwes-Universiteit. Dit is te betwyfel of enige ander plaaslike universiteit bereid sou wees om so 'n boek te help borg.
Die eerste hoofstuk handel oor die Afrikaanssprekende bruin inwoners van Onverwacht by Cullinan. Hulle het self hulle huise gebou, van roustene wat hulle self gemaak het, op grond wat hulle gekoop het. In die nuwe Suid-Afrika word hulle egter verdring deur onwettige plakkers. "Ons het mos nie meer onse eie rus hier in Onverwacht nie" (p 13). Anders as wat ons deesdae wysgemaak word, het die wit mense hulle nie sleg behandel nie. "Ons het nooit moeilikheid gehad met die boere wat ek ken [kan] onthou nie" (p 15). "Ons het lekker geleef uit die boer se huis" (p 18).
Die onderwerp van die tweede hoofstuk is die 83 Duitse weeskinders wat in 1948, teen die wens van die Smuts-regering, as immigrante hier aangekom het. Die meeste van die kinders is deur Afrikaanssprekendes aangeneem. Suid-Afrika was toe nog 'n land van "heerlike vrede" (p 25). Kort nadat hulle in Tafelbaai aangekom het, het die kinders nêrens leeus of olifante gesien nie, maar wel 'n swarte.
Die derde hoofstuk het die rieldansbyeenkoms by die Taalmonument in die Paarl as tema. Die riel is veral 'n liefdesdans en sy ontstaan word teruggevoer na die Khoisan en die latere Namas. Daar is bv 'n briekdans en 'n hoededans. Die riel word getrap of die askoek word geslaan. Daar is ook die Namastap.
Hoofstuk vier handel oor die Boesmans van Nakuse buite Windhoek. Hulle is nederige, beskeie mense wat, anders as die swartes, nie hard praat nie, maar baie van hulle is werksku. In Namibië word drie Boesmandialekte gepraat, maar daar is 'n gemaklike wisselwerking met Afrikaans en Nama. Afrikaans is die "gemene deler" (p 75), die algemene voertaal, waarin wittes en nie-wittes verkies om met mekaar te kommunikeer.
Die Namas van die Namib, bekend as die Topnaars, kom in die vyfde hoofstuk aan die orde. Hulle is Khoi-afstammelinge en Nama- en Afrikaanssprekend. Die outeur het die suidelike Topnaars by Kuiseb besoek. Die noordelike Topnaars is by Sesfontein. Daar word gesê "die lewe in die 'ou tyd' [was] baie gemaklik" (p 108).
Die sesde hoofstuk is die derde een wat oor Namibië, die outeur se geboorteland, handel. Die tema is die Basters van Rehoboth, 90 kilometer suid van Windhoek. By hulle is daar weerstand teen die sentrale regering in Windhoek omdat hulle sedert onafhanklikheid in 1990 nie meer 'n selfregerende gemeenskap is nie. Die Rehoboth-vakansiedag, bekend as Sam-Kubis, word nie deur die regering erken nie. Die enigste amptelike landstaal is Engels en dit is nou ook die voertaal in al die skole. "Ek verstaan nie hoekom die hele land nie maar Afrikaans kon bly nie" (p 120). 'n Topnaar het gesê: "Dis seker maar oor sommige dinge meer polities as menslik is" (p 114). Ook hier is daar 'n invloei van swart inwoners en van Chinese handelaars. Van 'n Baster word vertel: "Hy wou nie tussen swart mense in die hospitaal sterf nie" (p 122).
Die onderwerp van hoofstuk sewe is arm wit mense wat in 'n woonwapark by Kemptonpark bly. Dit is asof daar by die outeur minder simpatie met hierdie wittes is as met die nie-wittes wat in ander hoofstukke bespreek word. Dit handel oor Afrikaanssprekendes maar daar is nie voorbeelde van keurige taalgebruik nie; eerder van die gebruik van Engelse woorde.
Die agste hoofstuk het die minste met Afrikaans se make. Dit handel oor prins Niko Bagrationi, 'n Georgiese edelman wat saam met die Boere in die Anglo-Boere-oorlog geveg het. Die aanknopingspunt is die outeur se besoek aan Georgië, waar 'n aantal Suid-Afrikaanse boere hulle onlangs gevestig het. Niko verwys na die Boere se "groot liefde vir werk" (p 145).
Hoofstuk nege handel ook oor buitelanders, naamlik die Italianers wat hulle in 1881 in die Knysnabos gevestig het. Hulle was veronderstel om met sywurms te boer, maar daar was nie geskikte moerbeibome nie. Hulle moes gevolglik ander werk doen om te oorleef, bv as houtkappers. Wat opval, is dat hulle hulle eie huise gebou het en hoewel hulle Rooms-Katoliek was, het baie Afrikaanssprekend geword.
Die laaste hoofstuk is 'n verslag oor die outeur se besoek aan die bruin inwoners van Touwsranten, by Hoekwil, naby Wildernis. Nostalgie oor die misdaadvrye verlede word uitgespreek: "Daar was nie van bang gewees nie" (p 178). Hulle het selfvoorsienend of -onderhoudend gelewe, bv deur tuin te maak, vis te vang en hulle eie reënwater op te vang. "Ons het 'n selflewe gehad" (p 179).
In die boek is daar woorde wat 'n mens deesdae nie dikwels teëkom nie: klonkies, peutertjie, kardoes, geite, flertsie, moerskont, japtrap, lepellê, abba, taan, daardoer, skeut, verstug (weier), knerswarm, meeral, 'n raps [bietjie] meer, neffens, karring, wilde-als, salie, gansies/kankerbossie, boegoe, katel, ougat, omtes.
Let op die volgende samestellings: voormense, voorsingman, soetklinkriel, gribberklippe (ronde klippe), kwarriebos, tweeblaarkanniedood, woestynkameeldoringboom, fynhoutjies, bossiesmedisyne.
Daar is ongewone uitdrukkings: ry slaan (toustaan), hoerderigheid (hoerery).
Die kulturele verwantskap van wittes en bruines blyk uit: (1) geregte soos: asbrood, potbrood, askoek, roosterkoek, skuinskoek, soetpatats, patatbredie, stampmielies, mieliegruis, sousboontjies, souskluitjies, melksnysels, hardevet, potgebraaide vleis, kernaadjie/karmenaadjie, biltong, gougom- [suurvy-] jêm; (2) drinkgoed soos: heuningbier, gemmerbier, mampoer; (3) ander woorde soos: trekklavier, konsertina, boeremusiek, ramiekie/ramkiekie, makietie, tiekie-aand, dronknes.
Daar is treffende uitdrukkings soos: "Vleis is die heel beste groente" (p 51), "Die son sal vir jou vrek brand as hy jou vandag alleen kry" (p 57), "Ons gaan stories uit die voorste môres uit vertel" (p 67), "Die sinkplaat van die lewe" (p 71), "Die Boesmans is eenvoudig niemand se prioriteit nie" (p 76), "Tussen my en 'n diep, diep afgrond lê net bestuursvernuf en 'n skare engele" (p 157), "'n Blomtuintjie aanmekaar gesit" (p 187), "Daai tyd het kinders mos nog respekte gehad" (p 194), "Almal moes nog steeds hul kant bring" (p 195).
Soms bevraagteken ek die outeur se taalgebruik: "soveel so" (p 76, 162, 168), "nou se dae" (p 111, 119, 121, 186).
Van die bruin gemeenskappe wat in die boek ter sprake kom, is sterker Afrikaansgeöriënteerd as bv die in die Wes-Kaap. Hulle gebruik bv meer geredelik Afrikaanse voorname en vanne. Die name van die Namagroepe is bv Bondelswarts, Simon Kopers, Velskoendraers, Swartboois, Witboois. Namagehuggies het name soos Oswater, Soutrivier, Klipneus, Swartbank, Dawe-draais, Armstraat. Speletjies het Afrikaanse name: Frik-en-bal, Drie-Blik, Blik-vol-maak. Veral by die Basters is daar nie sprake dat hulle as swart beskou wil word nie. Verblydend is dat daar die tradisie was dat mense self hulle huise gebou het. Hulle het nie gesit en wag totdat hulle huise ontvang nie.
In haar resensie van hierdie boek skryf Joan Hambidge: "Is dit nodig dat ons Engelse woorde in gedigte indra as ons sulke lekker woorde soos beduimeld, smeuïg, adret en liemaak kan gebruik?" (Die Burger, 15 deser, p 13). Ons behoort onnodige Engelse woorde ook nie in lirieke, boektitels, eintlik enige Afrikaanse teks of spraak te gebruik nie.
Johannes Comestor


Kommentaar
Johannes
Dit verstom my dat jy so baie boeke kan lees, en daarna ’n puik preses van die inhoud kan gee vir ons hier op die Net. Jy stel dit so dat ’n mens ’n lus kry om dit ook te wil lees, ten spyte van ’n druk vir tyd. Ek het besluit ek gaan tog die moeite doen om die boek aan te koop en te lees.
Jaco Fourie
Johannes, wat ’n heerlike bekendstelling van Ilse Salzwedel se stories! Dit klink voorwaar na leesgenot uit die boonste rakke.
Pouveer
Wonderlik, Johannes. Jy moet vir ons ’n woorde- en uitdrukkingboek maak.
Ek het met "soveel so" groot geword. Kan nie onthou of ek dit soos "so by so" in Duitswes gekry het nie. Ek onthou ook "nou se dae", maar toentertyd is te ver agter om te onthou vanwaar. Heelpaar van die woorde klink soos Suid-Duitswes en Noordwes Kaap – soos jou tweede-laaste paragraaf suggereer.
Cornelius van Oudorp